Toe het hy gesê: O my seun, vertel jou droom nie aan jou broers nie, anders sal hulle planne teen jou beraam. Die duiwel is inderdaad ’n openlike vyand van die mens
En jou Heer sal jou uitverkies en aan jou die verklaring van spreuke leer en Sy guns aan jou en die familie van Jakob vervolmaak, soos Hy dit voorheen aan jou vaders, Abraham en Isak, bewys het. Voorwaar, u Heer is Alleswetend, Allerwys
Een van hulle het gesê: Moenie vir Josef doodmaak nie; maar as julle iets móét doen, werp hom dan in ’n diep put. Miskien sal ’n reisiger hom daar vind
Toe hulle hom weggeneem en ooreengekom het om hom op die bodem van ’n diep put neer te laat, het Ons aan hom ge- openbaar: U sal hulle waarlik nog hiervan vertel, maar hulle weet dit nie
Hulle het gesê: O ons vader, ons het weggegaan en teen mekaar resies gejaag en Josef by ons besittings agtergelaat; en ’n wolf het hom daar verskeur. En miskien sal u ons nie glo nie, hoewel ons sekerlik die waarheid praat
En hulle het gekom met vals bloed op sy hemp. Hy het gesê: Nee, julle siele het die saak veels te lig opgevat. En dit is Allah Wie se hulp teen julle beweringe gesoek moet word
En daar het reisigers gekom, en hulle het hul waterputter gestuur en hy het sy emmer laat afsak. Toe het hy gesê: Watter goeie nuus! Hier is ’n jongkêrel. En hulle het hom as ’n stuk koopware weggesteek, en Allah was bewus van hulle dade
En die Egiptenaar wat hom gekoop het, het aan sy vrou gesê: Maak sy verblyf eerlik. Miskien kan hy ons van nut wees, of kan ons hom dalk as seun aanneem. En so het Ons Josef in die land gevestig, sodat Ons hom in die uitleg van die spreuke kan onderrig. En Allah het volle beheer oor wat Hy beveel, maar die meeste mense weet dit nie
En sy in wie se huis hy was, het probeer om hom teen sy sin te verlei en het die deure gesluit en gesê: Kom nou. Hy het geantwoord: Mag Allah dit verhoed! Waarlik, my Heer het my verblyf waardig gemaak. Voorwaar, die kwaaddoeners is nooit suksesvol nie
En sy het hom waarlik begeer, en hy sou haar ook begeer het, was dit nie dat hy ’n duidelike waarskuwing van sy Heer ont- vang het nie. En dit is aan hom gestuur sodat Ons hom van sonde en onbetaamlike dade kon behoed
En hulle het albei na die deur gehardloop, en sy het ’n stuk uit die agterpant van sy hemp geskeur. En by die deur het hulle haar eggenoot ontmoet. Sy het gesê: Wat is die straf vir iemand wat slegte bedoelinge met ’n vrou het, anders as gevangenisstraf of ’n pynlike kastyding
Josef het geantwoord: Dit is sý wat my teen my sin wou verlei. En ’n familielid van haar het getuig: As sy hemp van voor geskeur is, praat sý die waarheid en is hy ’n leuenaar
En die vroue in die stad het gesê: Die vrou van die owerste het probeer om haar slaaf teen sy sin te verlei. Hy het voorwaar ’n diep indruk met sy liefde op haar gemaak. Ons merk dat sy openlik dwaal
En toe sy van hul planne hoor, het sy hulle uitgenooi en ’n maaltyd vir hul voorberei en aan elkeen van hulle ’n mes gegee, en vir Josef gesê: Kom uit na hulle. En toe hulle hom sien, het hulle baie van hom gedink en hulle hande uit bewondering raak gesny, en gesê: Heilige Allah! Dit is geen sterfling nie! Dit is ’n edele engel
Sy het gesê: Dit is hý oor wie julle my beskuldig het. En ek het probeer om hom teen sy sin te verlei, maar hy was standvastig in sy kuisheid. En as hy nie doen wat ek hom beveel nie, sal ek hom waarlik in die tronk gooi, en hy sal sekerlik verneder word
Hy het gesê: My Heer! Die gevangenis is vir my aangenamer as dít waartoe hulle my uitnooi. Tensy U hulle lis van my afwend, sal ek my tot hulle neig en ook een van die stomsinniges word
En twee jong manne het saam met Josef die gevangenis binne- gegaan. Een van hulle het gesê: Ek het my sien wyn pers. En die ander het gesê: Ek het my brood op my hoof sien dra, waarvan die voëls geëet het. Gee ons die uitleg daarvan. Waarlik, ons sien dat u ’n weldoener is
Hy het geantwoord: Die voedsel waarmee julle gevoed word, sal julle nie bereik voordat ek julle nie die uitleg daarvan gegee het nie. Dít is waarin my Heer my onderrig het. Waarlik, ek het afskeid geneem van die godsdiens van ’n volk wat nie in Allah glo nie en wat die ontstryders van die Hiernamaals is
En ek volg die godsdiens van my vaders, Abraham, Isak en Jakob. Dit betaam ons nie om ander met Allah te vereenselwig nie. Dit is deur Allah se goedertierenheid oor ons en oor die mensdom, maar die meeste mense is nie dankbaar nie
