Back to Languages

Afrikaans - Chapter 10 - Yunus

Translation by Imam M. A. Baker — Permalink

Verse 1 — Surah Yunus 10:1

Alief, Laam, Miem.1 Dit is verse van ’n Boek wat vol van wysheid is

Verse 2 — Surah Yunus 10:2

Is dit dan so vreemd vir die mense dat Ons aan iemand uit hulle midde geopenbaar en gesê het: Waarsku die mensdom, en bring ’n blye tyding aan die gelowiges dat daar by hul Heer ’n vooruitbepaalde beloning is. Die ongelowiges sê: Dit is duidelike towerkuns

Verse 3 — Surah Yunus 10:3

Voorwaar, julle Heer is Allah, Hy wat die hemele en die aarde in ses tydperke geskape het, en Hy is op die Troon van Mag bevestig en heers oor alles. Daar is geen bemiddeling nie, behal- we deur Sy goedkeuring. Dít is Allah, jul Heer; aanbid Hom daarom. Wil julle dan nie onthou nie

Verse 4 — Surah Yunus 10:4

Na Hom is julle almal se terugkeer. Dit is ’n ware belofte van Allah. Voorwaar, Hy bring die eerste skepping voort en bring dit daarna weer voort, sodat Hy almal wat goed doen met regverdigheid kan beloon. En vir die ongelowiges is daar ’n drank van kokende water, en ’n smartlike straf omdat hulle nie geglo het nie

Verse 5 — Surah Yunus 10:5

Dit is Hy wat die son as ’n skynende lig gemaak het, en ook die maan, en tye daraan gestel het, sodat julle die berekeninge en die aantal van jare kan ken. Allah het dit nie anders as met die waarheid geskape nie. Hy maak die tekens duidelik vir ’n volk wat weet

Verse 6 — Surah Yunus 10:6

Voorwaar, in die wisseling van die nag en dag, en in dít wat Allah in die hemele en op die aarde geskape het, is daar tekens vir ’n volk wat hulle plig nakom

Verse 7 — Surah Yunus 10:7

Voorwaar, hulle wat nie uitsien na die ontmoeting met Ons nie, en tevrede is met die lewe van hierdie wêreld en voldoening daarin vind, en hulle wat Ons verontagsaam

Verse 8 — Surah Yunus 10:8

hulle blyplek is die Vuur, omdat hulle dit verdien het

Verse 9 — Surah Yunus 10:9

Maar diegene wat glo en goed doen, hul Heer lei hulle deur die geloof; rivere in Tuine van Saligheid sal voor hulle voete vloei

Verse 10 — Surah Yunus 10:10

Hulle aanroep daarin sal wees: Heilig is U, o Allah! En hulle groet: Vrede! En die einde van hulle aanroep sal wees: Alle lof kom Allah toe, die Heer van die Wêrelde

Verse 11 — Surah Yunus 10:11

En indien Allah die gevolge van die kwaad vir die mense sou verhaas, soos hulle die goeie sou wou verhaas, sou hulle lot reeds bepaal gewees het. Maar hulle wat nie na die ontmoeting met Ons uitsien nie, Ons los hulle in hulle opstandigheid, sodat hul blindelings verder kan dwaal

Verse 12 — Surah Yunus 10:12

En wanneer die mens gekwel word, roep hy Ons aan, terwyl hy lê, of sit, of staan. Maar wanneer Ons sy benoudheid van hom af wegneem, dan gaan hy weer sy gang asof hy Ons nooit om hierdie verligting aangeroep het nie. So word sy dade dan vir die verkwisters aanloklik gemaak

Verse 13 — Surah Yunus 10:13

En waarlik, Ons het geslagte vóór julle vernietig omdat hulle kwaad gedoen het, en boodskappers het met duidelike bewyse na hulle gekom, tog wou hulle nie glo nie

Verse 14 — Surah Yunus 10:14

Toe, ná hulle, het Ons regeerders vir julle in die land aangestel, sodat Ons kan sien hoe julle te werk gaan

