En toe Moses aan sy volk gesê het: O my volk! Waarom belaster julle my terwyl julle weet dat ek Allah se boodskapper na julle is? Maar toe hulle afgedwaal het, het Allah hulle harte vehard. En Allah lei nie ’n opstandige volk nie
En toe Jesus, die seun van Maria, gesê het: O Kinders van Israel! Ek is Allah se boodskapper na julle, en ek bevestig dít wat vóór my reeds in die Tora was, en gee die blye tyding van ’n Boodskapper wat ná my sal kom; sy naam is Agmad. Maar toe hy met duidelike bewyse na hulle gekom het, het hulle gesê: Dit is louter towery
Dit is Hy wat Sy Boodskapper met die leiding en die ware godsdiens gestuur het, sodat Hy dit oor alle ander godsdienste mag laat seëvier, ofskoon die heidene dit haat
Julle moet glo in Allah en Sy Boodskapper en hard strewe in die weg van Allah met julle besittings en julle lewens. Dit is vir julle beter as julle dit maar weet
Hy sal julle sonde vergewe en julle in Tuine toelaat waardeur riviere vloei, en Hy sal aan julle toegang verleen tot pragtige wonings in Tuine van Ewigheid. Dít is die groot sukses
O julle gelowiges! Wees helpers op die weg van Allah, soos Jesus, die seun van Maria, aan sy dissipels gesê het: Wie is my helpers in die weg van Allah? Die dissipels het geantwoord: Ons is helpers in die weg van Allah! Toe het ’n gedeelte van die Kinders van Israel geglo en ’n ander gedeelte het nie geglo nie; en Ons het diegene wat geglo het teen hulle vyand gehelp, en hulle het die oorwinning behaal