Julle aanbid behalwe Allah niks anders as nodelose name nie, julle sowel as julle vaders ~ Allah het daartoe geen magtiging verleen nie. Die beslissing berus by Allah alleen. Hy het beveel dat julle niemand buiten Hom sal aanbid nie. Dít is die ware godsdiens, maar die meeste mense besef dit nie
O my twee medegevangenes! Wat die een betref: hy sal vir sy heer wyn skink om te drink; en wat die ander betref: hy sal gekruisig word, sodat die voëls van sy hoof sal eet. Die saak waarna julle verneem, is klaar beslis
En hy het aan hom, van wie hy geweet het dat hy losgelaat sou word, gesê: Onthou my by u heer. Maar die duiwel het veroorsaak dat hy moes vergeet om dit aan sy heer te vertel, daarom het Josef nog etlike jare lank in die gevangenis vertoef
En die koning het gesê: Ek het sewe vet koeie gesien wat deur sewe maer koeie opgeëet word; en sewe groen koringare en sewe verwelkte are. O julle owerstes! Lê die betekenis van my droom uit, en verklaar dit as julle kan
Josef, o waaragtige, gee ons ’n verklaring vir die sewe vet koeie wat deur sewe maeres verslind word, en van die sewe groen koringare en die verwelkte are, sodat ek tot die volk kan terugkeer en sodat hulle kan weet
Hy het geantwoord: Julle sal sewe jaar lank saai soos gewoonlik, en wat julle dan maai, moet julle in die aar laat bly, behalwe dié wat julle nodig het om te eet
En die koning het gesê: Bring hom voor my. Maar toe die boodskapper by hom kom, het hy gesê: Gaan terug na jou heer en vra hom hoe dit gesteld is met die vroue wat hul hande raak gesny het. Voorwaar, my Heer ken hul sluwe planne
Die koning het geantwoord: Wat was gaande met julle toe julle probeer het om Josef te verlei? Hulle het gesê: Heilige Allah! Ons het van geen kwaad omtrent hom geweet nie. En die owerste se vrou het gesê: Nou het die waarheid aan die lig gekom. Ek het probeer om hom teen sy sin te verlei, maar hy hoort voorwaar by die opregtiges
En ek ag my nie vry van sonde nie, want die menslike ek spoor aan tot die kwaad, behalwe by diegene aan wie my Heer barm- hartigheid bewys. Voorwaar, my Heer is Vergewensgesind, Genadevol
En die koning het geantwoord: Bring hom na my; ek wil hom vir myself hou. Daarom, toe hy met hom gepraat het, het hy gesê: Waarlik, u is vandag ’n man van aansien, en u geniet vertroue in ons aanwesigheid
En so het Ons Josef volmag in die land gegee ~ hy het heer- skappy daaroor gevoer, net waar hy verkies het. Ons skenk Ons barmhartigheid aan wie Ons wil, en Ons laat die loon van die weldoeners nie verlore gaan nie
En toe hy hulle van lewensmiddele voorsien het, het hy gesê: Bring my julle broer van vaderskant. Sien julle dan nie dat ek volle maat gee en dat ek ’n goeie gasheer is nie
En hy het aan sy dienaars gesê: Plaas hulle geld terug in hulle sakke, dat hulle dit mag herken wanneer hul na hulle familie terugkeer, en sodat hulle sal terugkom
En toe hulle na hul vader teruggekeer het, het hulle gesê: O ons vader, die maat word van ons teruggehou; stuur daarom ons broer saam met ons sodat ons ’n volle maat kan ontvang; en ons sal goed na hom kyk
Hy het geantwoord: Sal ek hom aan julle toevertrou, soos ek sy broer voorheen aan julle toevertrou het? Maar Allah is die groot Beskermer, en Hy is die Genadigste van die wie genade betoon
En toe hulle hul sakke oopmaak, het hulle gevind dat hul geld aan hulle teruggegee was. Hulle het gesê: O ons vader, wat meer kan ons verlang? Hier is ons geld aan ons teruggegee, en ons sal koring vir ons familie bring en ons sal ons broer oppas, en boonop ’n kameelvrag vol ontvang. Dit is ’n maklike maat
Hy het geantwoord: Ek sal hom nie aan julle toevertrou voordat julle in die naam van Allah belowe om hom weer na my terug te bring, tensy julle oorval word nie. En nadat hulle die belofte afgelê het, het hy gesê: Allah is die Bewaker van wat ons sê
En hy het gesê: O my seuns! Gaan nie deur een poort binne nie, maar deur verskillende poorte. En ek kan julle in niks teen Allah help nie. Die beslissing berus alleen by Hom. In Hom stel ek my vertroue, en laat almal wat wil vertrou, hul vertroue alleen in Hom stel
En toe hulle binnegaan soos hulle vader aanbeveel het, het dit vir hulle teen Allah niks gebaat nie; dit was slegs ’n sielsverlange van Jakob wat hy wou bevredig. En waarlik, hy het kennis gehad, want Ons het hom dié kennis gegee; maar die meeste mense weet dit nie