Verse 15 — Surah Yunus 10:15

En wanneer Ons duidelike tekens aan hulle voorgedra word, sê hulle wat nie na die ontmoeting met Ons uitsien nie: Bring vir ons ’n ander Qur’ãn, of verander hierdie een. Sê: Dit betaam my nie om dit te verander nie. Ek volg niks anders as wat aan my geopenbaar is nie. Waarlik, as ek my Heer nie gehoorsaam is nie, vrees ek die straf van ’n smartlike dag

Verse 16 — Surah Yunus 10:16

Sê: As Allah dit anders wou, sou ek dit nooit aan julle voorgedra, of Hy dit aan julle bekend gemaak het nie. Waarlik, tussen julle het ek ’n leeftyd deurgebring. Sal julle dan nie verstaan nie

Verse 17 — Surah Yunus 10:17

Wie is onregverdiger as hy wat ’n leuen teen Allah versin, of wat Sy tekens verloën? Die skuldiges sal gewis nie slaag nie

Verse 18 — Surah Yunus 10:18

En buiten Allah aanbid julle hulle wat julle nóg kwaad nóg goed kan aandoen, en julle sê: Húlle tree vir ons in by Allah. Sê: Wil julle Allah inlig omtrent iets wat in die hemel of op die aarde is en waar Hy niks van weet nie? Heilig is Hy, en hoog verhewe bo alles wat hulle met Hom vereenselwig

Verse 19 — Surah Yunus 10:19

En al die volkere was slegs één gemeenskap voordat hulle met mekaar begin verskil het. Was dit nie dat ’n woord van u Heer vooruitgegaan het nie, sou die saak, waaroor hulle met mekaar verskil het, reeds beslis gewees het

Verse 20 — Surah Yunus 10:20

En hulle sê: Waarom is daar geen teken van sy Heer aan hom gestuur nie? Sê: Slegs aan Allah behoort die Onsigbare. Wag dus. En waarlik, ek is saam met julle met die wagtendes

Verse 21 — Surah Yunus 10:21

En wanneer Ons ’n volk barmhartigheid laat smaak nadat teenspoed oor hulle gekom het, kyk! Dan begin hulle planne teen Ons tekens beraam. Sê: Allah is vinniger in die beraming van planne. Voorwaar, Ons boodskappers skryf alles op wat julle beplan

Verse 22 — Surah Yunus 10:22

Dit is Hý wat julle in staat stel om oor land en op die see te reis, totdat, wanneer hulle op die skip is en dit voor die bries uit vaar, en hulle daar genot in vind, ’n geweldige wind hulle agterhaal en golwe hulle van alle kante af oorval, en hulle reken dat hul sal vergaan; dan roep hulle Allah aan, opreg in hul gehoorsaamheid aan Hom: As U ons hiervan red, sal ons waarlik dankbaar wees

Verse 23 — Surah Yunus 10:23

Maar wanneer Hy hulle red, kyk! dan is hulle ten onregte opstandig. O mense! Waarlik, julle opstand is slegs teen julle self ~ ’n voordeel slegs vir hierdie lewe van hierdie wêreld. Daarna sal julle tot Ons terugkeer, en Ons sal julle inlig omtrent julle dade

Verse 24 — Surah Yunus 10:24

En die lewe op aarde is soos water wat Ons uit die wolke afstuur, en waardeur die plante groei en mens en dier eet en opgroei, totdat die aarde ’n vergulde kleedversiering verkry, en sy bewoners dink dat hulle die besitters daarvan is. En Ons gebod heers dag en nag, en Ons maak daarvan ’n gelyk gemaaide saadoes asof dit gister nie gedy het nie. Só maak Ons Ons tekens duidelik aan ’n nadenkende volk

