Back to Languages

Afrikaans - Chapter 7 - Al-Araf

Translation by Imam M. A. Baker — Permalink

Verse 1 — Surah Al-Araf 7:1

Alief, Laam, Miem, Sôd

Verse 2 — Surah Al-Araf 7:2

’n Boek aan u geopenbaar ~ laat u bors daarom nie benoud wees nie ~ sodat u daarmee mag waarsku.. Dit is ’n aanmaning vir die gelowiges

Verse 3 — Surah Al-Araf 7:3

Volg wat julle Heer aan julle geopenbaar het, en volg geen ander beskermers nie, buiten Hom; hoe min onthou julle

Verse 4 — Surah Al-Araf 7:4

En hoeveel stede het Ons nie vernietig nie! So het Ons straf hulle gedurende die nag oorval of tydens hulle middagslaap

Verse 5 — Surah Al-Araf 7:5

Tog, toe Ons straf oor hulle gekom het, was hulle uitroep niks anders as: Ons was inderdaad kwaaddoeners

Verse 6 — Surah Al-Araf 7:6

En Ons sal hulle na wie die boodskappers gestuur was, sekerlik ondervra, en Ons sal die boodskappers ook ondervra

Verse 7 — Surah Al-Araf 7:7

Dan sal Ons hulle die waarheid vertel, want Ons is nooit afwesig nie

Verse 8 — Surah Al-Araf 7:8

En die oordeel op daardie Dag sal regverdig geskied; hulle wie se goeie dade swaar sal weeg, sal die suksesvolles wees

Verse 9 — Surah Al-Araf 7:9

En hulle wie se goeie dade maar lig sal weeg, het hulle siele benadeel omdat hulle ten opsigte van ons tekens onregverdig was

Verse 10 — Surah Al-Araf 7:10

En waarlik, Ons het julle op die aarde gevestig en julle daar van lewensmiddele voorsien; hoe weinig dankbaar is julle nie

Verse 11 — Surah Al-Araf 7:11

En Ons het julle geskape en vorm gegee; toe het Ons aan die engele gesê: Prostreer voor Adam. Hulle het geprostreer, behalwe Iblies; hy was nie een van dié wat geprostreer het nie

Verse 12 — Surah Al-Araf 7:12

Hy2 het gesê: Wat het u verhinder om u te prostreer toe Ek u gebied het? Hy het geantwoord: Ek is beter as hy; U het my uit vuur geskape, terwyl U hom uit klei geskape het

Verse 13 — Surah Al-Araf 7:13

Allah het gesê: Vertrek hiervandaan! Want dit is nie vir u om hier hoogmoedig te wees nie. Gaan heen! Want u is gewis een van die veragtelikes

Verse 14 — Surah Al-Araf 7:14

Hy het gesê: Verleen aan my uitstel tot aan die Dag waarop hulle opgewek sal word

Verse 15 — Surah Al-Araf 7:15

Allah het gesê: Aan u is uitstel verleen

Verse 16 — Surah Al-Araf 7:16

Hy het geantwoord: Omdat U my as dwalende veroordeel het, sal ek in U regte weg vir hulle op loer lê

Verse 17 — Surah Al-Araf 7:17

dan sal ek hulle sekerlik van voor, van agter, van die regter- en van die linkerkant byloop; en U sal die meeste van hulle nie dankbaar vind nie

Verse 18 — Surah Al-Araf 7:18

Allah het gesê: Gaan weg hiervandaan, verag en verworpe! Wie van hulle u ook al volg, Ek sal die Hel met julle almal vul

Verse 19 — Surah Al-Araf 7:19

O Adam! Woon u en u vrou in die Tuin, en eet waarvan u wil, maar nader hierdie boom nie, anders sal u tot die onregverdiges behoort

Verse 20 — Surah Al-Araf 7:20

Maar die duiwel het hulle slegte ingewinge ingeblaas, naamlik, dat hy aan hulle sou openbaar wat hul verborge swakhede is, en hy het gesê: U Heer het u hierdie boom verbied uit vrees dat u engele sal word of dat u onsterflik sal word

Verse 21 — Surah Al-Araf 7:21

En hy het aan hulle altwee gesweer: Ek is vir julle waarlik ’n opregte raadgewer

Verse 22 — Surah Al-Araf 7:22

So het hy dan hulle ondergang deur bedrog veroorsaak. En toe hulle van die vrugte van die boom geëet het, het hulle skaamte vir hulle duidelik geword, en toe begin albei hulself te bedek met die blare van die Tuin. En hulle Heer het na hulle geroep en gesê: Het Ek julle daardie boom nie verbied nie, en het Ek julle nie gesê dat die duiwel sekerlik julle openlike vyand is nie

Verse 23 — Surah Al-Araf 7:23

Hulle het geantwoord: Ons Heer! Ons het onsself onreg aan- gedoen en as U ons nie vergewe, en ons nie genade betoon nie, sal ons sekerlik verloorders wees

Verse 24 — Surah Al-Araf 7:24

Hy het gesê: Gaan heen ~ sommige van julle sal die vyande van ander wees. En daar is vir julle op die aarde ’n woonplek en voorsiening vir ’n bepaalde tyd

Verse 25 — Surah Al-Araf 7:25

Hy het gesê: Daarop sal julle lewe en daarop sal julle sterwe, en daarvandaan sal julle weer opgewek word

Verse 26 — Surah Al-Araf 7:26

O Kinders van Adam! Ons het vir julle klere gestuur om julle skaamte te bedek, en kleding vir verfraaiing, en kleding wat teen kwaad beskerm ~ dit is die beste. Dit is ’n boodskap van Allah waaruit julle kan leer

Verse 27 — Surah Al-Araf 7:27

O Kinders van Adam! Laat die duiwel julle nie verlei soos toe hy julle ouers uit die Tuin verdryf het en hulle klere van hulle afgetrek en hulle daardeur hul skaamte getoon het nie. Waarlik, hy sien julle, hy en sy gevolg, van waar julle hom nie kan sien nie. Ons het waarlik die duiwels vriende gemaak van die ongelo- wiges

Verse 28 — Surah Al-Araf 7:28

En wanneer hulle ’n slegte daad begaan en sê: Ons het gevind dat ons vaders dit gedoen het en dat Allah ons dit ook beveel. Sê: Waarlik, Allah gebied nie slegte dade nie. Sê julle iets van Allah waartoe julle nie die reg het nie

Verse 29 — Surah Al-Araf 7:29

Sê: My Heer beveel regverdigheid. En rig julle gesigte behoorlik op tydens elke aanbidding, en roep Hom aan in opregtheid en gehoorsaamheid. Soos Hy julle laat ontstaan het, so sal julle terugkeer

