Back to Languages

Afrikaans - Chapter 12 - Yusuf

Translation by Imam M. A. Baker — Permalink

Verse 1 — Surah Yusuf 12:1

Alief, Laam, Raa.1 Dít is die verse van die Boek waarin alles verduidelik word

Verse 2 — Surah Yusuf 12:2

Voorwaar, Ons het dit geopenbaar ~ ’n Arabiese Qur’ãn ~ sodat julle kan verstaan

Verse 3 — Surah Yusuf 12:3

Ons vertel aan u die groot verhaal, en deur hierdie Qur’ãn word dit aan u geopenbaar, ofskoon u voorheen een van die onkundiges was

Verse 4 — Surah Yusuf 12:4

Toe Josef aan sy vader gesê het: O my vader, ek het elf sterre en die son en die maan gesien ~ ek het gesien hoe hulle voor my prostreer

Verse 5 — Surah Yusuf 12:5

Toe het hy gesê: O my seun, vertel jou droom nie aan jou broers nie, anders sal hulle planne teen jou beraam. Die duiwel is inderdaad ’n openlike vyand van die mens

Verse 6 — Surah Yusuf 12:6

En jou Heer sal jou uitverkies en aan jou die verklaring van spreuke leer en Sy guns aan jou en die familie van Jakob vervolmaak, soos Hy dit voorheen aan jou vaders, Abraham en Isak, bewys het. Voorwaar, u Heer is Alleswetend, Allerwys

Verse 7 — Surah Yusuf 12:7

Waarlik, daar is vir die soekers na die waarheid tekens in die geskiedenis van Josef en sy broers

Verse 8 — Surah Yusuf 12:8

Toe hulle gesê het: Voorwaar, Josef en sy broer is vir ons vader dierbaarder as ons, ofskoon ons talryker is. Waarlik, ons vader is besig om te dwaal

Verse 9 — Surah Yusuf 12:9

Maak Josef dood of verdryf hom na ’n ander land, sodat julle vader se guns uitsluitlik vir julle kan wees, en julle daarna ’n regverdige volk kan word

Verse 10 — Surah Yusuf 12:10

Een van hulle het gesê: Moenie vir Josef doodmaak nie; maar as julle iets móét doen, werp hom dan in ’n diep put. Miskien sal ’n reisiger hom daar vind

Verse 11 — Surah Yusuf 12:11

Hulle het gesê: O ons vader, waarom vertrou u ons nie met Josef nie, terwyl ons hom tog goedgesind is

Verse 12 — Surah Yusuf 12:12

Stuur hom môre saam met ons sodat hy hom kan vermaak en speel; ons sal oor hom waak

Verse 13 — Surah Yusuf 12:13

Hy het gesê: Die gedagte dat julle hom sal saamneem, stem my verdrietig, want ek vrees dat ’n wolf hom kan verslind terwyl julle nie na hom oplet nie

Verse 14 — Surah Yusuf 12:14

Hulle het gesê: Dis tog ondenkbaar dat ’n wolf hom sal verslind terwyl ons so ’n talryke groep is

Verse 15 — Surah Yusuf 12:15

Toe hulle hom weggeneem en ooreengekom het om hom op die bodem van ’n diep put neer te laat, het Ons aan hom ge- openbaar: U sal hulle waarlik nog hiervan vertel, maar hulle weet dit nie

Verse 16 — Surah Yusuf 12:16

En in die skemer het hulle wenend na hulle vader teruggekeer

Verse 17 — Surah Yusuf 12:17

Hulle het gesê: O ons vader, ons het weggegaan en teen mekaar resies gejaag en Josef by ons besittings agtergelaat; en ’n wolf het hom daar verskeur. En miskien sal u ons nie glo nie, hoewel ons sekerlik die waarheid praat

Verse 18 — Surah Yusuf 12:18

En hulle het gekom met vals bloed op sy hemp. Hy het gesê: Nee, julle siele het die saak veels te lig opgevat. En dit is Allah Wie se hulp teen julle beweringe gesoek moet word

Verse 19 — Surah Yusuf 12:19

En daar het reisigers gekom, en hulle het hul waterputter gestuur en hy het sy emmer laat afsak. Toe het hy gesê: Watter goeie nuus! Hier is ’n jongkêrel. En hulle het hom as ’n stuk koopware weggesteek, en Allah was bewus van hulle dade