Verse 25 — Surah Yunus 10:25

En Allah nooi na die Tuiste van Vrede, en lei wie Hy wil op die regte pad

Verse 26 — Surah Yunus 10:26

Vir diegene wat goeie dade doen, is daar ’n goeie beloning en nog meer. Geen donkerheid of skande sal hulle aangesigte versluier nie. Hulle sal die Paradys beërwe, en daarin sal hulle woon

Verse 27 — Surah Yunus 10:27

En hulle wat die kwaad verdien, vir hulle is daar ’n vergelding met die kwade en wat daaraan gelyk is, en skande sal hulle oorkom ~ hulle sal niemand hê om hulle teen Allah (se wraak) te beskerm nie ~ asof hulle gesigte met die digste duisternis van die nag bedek is. Hulle is die bewoners van die Vuur; daarin sal hulle woon

Verse 28 — Surah Yunus 10:28

En op die Dag waarop Ons hulle bymekaar bring, sal Ons aan hulle wat andere met Allah vereenselwig het, sê: Bly waar julle is, julle en julle afgode. Daarna sal Ons hulle skei, en hulle deelgenote sal sê: Dit was nie óns vir wie julle gedien het nie

Verse 29 — Surah Yunus 10:29

Allah is genoegsame getuie tussen ons en julle, dat ons heeltemal onbewus van julle diens aan ons was

Verse 30 — Surah Yunus 10:30

Dáár sal elke siel ondervind wat hy vooruitgestuur het, en hulle sal na Allah teruggebring word, hulle ware Beskermheer; en dít wat hulle hande gemaak het, sal hulle in die steek laat

Verse 31 — Surah Yunus 10:31

Sê: Wie voorsien julle van lewensmiddele, of wie beheer die gehoor en die gesig, en wie bring die lewe uit die dode voort, die dode uit die lewe? En wie reël alles? Hulle sal sê: Allah. Sê: Sal julle dan nie daarom téén die kwaad waak nie

Verse 32 — Surah Yunus 10:32

So is Allah dan julle ware Heer. Wat anders is daar buiten die waarheid, behalwe dwaling? En hoe het julle nie gedwaal nie

Verse 33 — Surah Yunus 10:33

So is die woord van julle Heer dan bewaarheid teen hulle wat in ongeloof gesondig het

Verse 34 — Surah Yunus 10:34

Sê: Is daar enigeen van julle afgode wat die eerste skepping voortgebring het, en dit weer kán voortbring? Sê: Allah bring die eerste skepping voort, en Hy kan dit herhaal. Hoe het julle nie afgedwaal nie

Verse 35 — Surah Yunus 10:35

Sê: Lei enige van julle afgode na die waarheid? Sê: Allah lei na die waarheid. Is Hy wat na die Waarheid lei dan nie waardiger om gevolg te word as hy wat nie die weg vind tensy hy gelei wórd nie? Wat makeer julle dan? Hoe oordeel julle

Verse 36 — Surah Yunus 10:36

En die meeste van hulle volg niks anders as hulle vermoedens nie. Vermoedens weeg nie teen die Waarheid op nie. Waarlik, Allah is die Kenner van julle dade

Verse 37 — Surah Yunus 10:37

En hierdie Qur’ãn is nie iets wat sonder Allah voortgebring kon word nie, maar dit is ’n bevestiging van alles wat daarvan voorafgegaan het, en ’n duidelik uiteensetting van die Boek; daar is geen twyfel aan nie: dit kom van die Heer van die Wêrelde

Verse 38 — Surah Yunus 10:38

Of hulle sê: Hy2 het dit versin. Sê: Bring dan ’n soortgelyke soera voort, en roep dan enigeen aan buiten Allah wat julle tot hulp kan wees, as julle opreg is

Verse 39 — Surah Yunus 10:39

Nee, hulle verwerp dít waarvan hulle nie kennis dra nie en waarvan die betekenis nog nie tot hulle deurgedring het nie. So het ook dié wat vóór hulle was dit verwerp; maar kyk wat was die einde van die boosdoeners

Verse 40 — Surah Yunus 10:40

En sommige van hulle glo, en sommige glo nie daarin nie. En julle Heer ken die onrusstokers goed