Verse 30 — Surah Al-Araf 7:30

Sommige het Hy reg gelei, maar wat die ander betref ~ die verdoemenis is hul verdiende loon. Waarlik, hulle het die duiwels in plaas van Allah as vriend geneem, en hulle dink dat hulle reg gelei is

Verse 31 — Surah Al-Araf 7:31

O Kinders van Adam! Wees oplettend op julle versiering tydens elke aanbidding, en eet en drink, maar verkwis nie; waarlik, Allah het die verkwisters nie lief nie

Verse 32 — Surah Al-Araf 7:32

Sê: Wie het die klere van Allah, wat Hy vir Sy dienaars gemaak het, en die goeie voorsiening, verbied? Sê: Dit is vir die gelowiges in die lewe van hierdie wêreld , en alleen vir hulle op die Weeropstandingsdag. Aldus maak Ons die tekens duidelik vir ’n volk wat begryp

Verse 33 — Surah Al-Araf 7:33

Sê: My Heer verbied slegs onfatsoenlikheid ~ hetsy openlik of in die geheim ~ en sonde en onregverdige verdrukking, en dat julle dít met Allah vereenselwig waartoe Hy julle geen reg verleen het nie, en dat julle van Allah sê wat julle nie kan bewys nie

Verse 34 — Surah Al-Araf 7:34

En vir elke nasie is daar ’n termyn: daarom, wanneer die tyd aanbreek, sal selfs nie eens ’n uur uitstel aan hulle verleen word nie, en ook kan dit nie verkort word nie

Verse 35 — Surah Al-Araf 7:35

O Kinders van Adam! As boodskappers vanuit jul midde My tekens aan julle verduidelik, dan moet julle teen die kwaad waak en goeie dade verrig, want dan sal geen vrees oor julle kom nie, en sal julle ook nie treur nie

Verse 36 — Surah Al-Araf 7:36

Maar hulle wat Ons tekens verloën en hoogmoedig wegdraai ~ hulle sal die bewoners van die Vuur wees; daarin sal hulle bly

Verse 37 — Surah Al-Araf 7:37

Wie is dan onregverdiger as hy wat ’n leuen teen Allah versin of Sy tekens verloën? Dit is hulle wat ’n lot sal ondergaan soos dit in die Boek verorden is; dan, wanneer Ons boodskappers by hulle aankom om hulle te laat sterwe, sal hulle sê: Waar is die dinge wat julle buiten Allah aangeroep het? Hulle sal antwoord: Hulle het ons verlaat. En hulle sal teen hulself getuig dat hulle ongelowiges was

Verse 38 — Surah Al-Araf 7:38

Hy sal sê: Gaan die Vuur binne, en bly saam met die volkere van die djien en mense wat vóór julle heengegaan het. Steeds wanneer ’n volk binnegaan, sal hy sy sustervolk vervloek; totdat, wanneer hulle die een na die ander daarin aankom, die laastes van hulle met betrekking tot die eerstes sal sê: Ons Heer! Húlle het ons laat afdwaal; gee hulle daarom dubbele straf. Hy sal sê: Daar is vir elkeen ’n dubbele straf; julle weet dit net nie

Verse 39 — Surah Al-Araf 7:39

En die eerstes sal aan die laastes sê: Julle het geen voorkeur bo ons nie; ondergaan daarom die straf vir wat julle verdien het

Verse 40 — Surah Al-Araf 7:40

Vir hulle wat Ons tekens verloën en hulself hoogmoedig daarvan wegkeer, sal die deure van die Hemel nie oopgemaak word nie, ook sal hulle nie die Tuin binnegaan nie voordat die kameel deur die oog van ’n naald kan gaan. So vergeld Ons die misdadigers

Verse 41 — Surah Al-Araf 7:41

’n Bed van Hel sal hulle kry en bo-oor hulle ’n bedekking daarvan. Want so vergeld Ons die onregverdiges

Verse 42 — Surah Al-Araf 7:42

En aangaande hulle wat glo en goed doen ~ Ons belas geen siel bo sy vermoë nie ~ hulle is die bewoners van die Tuin; daarin sal hulle bly

Verse 43 — Surah Al-Araf 7:43

Welke wrok daar ook al in hulle harte mag wees, Ons sal dit verwyder ~ riviere vloei verby hulle. En hulle sê: Alle lof kom Allah toe, Hy wat ons hierheen gelei het! En ons sou nie die weg gevind het nie, was dit nie dat Allah ons tereggewys het nie. Die boodskappers van Ons Heer het inderdaad die waarheid gebring. En dáár sal hulle toegeroep word: Dít is die Tuin wat as erfenis aan julle bemaak is vir alles wat julle gedoen het

Verse 44 — Surah Al-Araf 7:44

En die bewoners van die Tuin sal na die bewoners van die Vuur roep: Ons het bevind dat dít wat ons Heer ons belowe het, die waarheid is; het julle ook bevind dat wat julle Heer júlle belowe het die waarheid is? Hulle sal sê: Ja. Dan sal ’n woordvoerder onder hulle uitroep: Die vloek van Allah rus op die kwaad- doeners

Verse 45 — Surah Al-Araf 7:45

wat ander van die weg van Allah weerhou en wens om dit ongelyk te maak, en wat nie aan die Hiernamaals glo nie

Verse 46 — Surah Al-Araf 7:46

En tussen hulle is ’n sluier. En op die Verhewe Plekke is manne, wat almal aan hulle merktekens herken. En tot die bewoners van die Tuin roep hulle uit: Vrede op julle! Hulle het dit nog nie binnegegaan nie, hoewel hulle daarop hoop

Verse 47 — Surah Al-Araf 7:47

En wanneer hulle oë na die bewoners van die Vuur gerig is, sê hulle: Ons Heer! Plaas ons nie saam met die onregverdiges nie

Verse 48 — Surah Al-Araf 7:48

En die bewoners van die Verhewe Plekke sal uitroep tot die mense, wat hulle aan hul merktekens herken, en sê: Julle versamelinge van skatte en julle verwaandheid was vir julle geen- sins tot voordeel nie

Verse 49 — Surah Al-Araf 7:49

Is dít diegene van wie julle gesweer het dat Allah nie genade aan hulle sou skenk nie? Gaan die Paradys binne; daar sal geen vrees oor julle kom nie, nóg sal julle treur

Verse 50 — Surah Al-Araf 7:50

En die bewoners van die Vuur sal tot die bewoners van die Tuin uitroep: Giet water oor ons uit, of iets waarmee Allah julle voorsien het. Hulle sal antwoord: Waarlik, Allah het dit vir die ongelowiges verbied