Verse 20 — Surah Yusuf 12:20

En hulle het hom vir ’n geringe prys, ’n paar silwerstukke, ver- koop, want vir hulle was hy onbelangrik

Verse 21 — Surah Yusuf 12:21

En die Egiptenaar wat hom gekoop het, het aan sy vrou gesê: Maak sy verblyf eerlik. Miskien kan hy ons van nut wees, of kan ons hom dalk as seun aanneem. En so het Ons Josef in die land gevestig, sodat Ons hom in die uitleg van die spreuke kan onderrig. En Allah het volle beheer oor wat Hy beveel, maar die meeste mense weet dit nie

Verse 22 — Surah Yusuf 12:22

En toe hy opgegroei het, het Ons aan hom wysheid en kennis geskenk. So beloon Ons hulle wie se werke welgevallig is

Verse 23 — Surah Yusuf 12:23

En sy in wie se huis hy was, het probeer om hom teen sy sin te verlei en het die deure gesluit en gesê: Kom nou. Hy het geantwoord: Mag Allah dit verhoed! Waarlik, my Heer het my verblyf waardig gemaak. Voorwaar, die kwaaddoeners is nooit suksesvol nie

Verse 24 — Surah Yusuf 12:24

En sy het hom waarlik begeer, en hy sou haar ook begeer het, was dit nie dat hy ’n duidelike waarskuwing van sy Heer ont- vang het nie. En dit is aan hom gestuur sodat Ons hom van sonde en onbetaamlike dade kon behoed

Verse 25 — Surah Yusuf 12:25

En hulle het albei na die deur gehardloop, en sy het ’n stuk uit die agterpant van sy hemp geskeur. En by die deur het hulle haar eggenoot ontmoet. Sy het gesê: Wat is die straf vir iemand wat slegte bedoelinge met ’n vrou het, anders as gevangenisstraf of ’n pynlike kastyding

Verse 26 — Surah Yusuf 12:26

Josef het geantwoord: Dit is sý wat my teen my sin wou verlei. En ’n familielid van haar het getuig: As sy hemp van voor geskeur is, praat sý die waarheid en is hy ’n leuenaar

Verse 27 — Surah Yusuf 12:27

En as sy hemp van agter geskeur is, vertel sý ’n leuen en is hý een van die opregtes

Verse 28 — Surah Yusuf 12:28

Toe hy merk dat sy hemp van agter geskeur is het hy gesê: Is dit ’n vroulike metode? Voorwaar, julle vroue is listig

Verse 29 — Surah Yusuf 12:29

O Josef, wend u hiervan af. En, my vrou, vra vergifnis vir u sonde. U het waarlik gesondig

Verse 30 — Surah Yusuf 12:30

En die vroue in die stad het gesê: Die vrou van die owerste het probeer om haar slaaf teen sy sin te verlei. Hy het voorwaar ’n diep indruk met sy liefde op haar gemaak. Ons merk dat sy openlik dwaal

Verse 31 — Surah Yusuf 12:31

En toe sy van hul planne hoor, het sy hulle uitgenooi en ’n maaltyd vir hul voorberei en aan elkeen van hulle ’n mes gegee, en vir Josef gesê: Kom uit na hulle. En toe hulle hom sien, het hulle baie van hom gedink en hulle hande uit bewondering raak gesny, en gesê: Heilige Allah! Dit is geen sterfling nie! Dit is ’n edele engel

Verse 32 — Surah Yusuf 12:32

Sy het gesê: Dit is hý oor wie julle my beskuldig het. En ek het probeer om hom teen sy sin te verlei, maar hy was standvastig in sy kuisheid. En as hy nie doen wat ek hom beveel nie, sal ek hom waarlik in die tronk gooi, en hy sal sekerlik verneder word

Verse 33 — Surah Yusuf 12:33

Hy het gesê: My Heer! Die gevangenis is vir my aangenamer as dít waartoe hulle my uitnooi. Tensy U hulle lis van my afwend, sal ek my tot hulle neig en ook een van die stomsinniges word

Verse 34 — Surah Yusuf 12:34

Daarop het sy Heer sy gebed verhoor en hulle lis van hom afgewend. Voorwaar, Hy is die Alleshorende, die Alleswetende