Verse 41 — Surah Yunus 10:41

En as hulle u verwerp, sê: Julle hoef julle nie te steur aan wat ek doen nie, en julle dade gaan my nie aan nie

Verse 42 — Surah Yunus 10:42

En daar is sommige van hulle wat na u luister. Maar kan u die dowes laat hoor, selfs al wíl hulle nie verstaan nie

Verse 43 — Surah Yunus 10:43

En daar is sommige wat u aankyk. Maar kan u die blindes die weg aanwys, selfs al wíl hulle nie sien nie

Verse 44 — Surah Yunus 10:44

Voorwaar, Allah doen hulle geen onreg aan nie, maar hulle doen hulself onreg aan

Verse 45 — Surah Yunus 10:45

En wanneer Hy hulle op die Dag bymekaar bring, sal dit wees asof hulle skaars ’n uur vertoef het, en hulle sal mekaar herken. Húlle wat die ontmoeting met Allah verwerp, en nie die regte weg volg nie, sal vergaan

Verse 46 — Surah Yunus 10:46

En as Ons u sommige van die dinge wat Ons aan hul belowe het, moet toon, of gee dat u moet sterf, dan is hulle terugkeer na Ons; en Allah is Getuie van hulle dade

Verse 47 — Surah Yunus 10:47

Envirelkenasieisdaar’nboodskapper. Wanneer dieboodskapper dan kom, is in die saak teen hulle met regverdigheid geoordeel, en geen onreg word hulle aangedoen nie

Verse 48 — Surah Yunus 10:48

En hulle sê: As julle opreg is, sê ons wanneer hierdie dinge vervul sal word

Verse 49 — Surah Yunus 10:49

Sê: Ek het geen mag oor enige skade of voordeel nie, behalwe dít wat Allah behaag. Daar is vir elke nasie ’n vaste tydperk. Wanneer dit verstryk, sal hulle die uur daarvan nie kan uitstel of vervroeg nie

Verse 50 — Surah Yunus 10:50

Sê: Weet julle of Sy straf julle in die dag of in die nag gaan oorval? Waarom sal die Misdadigers die koms daarvan dan verhaas

Verse 51 — Surah Yunus 10:51

Wanneer dit gebeur, sal julle dán glo? Hoe dan nou? En julle wou dit dan verhaas

Verse 52 — Surah Yunus 10:52

Dan sal aan die onregverdiges gesê word: Ondervind nou die ewige straf. Julle word nie anders vergeld as wat julle verdien het nie

Verse 53 — Surah Yunus 10:53

En hulle vra u: Is dit die waarheid? Sê: Ja, by my Heer, dit is beslis waar, en julle sal nooit daraan ontkom nie

Verse 54 — Surah Yunus 10:54

En as ’n siel kon, sou hy alles op aarde as ’n losprys wou aanbied. En hulle sal berou toon wanneer hulle die straf sien. En oor hulle sal met regverdigheid geoordeel word en hulle sal geen onreg aangedoen word nie

Verse 55 — Surah Yunus 10:55

Voorwaar, alles wat in die hemele en op die aarde is, behoort aan Allah. Waarlik, Allah se beloftes is waar, maar die meeste van hulle weet dit nie

Verse 56 — Surah Yunus 10:56

Hy gee die lewe en veroorsaak die dood, en tot Hom sal julle terug gebring word

Verse 57 — Surah Yunus 10:57

O mensdom! Julle Heer het vir julle ’n vermaning gestuur, en ’n geneesmiddel vir wat in julle harte omgaan, en leiding en barmhartigheid vir die gelowiges

Verse 58 — Surah Yunus 10:58

Sê: In die genade van Allah en in Sy barmhartigheid, dáárin moet hulle hul verheug. Dit is beter as al die dinge wat hulle opgaar