Verse 51 — Surah Al-Araf 7:51

Wie hulle godsdiens as ydele pret en as ’n speletjie opgeneem het, en wie deur die lewe van die wêreld bedrieg is, sal Vandag deur Ons vergeet word, soos hulle die ontmoeting van hierdie Dag van hulle verontagsaam het, en soos hulle Ons tekens ontken het

Verse 52 — Surah Al-Araf 7:52

En sekerlik het Ons hulle ’n Boek gebring wat Ons met kennis verduidelik het, ’n leiding en ’n genade vir ’n volk wat glo

Verse 53 — Surah Al-Araf 7:53

Wag hulle op iets anders as die finale gevolge daarvan? Op die Dag wanneer die finale gevolge daarvan kom, wat hulle vantevore verontagsaam het, sal hulle sê: Inderdaad het die boodskappers van Ons Heer die waarheid gebring. Is daar enige bemiddelaars wat ten gunste van ons sal pleit? Kon ons maar teruggestuur word, sodat ons beter dade kon doen as dié wat ons gedoen het! Waarlik, hulle het hul siele verloor, en dít wat hulle versin het, het hulle in die steek gelaat

Verse 54 — Surah Al-Araf 7:54

Waarlik, julle Heer is Allah, wat die hemele en die aarde in ses tydperke geskape het, en Hy is op die Troon van Mag gevestig. Hy laat die nag die dag omhul in ’n strenge opeenvolging van dag en nag. Die son en die maan en die sterre word deur Sy gebod in diens gestel. Voorwaar, die skepping en die gebod is Syne. Geseënd is Allah, die Heer van die Wêrelde

Verse 55 — Surah Al-Araf 7:55

Roep julle Heer ootmoedig en in die geheim aan. Hy het die oortreders waarlik nie lief nie

Verse 56 — Surah Al-Araf 7:56

En skep geen wanorde op die aarde nadat dit georden is nie, en roep Hom aan met vrees en hoop. Gewis, die barmhartigheid van Allah is vir die weldoeners naby

Verse 57 — Surah Al-Araf 7:57

En dit is Hy wat die winde as draers van blye tyding vóór Sy barmhartigheid uitstuur; totdat Ons hulle, wanneer hulle ’n groot wolk dra, na ’n dorre land aandrywe; daarna stuur Ons die water daarop af, en bring daardeur alle soorte vrugte voort. So wek Ons die dooie op, sodat julle daaruit kan leer

Verse 58 — Surah Al-Araf 7:58

En die goeie land ~ die plantegroei kom daar in oorvloed voort deur die gebod van die Here. En die swak land ~ dit lewer alleen skaarste op. So herhaal Ons die tekens vir ’n volk wat dankbaar is

Verse 59 — Surah Al-Araf 7:59

Waarlik, Ons het Noag na sy volk gestuur, en hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen God nie buiten Hom. Ek vrees vir julle die straf van ’n groot Dag

Verse 60 — Surah Al-Araf 7:60

Die leiers van sy volk het geantwoord: Ons merk dat u grootliks dwaal

Verse 61 — Surah Al-Araf 7:61

Hy het gesê: O my volk! Daar is geen dwaling in my nie, maar ek is ’n boodskapper van die Heer van die Wêrelde

Verse 62 — Surah Al-Araf 7:62

Ek dra die boodskappe van my Heer oor en gee julle goeie raad, en ek weet deur Allah wat julle nie weet nie

Verse 63 — Surah Al-Araf 7:63

Verwonder julle jul dat ’n vermaning van julle Heer tot julle kom deur ’n man uit jul midde, en dat hy julle durf waarsku sodat julle teen die sonde kan waak en daar barmhartigheid aan julle bewys kan word

Verse 64 — Surah Al-Araf 7:64

Maar hulle het hom verloën; Ons het hom en wie saam met hom in die ark was, gered, en Ons het diegene wat Ons tekens verwerp het, laat verdrink. Hulle was inderdaad ’n blinde volk

Verse 65 — Surah Al-Araf 7:65

En na die volk van Aad het Ons hul broer Hüd gestuur. Hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen ander God buiten Hom nie. Sal julle dan nie teen die sonde waak nie

Verse 66 — Surah Al-Araf 7:66

Die ongelowige leiers van sy volk het gesê: Ons sien u aan as ’n dwaas en ons dink dat u ’n leuenaar is

Verse 67 — Surah Al-Araf 7:67

Hy het geantwoord: O my volk! Daar is geen dwaasheid in my nie, maar ek is ’n boodskapper van die Heer van die Wêrelde

Verse 68 — Surah Al-Araf 7:68

Ek dra aan julle die boodskappe van die Here oor, en ek is vir julle ’n eerlike raadgewer

Verse 69 — Surah Al-Araf 7:69

Verwonder julle jul dat ’n vermaning van julle Heer na julle gekom het deur ’n man uit jul midde, en dat hy julle durf waarsku? Onthou hoe Hy julle ná die volk van Noag as opvol- gers aangestel het, en julle oorvloedig in mag laat toeneem het. Dink daarom aan die gunste van Allah sodat julle suksesvol kan wees

Verse 70 — Surah Al-Araf 7:70

Hulle het gesê: Het u na ons gekom sodat ons Allah alleen moet aanbid, en moet prysgee wat ons vaders aanbid het? Laat u dreigemente dan op ons neerkom, indien u opreg is

Verse 71 — Surah Al-Araf 7:71

Hy het geantwoord: Inderdaad het daar straf en toorn van julle Heer op julle neergedaal. Argumenteer julle met my omtrent name wat julle en julle vaders aangeroep het? Allah het aan hulle geen gesag verleen nie. Wag dan; ek is saam met julle onder die wagtendes

Verse 72 — Surah Al-Araf 7:72

So het Ons hom en diegene saam met hom deur Ons barmhartig- heid gered, en Ons het die lewenswortels afgesny van hulle wat Ons tekens verwerp het en ongelowig was

Verse 73 — Surah Al-Araf 7:73

En na Thamoed het Ons hul broer Salieg gestuur. Hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen ander God buiten Hom nie. Duidelike bewyse het inderdaad tot julle gekom. Dit is die kamelin van Allah, ’n teken vir julle. Laat haar daarom op Allah se aarde wei, en doen haar geen leed aan nie, anders sal ’n smartlike straf julle oorval

Verse 74 — Surah Al-Araf 7:74

En onthou julle hoe Hy ná Aad julle as opvolgers aangestel het, en julle in die land gevestig het? Julle het paleise op die vlaktes gebou, en julle het die berge uitgehol vir huise. Dink daarom aan die gunste van Allah, en verrig geen verderf op die aarde nie

Verse 75 — Surah Al-Araf 7:75

Die verwaande leiers van sy volk het aan die gelowiges, wat deur hulle as swak beskou is, gesê: Weet julle waarlik dat Salieg deur sy Heer gestuur is? Hulle het geantwoord: Ons glo waarlik in dít waarmee hy gestuur is