Verse 35 — Surah Yusuf 12:35

Toe kom dit hulle voor, nadat hulle die tekens van sy onskuld opgemerk het, dat hulle hom vir ’n tyd in die tronk moes gooi

Verse 36 — Surah Yusuf 12:36

En twee jong manne het saam met Josef die gevangenis binne- gegaan. Een van hulle het gesê: Ek het my sien wyn pers. En die ander het gesê: Ek het my brood op my hoof sien dra, waarvan die voëls geëet het. Gee ons die uitleg daarvan. Waarlik, ons sien dat u ’n weldoener is

Verse 37 — Surah Yusuf 12:37

Hy het geantwoord: Die voedsel waarmee julle gevoed word, sal julle nie bereik voordat ek julle nie die uitleg daarvan gegee het nie. Dít is waarin my Heer my onderrig het. Waarlik, ek het afskeid geneem van die godsdiens van ’n volk wat nie in Allah glo nie en wat die ontstryders van die Hiernamaals is

Verse 38 — Surah Yusuf 12:38

En ek volg die godsdiens van my vaders, Abraham, Isak en Jakob. Dit betaam ons nie om ander met Allah te vereenselwig nie. Dit is deur Allah se goedertierenheid oor ons en oor die mensdom, maar die meeste mense is nie dankbaar nie

Verse 39 — Surah Yusuf 12:39

O my twee medegevangenes! Is dit beter om verskeie here te dien, of is die diens van Allah, die Een, die Opperste, verkieslik

Verse 40 — Surah Yusuf 12:40

Julle aanbid behalwe Allah niks anders as nodelose name nie, julle sowel as julle vaders ~ Allah het daartoe geen magtiging verleen nie. Die beslissing berus by Allah alleen. Hy het beveel dat julle niemand buiten Hom sal aanbid nie. Dít is die ware godsdiens, maar die meeste mense besef dit nie

Verse 41 — Surah Yusuf 12:41

O my twee medegevangenes! Wat die een betref: hy sal vir sy heer wyn skink om te drink; en wat die ander betref: hy sal gekruisig word, sodat die voëls van sy hoof sal eet. Die saak waarna julle verneem, is klaar beslis

Verse 42 — Surah Yusuf 12:42

En hy het aan hom, van wie hy geweet het dat hy losgelaat sou word, gesê: Onthou my by u heer. Maar die duiwel het veroorsaak dat hy moes vergeet om dit aan sy heer te vertel, daarom het Josef nog etlike jare lank in die gevangenis vertoef

Verse 43 — Surah Yusuf 12:43

En die koning het gesê: Ek het sewe vet koeie gesien wat deur sewe maer koeie opgeëet word; en sewe groen koringare en sewe verwelkte are. O julle owerstes! Lê die betekenis van my droom uit, en verklaar dit as julle kan

Verse 44 — Surah Yusuf 12:44

Hulle het geantwoord: ’n Mengelmoes drome. En ons is nie kundig in die verklaring van drome nie

Verse 45 — Surah Yusuf 12:45

En die een van die twee wat bevry is, het Josef na ’n lang tyd onthou en gesê: Ek sal julle die verklaring daarvan laat weet; stuur my daarom

Verse 46 — Surah Yusuf 12:46

Josef, o waaragtige, gee ons ’n verklaring vir die sewe vet koeie wat deur sewe maeres verslind word, en van die sewe groen koringare en die verwelkte are, sodat ek tot die volk kan terugkeer en sodat hulle kan weet

Verse 47 — Surah Yusuf 12:47

Hy het geantwoord: Julle sal sewe jaar lank saai soos gewoonlik, en wat julle dan maai, moet julle in die aar laat bly, behalwe dié wat julle nodig het om te eet

Verse 48 — Surah Yusuf 12:48

Daarna sal daar sewe moeilike jare kom, wat alles wat julle voorheen geoes het, sal verteer, met uitsondering van die klompie wat julle sal bewaar

Verse 49 — Surah Yusuf 12:49

En daarna sal daar ’n jaar kom waarin die mense reën sal ont- vang en waarin hulle druiwe en olie sal pars

