En onder die mense is daar diegene wat deur ydele praatjies, sonder kennis, ander van die pad van Allah wil laat afdwaal, en wat daarmee die spot dryf; vir hulle sal daar ’n vernederende straf wees
En wanneer Ons tekens aan hom voorgedra word, draai hy met minagting daarvan weg asof hy dit nie gehoor het nie en asof daar doofheid in sy ore is. Verkondig vir hom ’n pynlike straf aan
Hy het die hemele geskape sonder dat hulle op sigbare pilare rus, en Hy het op die aarde berge geplaas sodat dit nie saam met julle sal bewe nie, en Hy het daarop allerlei diere geplaas. En Ons stuur water af uit die wolke, waarmee Ons allerlei edel gewasse laat groei
En waarlik, Ons het wysheid aan Loekmaan geskenk, en gesê: Wees Allah dankbaar, want hy wat dankbaar is, is dankbaar ter wille van sy eie siel; en hy wat ondankbaar is: sekerlik is Allah Selfgenoegsaam, Lofwaardig
En toe het Loekmaan aan sy seun gesê: O my seun! Vereenselwig niemand met Allah nie; voorwaar, die toeskrywing van deelgenote aan Hom is ’n groot ongeregtigheid
En Ons het die mens aangaande sy ouers opgelê ~ sy moeder het hom in swakte op swakte gedra, en sy borsvoeding het twee jaar in beslag geneem ~ en gesê: Betuig dank aan My, en aan u ouers. Tot My is die uiteindelike terugkeer
En indien hulle3 by u daarop aandring dat u met My moet vereenselwig waarvan u geen kennis het nie, gehoorsaam hulle nie; en leef met hulle in hierdie wêreld saam op ’n behoorlike wyse, en volg die weg van hom wat hom tot My bekeer; dan sal u na My terugkeer en Ek sal u inlig oor wat u gedoen het
O my liewe seun! Al sou dit die gewig van ’n mosterdsaadjie wees, en al sou dit selfs in ’n rots gevind word, of in die hemel of op aarde, Allah sal dit sekerlik openbaar maak. Voorwaar, Allah is Aldeurdringend, Welbewus
En moenie u gesig met minagting vir die mense verberg nie, en gaan ook nie hoogmoedig in die land rond nie. Waarlik, Allah het geen verwaande grootprater lief nie
Sien julle dan nie dat Allah alles wat in die hemele en alles wat op die aarde is, vir julle in diens gestel het nie, en dat Hy Sy gunste ryklik aan julle, sowel uiterlik as innerlik, geskenk het nie? En onder die mense is daar hy wat argumenteer oor Allah sonder kennis of enige leiding of liggewende Boek
En wanneer aan hulle gesê word: volg dít wat Allah geopenbaar het, sê hulle: Nee, ons volg die weg waarop ons ons vaders gevind het. Wat? Selfs al het die duiwel hulle tot die Brandende Vuur uitgenooi
En wie nie glo nie, laat sy ongeloof u nie verdriet aandoen nie. Na Ons is hulle terugkeer, dan sal Ons hulle inlig oor wat hulle gedoen het. Waarlik, Allah weet goed wat in die innerlike aan- gaan
En as u hulle vra: Wie het die hemele en die aarde geskape? Sal hulle sekerlik antwoord: Allah. Sê: Alle lof behoort aan Allah! Maar die meeste van hulle weet dit nie
En as al die bome op die aarde penne was, en die oseaan, met nog sewe oseane daarby gevoeg, ink was, sou die woorde van Allah nie uitgeput kon word nie. Voorwaar, Allah is Almagtig, Allerwys
Sien u dan nie dat Allah die nag in die dag laat oorgaan, en dat Hy die dag in die nag laat oorgaan, en dat Hy die son en die maan aan julle diensbaar gemaak het ~ elk volg sy baan tot op ’n vasgestelde tyd ~ en dat Allah Bewus is van wat julle doen nie
Sien u dan nie dat die skepe op die see vaar deur die guns van Allah nie, sodat Hy julle Sy tekens kan wys? Waarlik, daarin is tekens vir elkeen wat geduldig en dankbaar is
En wanneer ’n golf soos ’n wolk hulle omhul, roep hulle na Allah, opreg in hulle gehoorsaamheid aan Hom. Maar wanneer Hy hulle veilig aan wal bring, is daar sommige wat ’n middeweg volg. En niemand ontken Ons tekens nie, behalwe elke onbetroubare, ondankbare skepsel
O mense! Wees bewus van jul Heer, en vrees die Dag wanneer geen vader sy seun iets sal baat nie, en die seun sy vader ook nie van enige nut sal wees nie. Voorwaar, die belofte van Allah is waar; laat die lewe van hierdie wêreld julle derhalwe nie bedrieg nie, en laat die aartsbedrieër julle ook nie omtrent Allah bedrieg nie
Voorwaar, Allah alleen besit kennis van die Uur. Hy stuur die reën af en hy weet wat in die baarmoeders is. En geen siel weet wat hy môre sal verdien nie. En geen siel weet in watter land hy sal sterf nie. Voorwaar, Allah is Alleswetend, Allerbewus