Verse 76 — Surah Al-Araf 7:76

Dié wat aanmatigend was, het gesê: Voorwaar, ons glo nie in dít waarin u glo nie

Verse 77 — Surah Al-Araf 7:77

Toe het hulle die kniesening van die kamelin afgesny en teen die gebod van hulle Heer gerebelleer, en gesê: O Salieg, laat u dreigemente oor ons neerkom indien u ’n boodskapper is

Verse 78 — Surah Al-Araf 7:78

Toe het die aardbewing hulle oorweldig en hulle was bewe- ginglose liggame in hul huise

Verse 79 — Surah Al-Araf 7:79

Toe het Salieg hom van hulle weggedraai en gesê: O my volk! Ek het julle die boodskap van my Heer gebring en julle goeie raad gegee, maar julle het die goeie raadgewers nie lief nie

Verse 80 — Surah Al-Araf 7:80

En Lot het Ons gestuur toe hy aan sy volk gesê het: Julle verrig gruwels soos niemand ter wêreld vóór julle nog verrig het nie

Verse 81 — Surah Al-Araf 7:81

Waarlik, julle benader mans met wellus in plaas van vroue. Julle is ’n volk wat die perke oorskry

Verse 82 — Surah Al-Araf 7:82

Die antwoord van sy volk was slegs: Verdryf hulle uit die stad, want hulle is manne wat hulself rein wil hou

Verse 83 — Surah Al-Araf 7:83

Dus het Ons hom en sy volgelinge gered, met die uitsondering van sy vrou ~ en sy was een van hulle wat moes agterbly

Verse 84 — Surah Al-Araf 7:84

En Ons het ’n reën oor hulle laat neergiet. Kyk nou wat was die einde van die skuldiges

Verse 85 — Surah Al-Araf 7:85

En Ons het hul broer Shoe-eib na Mede gestuur. Hy het gesê: O my volk! Aanbid Allah! Julle het geen God buiten Hom nie. Jul Heer het duidelike bewyse aan julle getoon. Gee daarom volle maat en gewig, en verminder van niemand s’n iets nie, en rig geen onheil in die land aan ná die ordening daarvan nie. Dit is vir julle beter om gelowiges te wees

Verse 86 — Surah Al-Araf 7:86

En lê nie op elke pad op die loer om hom wat glo te bedreig en van die weg van Allah af te hou nie, en om Sy weg ongelyk te maak nie. En onthou hoe Hy julle vermenigvuldig het toe julle min was, en kyk wat was die einde van die onheilsaaiers

Verse 87 — Surah Al-Araf 7:87

En as daar tussen julle ’n groep is wat glo in dít waarmee ek gestuur is, en ’n ander groep wat nie glo nie, wag dan geduldig totdat Allah uitspraak tussen ons sal gee; en Hy is die Beste Regter

Verse 88 — Surah Al-Araf 7:88

Die verwaande leiers van sy volk het gesê: Ons sal jou, Sjoe-eib, en hulle wat saam met jou glo, sekerlik uit ons stad verdryf tensy julle tot óns godsdiens terugkeer. Hy het gesê: Selfs al haat ons dit

Verse 89 — Surah Al-Araf 7:89

Ons sou ’n leuen teen Allah versin as ons tot u godsdiens terugkeer nadat Allah ons daarvan gered het. En dit pas ons nie om daarna terug te keer nie, behalwe as dit Allah, ons Heer, sou behaag. Ons Heer omvat alle dinge in Sy kennis. Op Allah vertrou ons. Oordeel daarom, ons Heer, met geregtigheid tussen ons en ons volk; U is die Beste Regter

Verse 90 — Surah Al-Araf 7:90

En die leiers van sy volk, wat ongelowig was, het gesê: As julle Sjoe-eib volg, sal julle waarlik verloorders wees

Verse 91 — Surah Al-Araf 7:91

Daarom het ’n aardbewing hulle oorval, en hulle liggame was verstar in hul huise

Verse 92 — Surah Al-Araf 7:92

Hulle wat Shoe-eib tot leuenaar gemaak het, was asof hulle nog nooit daarin gewoon het nie ~ hulle wat Shoe-eib ’n leuenaar genoem het, hulle was die verloorders

Verse 93 — Surah Al-Araf 7:93

Daarna het hy hom van hulle teruggedraai en gesê: O my volk! Ek het die boodskappe van my Heer aan julle oorgedra en ek het julle van goeie raad bedien; waarom sou ek dan oor ’n ongelowige volk treur

Verse 94 — Surah Al-Araf 7:94

En Ons het nog nooit ’n profeet na ’n stad gestuur sonder dat ons die inwoners daarvan met teëspoed en lyding getref het nie, sodat hulle hulself kan verootmoedig

Verse 95 — Surah Al-Araf 7:95

Daarna het Ons die kwaad met goed vervang, totdat hulle seëninge oorvloedig geword het en hul gesê het: Lyding en geluk het waarlik aan ons vaders geraak. So het Ons hulle dan oorrompel terwyl hulle dit nie besef het nie

Verse 96 — Surah Al-Araf 7:96

En indien die inwoners van die stede maar geglo en bewus van Allah was, sou Ons sekerlik die seëninge van die hemele en die aarde vir hulle oopgestel het. Maar hulle het Ons verwerp, daarom het Ons hulle oorweldig omdat hulle dit verdien het

Verse 97 — Surah Al-Araf 7:97

Is die stedelinge dan beveilig teen Ons straf as dit snags oor hulle sou kom, terwyl hulle slaap

Verse 98 — Surah Al-Araf 7:98

Of is hulle teen Ons straf beveilig as dit soggens oor hulle sou kom, terwyl hulle speel

Verse 99 — Surah Al-Araf 7:99

Is hulle dan beveilig teen Allah se voorneme? Maar niemand waan homself veilig teen Allah se voorneme nie, behalwe hulle wat vergaan

Verse 100 — Surah Al-Araf 7:100

Is dit nog nie duidelik vir hulle wat die aarde van sy vroeëre bewoners beërwe het nie, dat, as dit Ons behaag, Ons hulle om hul ongeregtigheid se onthalwe sal verdelg, en hulle harte sal verseël sodat hulle nie sal luister nie

Verse 101 — Surah Al-Araf 7:101

So was dit in die stede waarvan Ons al iets aan julle vertel het. En Ons boodskappers het waarlik met duidelike bewyse na hulle gegaan, maar hulle wou weer nie glo wat hulle voorheen verwerp het nie. So verseël Allah die harte van die ongelowiges

Verse 102 — Surah Al-Araf 7:102

En by die meeste van hulle het Ons geen getrouheid aan die verbond gevind nie; en Ons het gevind dat die meeste van hulle oortreders was