Verse 50 — Surah Yusuf 12:50

En die koning het gesê: Bring hom voor my. Maar toe die boodskapper by hom kom, het hy gesê: Gaan terug na jou heer en vra hom hoe dit gesteld is met die vroue wat hul hande raak gesny het. Voorwaar, my Heer ken hul sluwe planne

Verse 51 — Surah Yusuf 12:51

Die koning het geantwoord: Wat was gaande met julle toe julle probeer het om Josef te verlei? Hulle het gesê: Heilige Allah! Ons het van geen kwaad omtrent hom geweet nie. En die owerste se vrou het gesê: Nou het die waarheid aan die lig gekom. Ek het probeer om hom teen sy sin te verlei, maar hy hoort voorwaar by die opregtiges

Verse 52 — Surah Yusuf 12:52

Ek sê dit sodat hy kan weet dat ek in sy afwesigheid nie ontrou aan hom was nie, en omdat Allah die planne van die ontroues altyd verydel

Verse 53 — Surah Yusuf 12:53

En ek ag my nie vry van sonde nie, want die menslike ek spoor aan tot die kwaad, behalwe by diegene aan wie my Heer barm- hartigheid bewys. Voorwaar, my Heer is Vergewensgesind, Genadevol

Verse 54 — Surah Yusuf 12:54

En die koning het geantwoord: Bring hom na my; ek wil hom vir myself hou. Daarom, toe hy met hom gepraat het, het hy gesê: Waarlik, u is vandag ’n man van aansien, en u geniet vertroue in ons aanwesigheid

Verse 55 — Surah Yusuf 12:55

Hy het geantwoord: Stel my aan oor die skatte van die land, want ek is ’n kundige bewaarder

Verse 56 — Surah Yusuf 12:56

En so het Ons Josef volmag in die land gegee ~ hy het heer- skappy daaroor gevoer, net waar hy verkies het. Ons skenk Ons barmhartigheid aan wie Ons wil, en Ons laat die loon van die weldoeners nie verlore gaan nie

Verse 57 — Surah Yusuf 12:57

En die loon van die Hiernamaals is waarlik aangenamer vir hulle wat glo en teen die kwaad waak

Verse 58 — Surah Yusuf 12:58

En Josef se broers het gekom en by hom binnegegaan; en hy het hulle herken, maar hulle het hom nie herken nie

Verse 59 — Surah Yusuf 12:59

En toe hy hulle van lewensmiddele voorsien het, het hy gesê: Bring my julle broer van vaderskant. Sien julle dan nie dat ek volle maat gee en dat ek ’n goeie gasheer is nie

Verse 60 — Surah Yusuf 12:60

Maar as julle hom nie na my bring nie, sal daar van my geen maat koring vir julle wees nie, ook sal julle nie naby my mag kom nie

Verse 61 — Surah Yusuf 12:61

Hulle het geantwoord: Ons sal probeer om sy vader oor te haal om hom te laat gaan; moontlik slaag ons daarin

Verse 62 — Surah Yusuf 12:62

En hy het aan sy dienaars gesê: Plaas hulle geld terug in hulle sakke, dat hulle dit mag herken wanneer hul na hulle familie terugkeer, en sodat hulle sal terugkom

Verse 63 — Surah Yusuf 12:63

En toe hulle na hul vader teruggekeer het, het hulle gesê: O ons vader, die maat word van ons teruggehou; stuur daarom ons broer saam met ons sodat ons ’n volle maat kan ontvang; en ons sal goed na hom kyk

Verse 64 — Surah Yusuf 12:64

Hy het geantwoord: Sal ek hom aan julle toevertrou, soos ek sy broer voorheen aan julle toevertrou het? Maar Allah is die groot Beskermer, en Hy is die Genadigste van die wie genade betoon

Verse 65 — Surah Yusuf 12:65

En toe hulle hul sakke oopmaak, het hulle gevind dat hul geld aan hulle teruggegee was. Hulle het gesê: O ons vader, wat meer kan ons verlang? Hier is ons geld aan ons teruggegee, en ons sal koring vir ons familie bring en ons sal ons broer oppas, en boonop ’n kameelvrag vol ontvang. Dit is ’n maklike maat

Verse 66 — Surah Yusuf 12:66

Hy het geantwoord: Ek sal hom nie aan julle toevertrou voordat julle in die naam van Allah belowe om hom weer na my terug te bring, tensy julle oorval word nie. En nadat hulle die belofte afgelê het, het hy gesê: Allah is die Bewaker van wat ons sê