Verse 59 — Surah Yunus 10:59

Sê: Sien julle watter voorsiening Allah vir julle gestuur het? Hoekom veroorloof julle ’n gedeelte daarvan en nie die res nie? Sê: Het Allah julle dit beveel, of vesin julle ’n leuen teen Hom

Verse 60 — Surah Yunus 10:60

En wat dink hulle wat leuens teen Allah versin van die Dag van Herrysenis? Voorwaar, Allah is Genadevol teenoor die mensdom, maar die meeste van hulle is ondankbaar

Verse 61 — Surah Yunus 10:61

Julle hou jul nie besig met die goeie dinge nie en lees nie uit die Qur’ãn voor nie, en u werk ook nie; maar Ons is getuie daarvan wanneer julle dit doen. En niks op die aarde of in die hemele is vir jul Heer verborge nie, of dit gering in gewig is of groot; van alles is daar ’n duidelike verslag

Verse 62 — Surah Yunus 10:62

Waarlik, die vriende van Allah ken geen vrees nie, en hulle treur ook nie

Verse 63 — Surah Yunus 10:63

Hulle wat glo en godvresend is

Verse 64 — Surah Yunus 10:64

Vir hulle is daar goeie tyding omtrent hierdie lewe sowel as die Hiernamaals. Die woorde van Allah verander nie. Dit is voorwaar ’n groot toekenning

Verse 65 — Surah Yunus 10:65

Laat hulle woorde u nie verdrietig maak nie. Voorwaar, alle mag behoort aan Allah. Hy is Alleshorend, Alleswetend

Verse 66 — Surah Yunus 10:66

Waarlik, alles wat in die hemele en op die aarde is, behoort aan Allah. En diegene wat iets anders behalwe Allah aanbid en aanroep volg niks anders as suiwer vermoedens nie, en hulle vertel net leuens

Verse 67 — Surah Yunus 10:67

Dit is Hý wat vir julle die nag gemaak het sodat julle rus daarin kan vind, en die dag vol lig. Voorwaar, hierin is tekens vir ’n volk wat luister

Verse 68 — Surah Yunus 10:68

Hulle sê: Allah het vir Hom ’n seun verwek. Heilig is Hy! Hy is die Selfgenoegsame. Aan Hom behoort wat in die hemele en op die aarde is. Oor hierdie dinge is julle sonder gesag. Sê julle iets teen Allah wat julle nie kan bevestig nie

Verse 69 — Surah Yunus 10:69

Sê: Hulle wat leuens teen Allah versin, sal nie suksesvol wees nie

Verse 70 — Surah Yunus 10:70

In hierdie wêreld sal hulle ’n tydelike genot vind, daarna sal hulle tot Ons terugkeer, en hulle sal ’n streng tugtiging van Ons moet verduur omdat hulle nie geglo het nie

Verse 71 — Surah Yunus 10:71

En vertel aan hulle die verhaal van Noag, hoe hy aan sy volk gesê het: O my volk! As my verblyf hier en my vermaning deur die tekens van Allah vir julle aanstoot gee, dan vertrou ek op Allah: smee dus julle komplotte, julle en jul deelgenote. Laat julle komplotte julle dan geen twyfel veroorsaak nie, en laat dit téén my ten uitvoere gebring word, en verleen my geen uitstel nie

Verse 72 — Surah Yunus 10:72

Maar as julle van my af wegdraai, dan vra ek geen beloning van julle nie. My beloning is slegs by Allah en ek is beveel om met die onderdaniges te wees

Verse 73 — Surah Yunus 10:73

Maar hulle het hom verloën, daarom het Ons hom en hulle wat saam met hom in die ark was, gered; en Ons het hulle heersers gemaak, terwyl Ons hulle wat Ons tekens verwerp het, laat verdrink het Kyk dan hoe was die einde van hulle wat gewaarsku was

Verse 74 — Surah Yunus 10:74

Ná hom, het Ons toe boodskappers na hulle volk gestuur. Hulle het met duidelike bewyse na hul gegaan, maar hulle wou weer nie glo wat hulle voorheen verwerp het nie. So verseël Ons die harte van die oortreders