Verse 103 — Surah Al-Araf 7:103

En daarna het Ons Moses met Ons tekens na Farao en sy kapteins gestuur, maar hulle het nie daaraan geglo nie. Kyk hoe was die einde van die onheilsaaiers

Verse 104 — Surah Al-Araf 7:104

En Moses het gesê: O Farao! Ek is waarlik ’n boodskapper van die Heer van die Wêrelde

Verse 105 — Surah Al-Araf 7:105

terwyl ek daarop ag slaan om niks behalwe die waarheid omtrent Allah te sê nie. Ek het inderdaad met duidelike bewyse van jul Heer tot julle gekom; laat die Kinders van Israel daarom met my saamgaan

Verse 106 — Surah Al-Araf 7:106

Hy het gesê: As u met ’n teken gekom het, toon dit dan, as u die waarheid praat

Verse 107 — Surah Al-Araf 7:107

Toe het hy3 sy stok weggegooi, en kyk, dit was ’n slang

Verse 108 — Surah Al-Araf 7:108

En hy het sy hand te voorskyn gehaal, en kyk, dit was wit (en deurskynend) vir die aanskouers

Verse 109 — Surah Al-Araf 7:109

Die kapteins van Farao se volk het gesê: Hy is gewis ’n bedrewe towenaar

Verse 110 — Surah Al-Araf 7:110

Hy is voornemens om julle uit jul land te verdryf. Wat raai julle aan

Verse 111 — Surah Al-Araf 7:111

Hulle het gesê: Gee aan hom en sy broer uitstel, en stuur roepers die stede in

Verse 112 — Surah Al-Araf 7:112

om elke bedrewe towenaar na u te bring

Verse 113 — Surah Al-Araf 7:113

En die towenaars het na Farao gekom en gesê: Ons moet natuurlik ’n beloning ontvang, as ons die oorhand kry

Verse 114 — Surah Al-Araf 7:114

Hy4 het geantwoord: Ja, en julle sal sekerlik onder my uitverkorenes wees

Verse 115 — Surah Al-Araf 7:115

Hulle het gesê: O Moses! Sal u werp, of sal ons eerste werp

Verse 116 — Surah Al-Araf 7:116

Hy het geantwoord: Werp! En toe hulle werp, het hulle die oë van die mense bedrieg en hulle bang gemaak, en hulle het ’n knap towervertoning gelewer

Verse 117 — Surah Al-Araf 7:117

En Ons het aan Moses geopenbaar: Werp u stok neer, en kyk! dit het al hulle valsheid verorber

Verse 118 — Surah Al-Araf 7:118

So is die waarheid dan bevestig, en dít wat hulle gedoen het, het niksbeduidend geword

Verse 119 — Surah Al-Araf 7:119

So is hul dan daar verslaan en hulle moes vernederd terugkeer

Verse 120 — Surah Al-Araf 7:120

En die towenaars het op die grond neergeval

Verse 121 — Surah Al-Araf 7:121

en gesê: Ons glo in die Heer van die Wêrelde

Verse 122 — Surah Al-Araf 7:122

die Heer van Moses en Aäron

Verse 123 — Surah Al-Araf 7:123

Farao het geantwoord: Julle glo in hom voordat ek julle daartoe toestemming gegee het? Dit is waarlik ’n sameswering wat julle in die stad gesmee het, sodat julle die bewoners daaruit kan dryf; maar julle sal dit weldra te wete kom

Verse 124 — Surah Al-Araf 7:124

Ek sal gewis julle hande en julle voete aan teenoorgestelde kante laat afkap, dan sal ek julle almal saam laat kruisig

Verse 125 — Surah Al-Araf 7:125

Hulle het geantwoord: Ons sal dan waarlik na Ons Heer terugkeer

Verse 126 — Surah Al-Araf 7:126

En u neem alleen wraak op ons omdat ons in die tekens van ons Heer geglo het toe dit na ons gekom het. Ons Heer! Verleen standvastigheid aan ons, en gee dat ons in onderdanigheid aan U mag sterf

Verse 127 — Surah Al-Araf 7:127

En die kapteins van Farao se volk het gesê: Sal u Moses en sy volk toelaat om in die land wanorde te skep en u gode te versaak? Hy het geantwoord: Ons sal hulle seuns ombring en hulle vroue spaar; en waarlik, ons is sterker as hulle

Verse 128 — Surah Al-Araf 7:128

Moses het aan sy volk gesê: Smeek Allah om hulp en wees geduldig. Voorwaar, die aarde behoort aan Allah ~ Hy gee dit as erfdeel aan Sy dienaars soos dit Hom behaag. En die einde behoort aan die godvresendes

Verse 129 — Surah Al-Araf 7:129

Hulle het geantwoord: Ons is vervolg voordat u tot ons gekom het en sedert u tot ons gekom het. Hy het gesê: Miskien gaan jul Heer julle vyande verdelg, en julle as regeeerders oor die land aanstel, dan sal Hy sien hoe julle optree

Verse 130 — Surah Al-Araf 7:130

En Ons het waarlik die volk van Farao met droogte en skaarste van vrugte beproef, sodat hulle kennis kon neem

Verse 131 — Surah Al-Araf 7:131

Maar wanneer iets goeds hulle toegeval het, het hulle gesê: Dit kom ons toe. En wanneer iets slegs oor hulle gekom het, dan het hulle die teëspoed toegeskryf aan Moses en dié wat saam met hom was. Maar voorwaar, hulle teëspoed is eweneens van Allah, hoewel die meeste van hulle dit nie weet nie

Verse 132 — Surah Al-Araf 7:132

En hulle het gesê: Watter tekens u ook aan ons mag toon om ons daarmee te mislei ~ in u sal ons waarlik nie glo nie

Verse 133 — Surah Al-Araf 7:133

Toe het Ons die wydverspreide dood, en die sprinkane en die luise en die paddas en die bloed ~ as duidelike tekens ~ oor hulle neergestuur. Dog hulle het hulself hoogmoedig gedra, en hulle was ’n misdadige volk

Verse 134 — Surah Al-Araf 7:134

En toe die plaag hulle oorval het, het hulle gesê: O Moses! Pleit vir ons by u Heer, want Hy het ’n verbond met u gesluit. As u

Verse 135 — Surah Al-Araf 7:135

Maar toe Ons die plaag, waaronder hulle vir ’n bepaalde tyd moes ly, van hulle verwyder het, kyk! toe het hulle hul belofte verbreek

Verse 136 — Surah Al-Araf 7:136

Daarom het Ons dan vergelding geëis en hulle in die see verdrink, omdat hulle Ons tekens verwerp en verontagsaam het

