Die lof kom Allah toe, aan Wie alles behoort wat in die hemele en op die aarde is, en aan Hom behoort die lof in die Hierna- maals. En Hy is die Allerwyse, die Allesbewuste
Hy weet wat alles die aarde binnegaan en wat alles daaruit kom, en wat van die hemel afdaal en wat daarnatoe opstyg. En Hy is die Barmhartige, die Vergewensgesinde
En die ongelowiges sê: Die Uur sal nooit oor ons kom nie. Sê: Ja, by my Heer, die Kennisdraer van die Onsigbare, dit sal beslis oor julle kom! Selfs die gewig van ’n greintjie in die hemele of op die aarde, ontgaan hom nie ~ ook nie van iets kleiner of groter as dit nie ~ of dit staan in ’n duidelike boek
En hulle aan wie kennis gegee is, sien dat dit die Waarheid is wat van hulle Heer geopenbaar is, en dat dit lei na die pad van die Almagtige, die Lofwaardige
En die ongelowiges sê: Sal ons julle na ’n man bring wat julle sal vertel dat wanneer julle deur bederf uiteen sal val, julle weer opnuut geskape sal word
Het hy ’n leuen teen Allah versin, of is daar kranksinnigheid in hom? Nee, hulle wat nie in die Hiernamaals glo nie, sal onder die straf ly en is reeds vér afgedwaal
Sien hulle dan nie wat vóór hulle en wat agter hulle lê van die hemel en die aarde nie? As dit Ons behaag het, kon Ons hulle op aarde verneder of ’n gedeelte van die hemel op hulle laat neerkom het. Hierin is waarlik ’n teken vir elke dienaar wat hom tot Allah wend
En voorwaar, Ons het van Ons oorvloed aan Dawid geskenk, en gesê: O jul berge, en, o jul voëls! Verheerlik Allah saam met hom! En Ons het die yster vir hom saggemaak
En Ons het die wind aan Salomo diensbaar gemaak; dit het ’n maand se reis in die aand afgelê; en Ons het ’n bron van gesmelte koper vir hom laat vloei. En van die djien was daar diegene wat op bevel van sy Heer onder hom gewerk het. En wie van hulle ook al van Ons gebod afgewyk het, het Ons die straf van verbranding laat ondergaan
Hulle het vir hom gemaak net wat hy verlang het, soos sinagoges en beelde, en komme ~ soos groot reservoirs ~ en onbeweeglike kookpotte. O Huis van Dawid! Betuig dankbaarheid! ~ En baie min van My dienaars is ooit dankbaar
Maar toe Ons sy dood bepaal het, het niemand van hulle sy dood besef nie, voordat ’n diertjie van die aarde nie sy staf opgeknaag het nie. Maar toe dit neerval, het die djien duidelik gesien dat as hulle die Onsigbare geken het, hulle nie die vernederende foltering sou ondergaan het nie
Daar was sekerlik ’n teken vir Skeba in hulle woonplek: twee tuine aan die regterkant en aan die linkerkant. Daar is gesê: Eet van die spyse van julle Heer en wees Hom dankbaar. ’n Goeie land en ’n Vergewende Heer
Maar hulle het weggedraai; daarom het Ons ’n geweldige vloed oor hulle gestuur, en Ons het hulle tuine verander in tuine wat bitter vrugte oplewer, en daarin groei baie tamariske en min lotusbome
En Ons het tussen hulle en die stede wat Ons geseën het, ander stede gemaak, wat maklik gesien kon word; en Ons het die reis daarin maklik gemaak: Reis by nag en by dag veilig daardeur
Maar hulle het gesê: Ons Heer! Maak die skofte op ons reise langer. En hulle het hulself onreg aangedoen, daarom het Ons van hulle ’n legende gemaak en Ons het hulle totaal verstrooi. Daarin is sekerlik tekens vir elke geduldige, dankbare persoon
En hy het geen gesag oor hulle nie, maar dis net dat Ons hom wat in die Hiernamaals glo, kan uitken van hom wat daaraan twyfel. En u Heer is die Bewaarder van alle dinge