Verse 75 — Surah Yunus 10:75

En ná hulle het Ons Moses en Aäron met Ons tekens na Farao en sy kapteins gestuur, maar hulle optrede was arrogant, en hulle was ’n misdadige volk

Verse 76 — Surah Yunus 10:76

En toe Ons waarheid na hulle gebring is, het hulle gesê: Dit is gewis towerkuns

Verse 77 — Surah Yunus 10:77

Moses het gesê: Sê julle dít van die waarheid nadat dit tot julle gekom het? Is dít towerkuns? Towenaars is tog nooit suksesvol nie

Verse 78 — Surah Yunus 10:78

Hulle het geantwoord: Het julle na ons gekom om ons te verplig om te laat bly wat ons ons vaders sien volg het, sodat daar vir julle eerbied kan wees? Maar ons sal nie in julle twee glo nie

Verse 79 — Surah Yunus 10:79

En Farao het gesê: Bring elke towenaar na my

Verse 80 — Surah Yunus 10:80

En nadat die towenaars gekom het, het Moses aan hulle gesê: Werp wat julle wil werp

Verse 81 — Surah Yunus 10:81

En toe hulle klaar gewerp het, het Moses gesê: Wat julle ons getoon het, is slegs bedrog. Voorwaar, Allah sal dit tot niet maak. Allah laat nie toe dat die werk van die kwaaddoeners gedy nie

Verse 82 — Surah Yunus 10:82

En Allah sal die waarheid deur Sy woorde bevestig, selfs al is dit haatlik vir die misdadigers

Verse 83 — Surah Yunus 10:83

Maar uit vrees dat Farao en sy owerstes hulle sou vervolg, het niemand in Moses geglo nie, behalwe ’n paar van sy eie mense. En waarlik, Farao was ’n verwaande en hooghartige heerser

Verse 84 — Surah Yunus 10:84

En Moses het gesê: O my volk! As julle in Allah glo, stel dan julle vertroue in Hom; as julle onderdaniges is

Verse 85 — Surah Yunus 10:85

Hulle het geantwoord: Ons vertroue ís in Allah. Ons Heer! Maak ons nie ’n versoeking vir die onregverdige volk nie

Verse 86 — Surah Yunus 10:86

En red ons, deur U barmhartigheid, van die ongelowiges

Verse 87 — Surah Yunus 10:87

En aan Moses en sy broer het Ons geopenbaar: Laat julle volk in Egipte huise bou om in te woon, en maak julle huise plekke van aanbidding, en onderhou die gebed. En bring ’n blye tyding aan die gelowiges

Verse 88 — Surah Yunus 10:88

En Moses het gesê: Ons Heer! U het aan Farao en sy owerstes versierings en rykdom in die lewe van hierdie wêreld gegee, sodat hulle die mense van U pad afgelei het. Ons Heer! Vernie- tig hulle rykdom en verhard hulle harte, want hulle sal nie glo voordat hulle die pynlike straf ondervind het nie

Verse 89 — Surah Yunus 10:89

Hy het gesê: Jul gebed is verhoor: gaan daarom voort op die regte weg en volg nie die pad van die onkundiges nie

Verse 90 — Surah Yunus 10:90

En Ons het die Kinders van Israel oor die see geneem. Toe het Farao en sy skare hulle op ’n verdrukkende en aanvallende wyse agtervolg, totdat, toe die water hom verswelg, hy móés sê: Ek glo dat daar geen God is nie buiten Hom in Wie die Kinders van Israel glo, en ek is een van die onderdaniges

Verse 91 — Surah Yunus 10:91

Nóú eers? Voorheen was u ongehoorsaam en een van die onheilstokers

Verse 92 — Surah Yunus 10:92

Maar vandag sal Ons slegs u liggaam bewaar, sodat u ’n voorbeeld kan wees vir hulle wat ná u kom. En waarlik, die meeste van hulle gee nie ag op Ons tekens nie

