Back to Languages

Afrikaans - Chapter 59 - Al-Hashr

Translation by Imam M. A. Baker — Permalink

Verse 1 — Surah Al-Hashr 59:1

Alles wat in die hemele is en alles wat op aarde is, verheerlik Allah; en Hy is die Allermagtige, die Allerwyse

Verse 2 — Surah Al-Hashr 59:2

Dit is Hy wat die ongelowiges onder die Mense van die Boek uit hulle huise verdryf het met die eerste verstrooiing. Julle het nie gedink dat hulle sal weggaan nie, terwyl hulle gedink het dat hulle vestinge hulle teen Allah sal beskerm. Maar Allah het na hulle gekom van waar hulle dit nie verwag het nie, en skrik in hulle harte geplant ~ hulle het hulle huise met hulle eie hande en die hande van die gelowiges verniel. Wees gewaarsku, o julle wat oë het

Verse 3 — Surah Al-Hashr 59:3

En was dit nie dat Allah die verstrooiing vir hulle verorden het nie, sou Hy hulle sekerlik in hierdie wêreld nog swaarder gestraf het; en op hulle wag daar in die Hiernamaals die straf van die Vuur

Verse 4 — Surah Al-Hashr 59:4

Dit is omdat hulle weerstand teen Allah en Sy Boodskapper gebied het, en hulle wat weerstand teen Allah bied, laat hy weet dat Allah waarlik Streng is in die straf

Verse 5 — Surah Al-Hashr 59:5

Watter palmbome julle ook al afkap of op hulle wortels staande laat bly, dit het geskied met die verlof van Allah, sodat Hy die oortreders kan verneder

Verse 6 — Surah Al-Hashr 59:6

En wat Allah van hulle as buit aan Sy Boodskapper gegee het ~ julle het geen perd of kameel daarvoor aangespoor nie; maar Allah gee mag aan sy boodskappers teen wie Hy wil. En Allah het mag oor alle dinge

Verse 7 — Surah Al-Hashr 59:7

Wat Allah aan Sy Boodskapper as buit gegee het van die stads- bewoners van Mekka, is alleen vir Allah en Sy boodskapper en vir dié se familie, en vir die weeskinders en die armes en die reisigers, sodat dit nie net onder die rykes onder julle in omloop moet wees nie. En wat die Boodskapper julle ook al mag gee, neem dit aan, en wat hy ook al verbied, bly weg daarvan; en wees bewus van Allah. Waarlik, Allah is streng in die straf

Verse 8 — Surah Al-Hashr 59:8

Dít is vir die arm vlugtelinge wat van hulle huise en hul eiendom verdryf word, terwyl hulle die genade van Allah en Sy welbehae soek en Allah en Sy Boodskapper help; hulle is die opregtes

Verse 9 — Surah Al-Hashr 59:9

En diegene wat hulle in die stad gevestig en ander in die geloof voorgegaan het, het diegene lief wat by hulle toevlug neem, en ondervind geen gebrek in hulle harte weens dít wat aan die vlugtelinge gegee word nie, en hulle gee aan ander voorkeur bo hulself, al ondervind hulle self ook armoede. En wie van die gierigheid van hulle eie siele verlos is, hulle sal suksesvol wees

Verse 10 — Surah Al-Hashr 59:10

En diegene wat na hulle kom, sê: Ons Heer! Vergewe ons en ons broers wat ons voorafgegaan het in die geloof, en laat daar geen wrok in ons harte teen die gelowiges oorbly nie. Ons Heer! U is inderdaad Liefderyk, Genadevol

Verse 11 — Surah Al-Hashr 59:11

Het u nie die huigelaars gesien nie? Hulle sê aan hulle ongelo- wige broers onder die Mense van die Boek: Indien julle weg- gedryf word, sal ons sekerlik saam met julle gaan, en ons sal nooit iemand gehoorsaam as dit julle saak skade sal aandoen nie; en as julle aangeval word, sal ons julle sekerlik help. Maar Allah is getuie dat hulle sekerlik leuenaars is

Verse 12 — Surah Al-Hashr 59:12

As hulle verban word, sal die huigelaars nooit saam met hulle gaan nie, en as hulle aangeval word, sal hulle hul nooit help nie; en al sou hulle hulp verleen, sal hulle hul sekerlik die rug toekeer; dan sal hulle nie gehelp word nie

Verse 13 — Surah Al-Hashr 59:13

Die vrees in hulle harte vir julle is inderdaad groter as hulle vrees vir Allah. Dit is omdat hulle ’n volk is wat nie verstaan nie

Verse 14 — Surah Al-Hashr 59:14

Gesamentlik sal hulle julle nie beveg nie, behalwe in vesting- stede of van agter mure. Hulle vyandigheid onder mekaar is hewig. U sou dink dat hulle eensgesind is, maar hulle harte is verdeeld. Dit is omdat hulle ’n onverstandige volk is

Verse 15 — Surah Al-Hashr 59:15

Soos diegene vóór hulle onlangs die slegte gevolge van hulle dade ondervind het, sal daar vir hulle ook ’n pynlike straf wees

Verse 16 — Surah Al-Hashr 59:16

Soos die duiwel wanneer hy aan die mens sê Moenie glo nie. Maar as hy nie glo nie, sê hy: Ek is bevry van u ~ voorwaar, ek vrees Allah, die Heer van die wêrelde

Verse 17 — Surah Al-Hashr 59:17

Daarom sal die einde van beide wees, dat hulle saam die Vuur sal ingaan om daarin te bly. Dít is die loon van die kwaaddoeners

Verse 18 — Surah Al-Hashr 59:18

O julle gelowiges! Wees bewus van Allah, en laat elke siel ag gee op wat hy vir die dag van môre voorberei, en wees bewus van Allah. Waarlik, Allah is Bewus van wat julle doen

Verse 19 — Surah Al-Hashr 59:19

En wees nie soos diegene wat Allah vergeet nie, want Hy sal hulle hul eie siele laat vergeet. Húlle is die oortreders

Verse 20 — Surah Al-Hashr 59:20

Die bewoners van die Vuur en die bewoners van die Paradys is nie eenders nie. Die bewoners van die Paradys is die geluksaliges

Verse 21 — Surah Al-Hashr 59:21

As Ons hierdie Qur’ãn op ’n berg geopenbaar het, sou u sekerlik gesien het hoedat dit val en uiteenspat uit vrees vir Allah. En Ons hou hierdie gelykenis aan die mense voor sodat hulle kan nadink

Verse 22 — Surah Al-Hashr 59:22

Dít is Allah buiten Wie daar geen god is nie; die Kenner van die Onsigbare en die Sigbare; Hy is die Barmhartige, die Genadige

Verse 23 — Surah Al-Hashr 59:23

Dít is Allah buiten Wie daar geen god is nie; die Koning, die Heilige, die Skepper van Vrede, die Skenker van Veiligheid, die Bewaker van alles, die Allermagtige, die Hersteller van elke verlies, die Besitter van alle grootheid. Verhewe is Allah bo wat hulle met Hom vereenselwig

Verse 24 — Surah Al-Hashr 59:24

Hy is Allah, die Skepper, die Maker, die Vormer. Aan Hom behoort die reinste name. Alles wat in die hemele en op aarde is, verheerlik Hom; en Hy is die Allermagtige, die Allerwyse