Verse 137 — Surah Al-Araf 7:137

En Ons het hulle wat as swakkelinge beskou is, die oostelike deel van die land laat erwe én die westelike deel, wat Ons geseën het. En die blye tyding van u Heer is vir die Kinders van Israel vervul, omdat hulle geduldig was. En alles wat Farao en sy volk gemaak het en wat hulle gebou het, het Ons vernietig

Verse 138 — Surah Al-Araf 7:138

En Ons het die Kinders van Israel oor die see geneem. Toe kom hulle by ’n volk wat aan afgode geheg was. Hulle het gesê: O Moses! Maak vir ons ’n god soos die gode wat húlle het. Hy het geantwoord: Julle is waarlik ’n onkundige volk

Verse 139 — Surah Al-Araf 7:139

Aangaande hierdie dinge: dít waarmee hulle hul besig hou, sal vernietig word; en alles wat hulle hande doen, is tevergeefs

Verse 140 — Surah Al-Araf 7:140

Hy het gesê: Sal ek vir julle ’n ander god as Allah soek, terwyl Hy julle bo al die skeppings laat uitblink het

Verse 141 — Surah Al-Araf 7:141

En onthou hoe Ons julle verlos het van die volk van Farao, wat julle aan ’n strawwe marteling onderwerp het deur julle seuns om te bring en julle vroue te spaar. En daarin was ’n swaar beproewing van julle Heer

Verse 142 — Surah Al-Araf 7:142

En Ons het vir Moses dertig nagte aangewys en nog tien bygesit, en die aangewese tyd van sy Heer was veertig nagte; en Moses het aan sy broer Aäron gesê: Wees my plaasvervanger onder die volk in my afwesigheid, en tree goed op, en volg nie die weë van die onrusstokers nie

Verse 143 — Surah Al-Araf 7:143

En toe Moses op Ons vasgestelde tyd aangekom en sy Heer tot hom gespreek het, het hy gesê: My Heer! Toon U aan my, sodat ek U kan aanskou. Hy het geantwoord: U kan My nie aanskou nie, maar kyk na die berg; en as dit op sy plek bly, dan sal u My kan sien. Toe sy Heer dus Sy glorie aan die berg geopenbaar het, het Hy dit aan stukke laat breek en Moses het bewusteloos neergeval. Toe hy daarna weer tot sy bewussyn kom, het hy gesê: Heilig is U! Tot U wend ek my, en ek is die eerste gelowige

Verse 144 — Surah Al-Araf 7:144

Hy het gesê: O Moses! Ek het u deur My boodskappe en My woorde bo die mense uitverkies. Hou u daarom vas aan wat Ek u gegee het, en wees dankbaar

Verse 145 — Surah Al-Araf 7:145

En Ons het vir hom op tablette allerhande waarskuwings en ’n duidelike uitleg van alle dinge gegee. Hou dus daaraan vas, en beveel ook u volk om daaraan vas te hou. Ek sal julle weldra die tuiste van die oortreders toon

Verse 146 — Surah Al-Araf 7:146

En Ek sal hulle wat op aarde ten onregte hoogmoedig wandel, van My tekens laat wegdraai. En hoewel hulle allerlei tekens sien, sal hulle nie daarin glo nie, en as hulle die weg van regverdigheid sien, sal hulle nie daarop wandel nie; maar as hulle die pad van dwaling sien, sal hulle daarop loop. Dit is omdat hulle Ons tekens verloën en verontagsaam het

Verse 147 — Surah Al-Araf 7:147

En hulle wat Ons tekens verwerp en die ontmoeting van die Hiernamaals verloën ~ hulle werke sal verlore gaan. Sal hulle dan vir iets anders beloon word as wat hulle gedoen het

Verse 148 — Surah Al-Araf 7:148

En die volk van Moses het in sy afwesigheid ’n kalf uit hulle ornamente vervaardig ~ ’n lewelose liggaam, wat ’n loeiende geluid voortbring. Kon hulle dan nie sien dat dit nie met hulle praat nie, en vir hulle ook nie leiding gee nie? Hulle het dit as hulle god aangeneem en só oortree

Verse 149 — Surah Al-Araf 7:149

En toe hulle wroeging gevoel en ingesien het dat hulle inderdaad gedwaal het, het hulle gesê: As ons Heer ons geen barmhartigheid betoon en Hy ons nie vergewe nie, sal ons sekerlik van die verloorders wees

Verse 150 — Surah Al-Araf 7:150

En toe Moses na sy volk terugkeer, was hy verontwaardig en bedroef. Hy het gesê: Wat julle agter my rug gedoen het, was sondig. Wil julle die oordeel van julle Heer verhaas? En hy het die tablette neergegooi, sy broer aan die hoof gegryp en na hom toe getrek. Aäron het gesê: Seun van my moeder! Die volk het my vir ’n swakkeling aangesien en my amper doodgemaak. Laat my vyande tog nie oor my verheug wees nie, en reken my nie onder die oortreders nie

Verse 151 — Surah Al-Araf 7:151

Hy5 het gesê: My Heer, vergewe my en my broer, en laat ons tot U barmhartigheid toe, want U is die Allergenadigste van hulle wat genadebetoon

Verse 152 — Surah Al-Araf 7:152

En hulle wat die kalf vir ’n god geneem het ~ die toorn van hul Heer en die vernedering in hierdie lewe sal hulle sekerlik oorval. En so beloon Ons die skeppers van leuens

Verse 153 — Surah Al-Araf 7:153

En hulle wat sondig, maar daarna berou betoon, en glo ~ dan is u Heer waarlik Vergewensgesind, Genadevol

Verse 154 — Surah Al-Araf 7:154

En toe die toorn van Moses daarna bedaar het, het hy die tablette opgetel. En daar was leiding en genade vir húlle wat hul Heer vrees

Verse 155 — Surah Al-Araf 7:155

En Moses het sewentig manne uit sy volk gekies vir die afspraak wat Ons bepaal het. Toe die aardbewing hul oorval, het hy gesê: My Heer! As dit U behaag het, kon U vir hulle en vir my reeds voorheen vernietig het. Sal U ons dan verdelg vir wat die onkundiges onder ons gedoen het? Dit is niks anders as ’n beproewing van U nie. U laat daardeur afdwaal wie U wil, en U lei daarmee wie U wil. U is ons Beskermheer; vergewe ons daarom en bewys barmhartigheid aan ons; U is tog die Groot Vergewer

Verse 156 — Surah Al-Araf 7:156

En skenk aan ons die goeie in hierdie wêreld en ook in die Hiernamaals, want waarlik, ons het ons tot U gewend. Hy het geantwoord: My straf sal Ek oplê op wie Ek wil, maar My barmhartigheid omvat alle dinge. So skenk Ek dit aan die opregtes en die wie Zakaat6 betaal, en wat in Ons tekens glo