En toe hy hulle van lewensmiddele voorsien het, het iemand die drinkbeker in sy broer se sak gesit. Toe het ’n omroeper uitgeroep: O karavaan! Julle is waarlik diewe
Daarna het hy met húlle sakke begin voordat hy die sak van die broer deursoek het; en hy het dit toe uit die broer se sak gehaal. So het Ons dit vir Josef beplan. Hy kon, volgens die wet van die koning, nie sy broer hou nie, tensy dit Allah behaag het. Ons verhef wie Ons wil. En bo elke besitter van kennis staan die Alleswetende
Hulle het gesê: As hy ’n dief is, dan het ’n broer van hom voorheen ook gesteel. Maar Josef het dit in sy hart geheim gehou, en het dit nie aan hulle vertel nie. Hy het gesê: Julle verkeer in ’n slegte toestand. Allah weet of dit die waarheid is wat julle beweer
Hy het geantwoord: Allah verhoed dat ons iemand anders as hom by wie ons eiendom gevind is in hegtenis sal neem, want dan sou ons waarlik onregverdig wees
En toe hulle wanhopig oor hom geword het, het hulle apart met mekaar beraadslaag. Die oudste van hulle het gesê: Weet julle nie dat julle vader ’n plegtige belofte in die naam van Allah van julle geneem het nie, en hoe julle voorheen in julle plig teenoor Josef gefaal het nie? So sal ek nie hierdie land verlaat nie, tensy my vader my dit toelaat, of Allah die saak vir my beslis; en Hy is die Beste Regter
Keer julle dan tot jul vader terug en sê: O ons vader! U seun het diefstal gepleeg. En ons getuig alleen waarvan ons weet, en ons kon waarlik nie teen die onvoorsiene waak nie
Hy het gesê: Nee, julle siele het iets groots vir julle gering laat lyk. Daarom is geduld paslik. Dit is moontlik dat Allah hulle weer aan my sal skenk. Waarlik, Hy is die Alleswetende, die Allerwyse
O my seuns! Gaan heen en verneem omtrent Josef en sy broer, en wanhoop nie aan die genade van Allah nie, want niemand wanhoop aan Allah se barmhartigheid nie, behalwe die ongelowiges
En toe hulle voor hom kom, het hulle gesê: O owerste! Armoede het oor ons en ons familie gekom, en ons het uit ons armoede ’n skamele bedraggie afgeknyp; gee ons daarvoor die volle maat en wees liefdadig. Voorwaar, Allah beloon die liefdadiges
Hulle het geantwoord: Is ú dan Josef? Hy het gesê: Ek is Josef, en dit is my broer. Allah was ons waarlik genadig. Voorwaar, wie Allah vrees en geduldig is ~ Allah laat nie die loon van die weldoeners ooit verlore gaan nie
En toe ’n bode met die blye tyding gekom het, het hy die hemp voor Jakob neergelê sodat Hy versekering kon hê. Hy het gesê: Het ek julle nie gesê dat ek deur die genade van Allah weet wat julle nie weet nie
En hy het sy ouers op sy troon laat sit, en hulle het hul voor hom neergewerp. En hy het gesê: O my vader, dít is die vervulling van my vroeëre droom. My Heer het dit verwesenlik. En Hy was baie goed vir my toe Hy my uit die gevangenis verlos het, en u almal uit die woestyn uitgelei het, nadat die duiwel onmin tussen my en my broers gesaai het. Waarlik, my Heer is Goed vir wie Hy wil. Waarlik, Hy is die Alleswetende, die Allerwyse
My Heer! U het my ’n deel van die koninkryk geskenk en in die uitleg van drome onderrig. Skepper van die hemele en aarde, U is my Vriend in hierdie wêreld en in die Hiernamaals. Laat my in onderdanigheid sterf, en verenig my met die opregtes
Voel hulle dan veilig teen die koms van ’n oorweldigende straf van Allah oor hulle, of teen die onverwagte koms van die Uur, wanneer hulle dit nie verwag nie
En Ons het vóór u ook niemand anders as mense gestuur na die stede aan wie Ons Ons openbaringe wou bring nie. Het hulle dan nie op die aarde gereis en gesien wat die einde was van diegene wat hulle voorafgegaan het nie? En die woning van die Hiernamaals is bestem vir húlle wat bewus is van Allah. Verstaan julle dan nie
En nie voordat die boodskappers gewanhoop en die mense gedink het dat daar aan hulle leuens vertel is, het Ons aan hulle hulp gestuur nie, en dan het Ons gered wie Ons wou. En Ons straf kan van ’n skuldige volk nie afgewend word nie
In hulle geskiedenis is daar waarlik ’n les vir mense met begrip. Dit is nie ’n verhaal wat vesin kan word nie, maar ’n vervulling van wat voorafgegaan het, en ’n helder verduideliking van alle dinge, en leiding en barmhartigheid vir ’n volk wat glo