Verse 93 — Surah Yunus 10:93

En waarlik, Ons het die Kinders van Israel in ’n aangename tuiste geplaas en hul van goeie dinge voorsien. Daarna het hulle nie met mekaar verskil totdat hulle weer kennis ontvang het nie. Voorwaar, op die Weeropstandingsdag sal ons uitspraak gee in die dinge waaroor hulle verskil het

Verse 94 — Surah Yunus 10:94

En indien u twyfel oor die dinge wat Ons aan u geopenbaar het, vra dan vir hulle wat die Boek vóór u gelees het. Die waarheid van u Heer het inderdaad tot u gekom; moet daarom nie twyfel nie

Verse 95 — Surah Yunus 10:95

En wees nie een van hulle wat die tekens van Allah verloën nie, anders sal u ook een van die verlorenes wees

Verse 96 — Surah Yunus 10:96

Voorwaar, hulle teen wie die woord van u Heer bewaarheid gaan word, wil nie glo nie

Verse 97 — Surah Yunus 10:97

Selfs al sou elke teken aan hulle getoon word, sal dit nie gebeur voordat hulle die pynlike straf ondervind nie

Verse 98 — Surah Yunus 10:98

En waarom was daar nie ’n stad wat geglo het, sodat hulle geloof hulle tot voordeel kon strek nie, behalwe die volk van Jona? Toe húlle geglo het, het Ons die straf van skande in hierdie wêreld van hulle verwyder, en hulle uitkoms verskaf tot tyd en wyl

Verse 99 — Surah Yunus 10:99

En het dit u Heer behaag, sou almal op aarde geglo het, elkeen. Sal u die mense dan dwing om te glo

Verse 100 — Surah Yunus 10:100

En geen siel kan glo sonder die toestemming van Allah nie. En Hy werp onreinheid oor hulle wat nie wíl verstaan nie

Verse 101 — Surah Yunus 10:101

Sê: Aanskou wat in die hemele en op die aarde is! Maar tekens en waarskuwings baat nie ’n volk wat nie wíl glo nie

Verse 102 — Surah Yunus 10:102

Wag hulle dan op dieselfde soort dae wat diegene geken het wat vóór hulle heengegaan het? Sê: Wag dan. Ek is saam met hulle wat wag

Verse 103 — Surah Yunus 10:103

Dan red Ons Ons boodskappers en die gelowiges ~ want die redding van die gelowiges is ook Ons plig

Verse 104 — Surah Yunus 10:104

Sê: O mense! As julle in die twyfel verkeer omtrent my godsdiens, weet dan dat ek nie daardie dinge aanbid wat julle buiten Allah aanbid nie, maar ek aanbid Allah alleen ~ Hy wat julle laat sterwe. En ek is beveel om ’n gelowige te wees

Verse 105 — Surah Yunus 10:105

en dat julle godsdiens opreg moet wees en nie dié van die heidene nie

Verse 106 — Surah Yunus 10:106

En roep nie buiten Allah dinge aan wat nóg voordeel kan bied nóg kwaad kan aandoen nie. En as u dít doen, dan is u waarlik een van die onregverdiges

Verse 107 — Surah Yunus 10:107

En as Allah u skade aandoen, dan kan niemand behalwe Hy dit weer goed maak nie; en as Hy goed aan u wil doen, dan kan niemand dit verhinder nie. Hy skenk dit aan Sy dienaars soos Hy wil. En Hy is die Vergewensgesinde, die Genadevolle

Verse 108 — Surah Yunus 10:108

Sê: O mense! Die waarheid van julle Heer het tot julle gekom; wie dit volg, doen dit ten bate van sy eie siel; en wie dwaal, dwaal tot

Verse 109 — Surah Yunus 10:109

sy eie nadeel. Oor julle waak ek nie. 110. En volg wat aan u geopenbaar is, en wees geduldig totdat Allah die oordeel voltrek. Hy is die Groot Regter