Verse 157 — Surah Al-Araf 7:157

Hulle wat die Boodskapper, die ongeletterde Profeet,7 volg, van wie hulle ’n beskrywing in die Tora en die Evangelie sal vind; hy gebied hulle om goed te doen en belet hulle die kwade, en hy veroorloof hulle die goeie dinge en verbied hulle die slegte, en onthef hulle van hul las en die boeie wat hulle gebind het. Hulle wat daarom in hom glo, hom eer en hom ondersteun, en die lig volg wat saam met hom gestuur is ~ hulle sal waarlik suksesvol wees

Verse 158 — Surah Al-Araf 7:158

Sê: O mensdom! Ek is die Boodskapper van Allah tot julle almal, van Hom aan Wie die koninkryk van die hemele en die aarde behoort. Daar is geen God nie behalwe Hy. Hy skenk die lewe en ook die dood. Glo daarom in Allah en Sy Boodskapper, die ongeletterde Profeet wat in Allah en Sy woorde glo, en volg hom sodat u reg gelei kan word

Verse 159 — Surah Al-Araf 7:159

En daar is ’n deel van die volk van Moses wat deur die waarheid gerig word en daardeur regverdig handel

Verse 160 — Surah Al-Araf 7:160

En Ons het hulle as afsonderlike nasies, in twaalf stamme, verdeel. En toe sy volk hom om water gevra het, het Ons aan Moses gesê: Slaan die rots met u staf, en twaalf fonteine het daardeur ontspring. Elke stam het sy drinkplek geken. En Ons het die wolke vir skaduwee bo hulle laat saampak, en ook vir hulle manna en kwartels gestuur ~ Eet van die goeie dinge waarmee Ons julle voorsien het ~ En hulle het Ons geen skade berokken nie, maar hulleself kwaad aangedoen

Verse 161 — Surah Al-Araf 7:161

En toe dit aan hulle gesê is: Woon in hierdie stad en eet daarvan net waar julle wil, en vra om vergifnis, en gaan die poorte ootmoedig binne; Ons sal al julle tekortkominge vergewe. Ons sal nog meer gee aan hulle wat goeie dade doen

Verse 162 — Surah Al-Araf 7:162

Maar die onregverdiges tussen hulle het hierdie woord vervang met ’n ander wat nooit gesê is nie, daarom het Ons ’n pessiekte uit die hemel op hulle afgestuur, om hulle ongeregtigheid se onthalwe

Verse 163 — Surah Al-Araf 7:163

En vra hulle omtrent die stad wat aan die see lê. Hoe hulle die Sabbat onteer het met die vis wat aan die oppervlakte van die water verskyn het, en hoe, op die dag toe hulle die Sabbat onteer het, dit nie verskyn het nie. So het Ons hulle dan versoek omdat hulle oortreders was

Verse 164 — Surah Al-Araf 7:164

En toe ’n groepie van hulle gesê het: Waarom preek julle vir ’n volk wat deur Allah vernietig gaan word, of wat Hy met ’n sware tugtiging gaan tref? het ’n ander groep geantwoord: Om onskuldig voor julle Heer te wees, en sodat hulle teen die sonde mag waak

Verse 165 — Surah Al-Araf 7:165

En toe hulle die vermaning vergeet het, het Ons húlle gered wat die kwade belet het; en die onregverdiges het Ons met ’n streng kastyding aangegryp, om hulle sondigheid se onthalwe

Verse 166 — Surah Al-Araf 7:166

En toe hulle in opstandigheid volhard het met die verbode dinge, het Ons aan hulle gesê: Wees ape, veragd en verworpe

Verse 167 — Surah Al-Araf 7:167

En toe het u Heer laat blyk dat Hy mense na hulle sal stuur wat hulle tot op die Weeropstandingsdag met martelinge sal kwel. Voorwaar, u Heer is gou met die vergelding, en Hy is waarlik ook Vergewensgesind, Genadevol

Verse 168 — Surah Al-Araf 7:168

En Ons het hulle op die aarde in groepe verdeel. Sommige van hulle is regverdig, en ander nie. En Ons het hulle met voorspoed én teenspoed beproef sodat hulle hul kan bekeer

Verse 169 — Surah Al-Araf 7:169

En ná hulle het daar ’n bose geslag gekom wat die Boek geërwe het, en die verganklike dinge van hierdie lae lewe aangehang het. En hulle sê: Dít sal ons vergewe word. Maar as daar nog méér soortgelyke dinge na hulle gekom het, sou hul dit ook aanvaar het. Was daar van hulle nie ’n gelofte in die Boek om niks anders as die waarheid van Allah te praat nie? En hulle bestudeer wat daarin is. En die tuiste in die Hiernamaals is vir die godvresendes veel beter. Verstaan julle dan nie

Verse 170 — Surah Al-Araf 7:170

En aangaande húlle wat aan die Boek vashou en in die gebed volhard ~ Ons sal die beloning van die opregtes gewis nie laat verlore gaan nie

Verse 171 — Surah Al-Araf 7:171

En toe Ons die berg bokant hulle laat skud het asof dit maar ’n kleed was, het hulle gevrees dit sal op hulle val: Hou styf vas aan wat Ons julle gegee het en oordink wat daarin staan, sodat julle teen die sonde kan waak

Verse 172 — Surah Al-Araf 7:172

En toe u Heer uit die lende van die Kinders van Adam ’n nageslag voortgebring het, en hulle teen hulself laat getuig het: Is ek nie julle Heer nie? Hulle het geantwoord: Ja, ons getuig; sodat julle nie op die Weeeropstandingsdag sal kan sê: Ons was nie bewus hiervan nie

Verse 173 — Surah Al-Araf 7:173

of dat julle sal sê: Dit was ons vaders wat voorheen deelgenote met Allah vereenselwig het; ons is maar afstammelinge van hulle. Wil U óns verdelg oor wat die leuenaaars gedoen het

Verse 174 — Surah Al-Araf 7:174

So verduidelik Ons die tekens sodat hulle hul kan bekeer

Verse 175 — Surah Al-Araf 7:175

En vertel aan hulle van hom aan wie Ons Ons tekens gegee het, maar wat sy rug daarop gedraai het ~ dat die duiwels hom agterhaal en hy een van dié was wat vergaan het

Verse 176 — Surah Al-Araf 7:176

En as Ons wou, kon Ons hom daardeur verhef het, maar hy het aan die aaardse vasgehou en sy bose neigings gevolg. Hy is soos ’n hond ~ as u hom wegja, laat hy sy tong uithang, en as u hom laat rus, steek hy ook sy tong uit. So is die mense wat Ons tekens verloën. Vertel daarom hierdie verhaal sodat hulle dit kan oordink