Sê: Roep diegene aan van wie julle beweer dat hulle gode buiten Allah is. Hulle besit selfs geen mag oor die gewig van ’n greintjie in die hemele of op die aarde nie; nóg het hulle ’n aandeel aan een van die twee, nóg het hy ’n enkele helper onder hulle
En geen voorspraak geld by Hom nie, behalwe vir diegene vir wie Hy dit toelaat. Wanneer die vrees van hulle weggeneem word, sê hulle: Wat is dit wat julle Heer gesê het? Hulle sal antwoord: Die Waarheid. En Hy is die Allerhoogste, die Grote
Sê: Wie gee aan julle ’n lewensonderhoud van die hemele en die aarde? Sê: Allah. En waarlik, een van ons groepe is op die regte pad, en die ander is verdwaal
En die ongelowiges sê: Ons glo nie in hierdie Qur’ãn nie, ook nie in dít wat dit voorafgegaan het nie. En kon u maar sien wanneer die kwaaddoeners voor hulle Heer versamel word, hoe hulle die skuld op mekaar sal pak! Diegene wat as swak beskou is, sal tot die hoogmoediges sê: Was dit nie deur julle nie, sou ons ook gelowiges gewees het
En die hoogmoediges sal aan hulle wat as swak beskou is, sê: Het ons julle van die leiding afgekeer nadat dit tot julle gekom het? Nee, julle dra self die skuld daarvan
En die swakkes sal aan die hoogmoediges sê: Nee, dis deur julle listige planne, wat julle dag en nag beraam het, om ons nie in Allah te laat glo nie en om gelykes naas Hom te stel. En hulle sal berou toon wanneer hulle die sraf sien. En om die nekke van die ongelowiges sal Ons kettings bind. Hulle sal slegs vergeld word vir wat hulle gedoen het
En dit is nie julle rykdom of julle kinders wat julle ’n aaansien in Ons oë gee nie; maar hulle wat glo en goeie werke doen, sal ’n dubbele beloning ontvang vir wat hulle doen, en hulle sal veilig wees in die hoogste plekke
Sê: Waarlik, my Heer vergroot die lewensonderhoud vir wie van Sy dienaars Hy wil; net so verminder Hy dit ook. Wat julle ook al goed bestee, Hy sal julle as beloning daarvoor nog meer gee. Hy is die Beste Voorsiener
Op daardie Dag sal die een vir die ander geen voor- of nadeel kan bewerk nie. En Ons sal aan hulle wat kwaad gedoen het, sê: Ondergaan die straf van die Vuur wat julle verloën het
En wanneer Ons duidelike tekens aan hulle voorgedra word, sê hulle: Dit is niemand anders nie as ’n man wat probeer om julle weg te keer van wat julle vaders aanbid het. En hulle sê: Dit is niks anders nie as ’n leuen wat versin is nie! En die ongelowiges sê van die Waarheid wanneer dit tot hulle kom: Dit is niks anders nie as openlike towerkuns
En diegene vóór hulle het die Waarheid verloën ~ en tog het hulle nog nie eens ’n tiende bereik van wat Ons aan hulle gegee het nie ~ maar hulle het My boodskappers tot leuenaars gemaak. Hoe vreeslik was My afkeur nie! Afdeling : Die Waarheid sal voorspoedig wees
Sê: Ek raai julle aan om slegs één ding te doen: dat julle in pare én een vir een, ter wille van Allah, opstaan en gaan nadink! Daar is geen kranksinnigheid in julle metgesel nie. Hy is vir julle slegs ’n waarskuwer voordat ’n streng straf kom
Sê: As ek dwaal, dan dwaal ek slegs tot my eie verlies; en indien ek reg gelei word, dan is dit deur wat my Heer aan my geopenbaar het. Voorwaar, Hy is die Alleshorende, die Nabysynde
En daar is ’n versperring geplaas tussen hulle en wat hulle verlang, soos ook voorheen die geval was met ander soos hulle. Hulle verkeer inderdaaad in ’n verontrustende twyfel