Verse 177 — Surah Al-Araf 7:177

Boos is die volk wat Ons tekens verloën en hulle eie siele skade aandoen

Verse 178 — Surah Al-Araf 7:178

Hy wat deur Allah gelei word, is op die regte pad; en dié wat Hy laat dwaal ~ hulle delf die onderspit

Verse 179 — Surah Al-Araf 7:179

Voorwaar, die Hel het Ons vir baie mense, en vir die djien, gemaak ~ hulle het harte waarmee hulle nie verstaan nie, oë waarmee hulle nie sien nie, en ore warmee hulle nie hoor nie. Hulle is soos vee; nee, hulle het nog verder afgedwaal. Hulle is die agtelosiges

Verse 180 — Surah Al-Araf 7:180

Die naam van Allah is Allerverhewe; roep Hom daarby aan, en laat hulle met rus wat die heiligheid van Sy name skend. Hulle sal vir hulle dade vergeld word

Verse 181 — Surah Al-Araf 7:181

En tussen Ons skeppings is daar ’n gemeente wat deur die waarheid gelei word, en daardeur geregtigheid laat geskied

Verse 182 — Surah Al-Araf 7:182

En hulle wat Ons tekens verloën ~ Ons sal hulle stap vir stap in die verderf inlei, sonder dat hulle dit besef

Verse 183 — Surah Al-Araf 7:183

Ek verleen uitstel aan hulle. My planne is waarlik onfeilbaar

Verse 184 — Surah Al-Araf 7:184

Besef hulle dan nie dat hulle metgesel geen kranksinnige is nie? Hy is slegs ’n duidelike waarskuwer

Verse 185 — Surah Al-Araf 7:185

Besef hulle dan nie dat Allah die koninkryk van die hemele en die aarde en alle ander dinge geskape het nie, en dat hulle verdoemenis nader kom nie? In watter aankondiging sal hulle dan hierna glo

Verse 186 — Surah Al-Araf 7:186

Vir wie Allah laat dwaal, kan daar geen gids wees nie. Hy laat hulle in hul koppigheid blindelings swerwe

Verse 187 — Surah Al-Araf 7:187

Hulle sal u uitvra na die Uur waarop dit sal gebeur. Sê: Slegs my Heer dra kennis daarvan. En alleen Hy sal dit openbaarmaak. Vir die hemele en die aarde is dit belangrik. En dit sal onverwags kom. Hulle vra u net asof dit u kommer besorg. Sê: Kennis daarvan het slegs Allah; maar die meeste mense weet dit nie

Verse 188 — Surah Al-Araf 7:188

Sê: Ek beheer geen goed of kwaad vir eie voordeel nie, behalwe dít wat Allah behaag. En as ek die Onsigbare geweet het, sou ek ’n oorvloed van die goeie gehad het, en geen kwaad sou my aangeraak het nie. Ek is maar net ’n waarskuwer en ’n draer van blye tydinge vir ’n volk wat glo

Verse 189 — Surah Al-Araf 7:189

Dit is Hy wat julle van een siel geskape het, en daaruit ook vir die man ’n gesellin gemaak het, sodat hy troos in haaar mag vind. En nadat hy haar bedek het, dra sy ’n ligte las en gaan daarmee rond. En wanneer dit swaar word, roep hulle albei Allah, hulle Heer, aan: As U ons ’n goeie kind gee, sal ons waarlik tussen die dankbares wees

Verse 190 — Surah Al-Araf 7:190

Maar as Hy hulle ’n goeie kind gee, skrywe hulle deelgenote aan Hom toe, aangaande dít wat Hy aan hulle albei gegee het. Verhewe is Allah bo wat hulle met Hom vereenselwig

Verse 191 — Surah Al-Araf 7:191

Vereenselwig hulle dít wat niks kan skep nie dan met Hom, terwyl hulle self geskape is

Verse 192 — Surah Al-Araf 7:192

Dít wat aan ander geen hulp kan verleen nie, en ook nie hulself kan help nie

Verse 193 — Surah Al-Araf 7:193

En as julle hulle tot navolging oproep, sal hulle nie gehoor gee nie. Dit is vir julle om ‘t ewe, of julle hulle nooi of nie

Verse 194 — Surah Al-Araf 7:194

Voorwaar, hulle wat julle buiten Allah aanroep, is slawe net soos julle. Roep hulle dan aan en laat hulle julle beantwoord, as julle die waarheid spreek

Verse 195 — Surah Al-Araf 7:195

Het hulle voete waarmee hulle loop, of het hulle hande waarmee hulle vashou, of het hulle oë waarmee hulle sien, of het hulle ore warmee hulle hoor Sê: Roep julle afgode aan en smee saam planne teen my en verleen my geen uitstel nie

Verse 196 — Surah Al-Araf 7:196

Waarlik, my Vriend is Allah, Wie die Boek geopenbaar het, en Hy begunstig die regverdiges

Verse 197 — Surah Al-Araf 7:197

En wat julle buiten Hom aanroep, is nie in staat om julle te help nie; hulle kan hulself nie help nie

Verse 198 — Surah Al-Araf 7:198

En as julle hulle nooi om te volg, luister nie na hulle nie; en u merk hoe hulle na u staar, maar hulle sien nie

Verse 199 — Surah Al-Araf 7:199

Vra om vergifnis, doen goeie dade, en draai weg van die onkundiges af

Verse 200 — Surah Al-Araf 7:200

En as ’n valse beskuldiging van die duiwel u sou kwel, neem dan u toevlug tot Allah; waarlik Hy is Allerhorend, Alleswetend

Verse 201 — Surah Al-Araf 7:201

Hulle wat teen die kwaad waak wanneer die duiwel hulle versoek, hulle word oplettend, en kyk! hulle sien

Verse 202 — Surah Al-Araf 7:202

En hulle bose broers neem in dwaling toe, en hou nie daar op nie

Verse 203 — Surah Al-Araf 7:203

En wanneer u hulle geen teken bring nie, sê hulle: Waarom eis u dit nie? Sê: Ek volg alleen wat my Heer aan my geopenbaar het. Dit is duidelike bewyse van julle Heer, en leiding en genade vir ’n volk wat glo

Verse 204 — Surah Al-Araf 7:204

En wanneer die Qur’ãn voorgedra word, luister daarna en wees stil, sodat barmhartigheid aan julle mag geskied

Verse 205 — Surah Al-Araf 7:205

En dink aan u Heer in die oggend en in die aand met nederigheid en vrees en sonder luidrugtigheid, en wees nie agtelosig nie

Verse 206 — Surah Al-Araf 7:206

Waarlik, húlle wat naby u Heer is, is nie vol hoogmoed in Sy diens nie, en hulle verheerlik Hom en prostreer voor Hom