Verse 67 — Surah Yusuf 12:67

En hy het gesê: O my seuns! Gaan nie deur een poort binne nie, maar deur verskillende poorte. En ek kan julle in niks teen Allah help nie. Die beslissing berus alleen by Hom. In Hom stel ek my vertroue, en laat almal wat wil vertrou, hul vertroue alleen in Hom stel

Verse 68 — Surah Yusuf 12:68

En toe hulle binnegaan soos hulle vader aanbeveel het, het dit vir hulle teen Allah niks gebaat nie; dit was slegs ’n sielsverlange van Jakob wat hy wou bevredig. En waarlik, hy het kennis gehad, want Ons het hom dié kennis gegee; maar die meeste mense weet dit nie

Verse 69 — Surah Yusuf 12:69

En toe hulle by Josef binnegegaan het, het hy sy broer by hom gehuisves, en gesê: Ek is u broer; treur daarom nie oor wat hulle doen nie

Verse 70 — Surah Yusuf 12:70

En toe hy hulle van lewensmiddele voorsien het, het iemand die drinkbeker in sy broer se sak gesit. Toe het ’n omroeper uitgeroep: O karavaan! Julle is waarlik diewe

Verse 71 — Surah Yusuf 12:71

Hulle het gesê terwyl hulle na hul gedraai het: Wat vermis julle

Verse 72 — Surah Yusuf 12:72

Hulle het geantwoord: Ons vermis die koning se drinkbeker; en wie dit terugbring, sal ’n kameelvrag koring ontvang; en ek staan borg daarvoor

Verse 73 — Surah Yusuf 12:73

Josef se broers het geantwoord: By Allah, julle weet goed ons het nie met kwade bedoelings hierheen gekom nie, en ons is geen diewe nie

Verse 74 — Surah Yusuf 12:74

Die Egiptenare het gesê: Maar wat sal die straf wees indien julle leuenaars is

Verse 75 — Surah Yusuf 12:75

Hulle het geantwoord: Die straf daarvoor sal wees: Hy, in wie se sak dit gevind word, sal self die boete daarvoor wees. Só straf ons die misdadigers

Verse 76 — Surah Yusuf 12:76

Daarna het hy met húlle sakke begin voordat hy die sak van die broer deursoek het; en hy het dit toe uit die broer se sak gehaal. So het Ons dit vir Josef beplan. Hy kon, volgens die wet van die koning, nie sy broer hou nie, tensy dit Allah behaag het. Ons verhef wie Ons wil. En bo elke besitter van kennis staan die Alleswetende

Verse 77 — Surah Yusuf 12:77

Hulle het gesê: As hy ’n dief is, dan het ’n broer van hom voorheen ook gesteel. Maar Josef het dit in sy hart geheim gehou, en het dit nie aan hulle vertel nie. Hy het gesê: Julle verkeer in ’n slegte toestand. Allah weet of dit die waarheid is wat julle beweer

Verse 78 — Surah Yusuf 12:78

Hulle het gesê: O owerste! Hy het ’n vader, ’n baie ou man; neem daarom een van ons in sy plek. Waarlik, ons sien dat u een van die weldoeners is

Verse 79 — Surah Yusuf 12:79

Hy het geantwoord: Allah verhoed dat ons iemand anders as hom by wie ons eiendom gevind is in hegtenis sal neem, want dan sou ons waarlik onregverdig wees

Verse 80 — Surah Yusuf 12:80

En toe hulle wanhopig oor hom geword het, het hulle apart met mekaar beraadslaag. Die oudste van hulle het gesê: Weet julle nie dat julle vader ’n plegtige belofte in die naam van Allah van julle geneem het nie, en hoe julle voorheen in julle plig teenoor Josef gefaal het nie? So sal ek nie hierdie land verlaat nie, tensy my vader my dit toelaat, of Allah die saak vir my beslis; en Hy is die Beste Regter

Verse 81 — Surah Yusuf 12:81

Keer julle dan tot jul vader terug en sê: O ons vader! U seun het diefstal gepleeg. En ons getuig alleen waarvan ons weet, en ons kon waarlik nie teen die onvoorsiene waak nie

Verse 82 — Surah Yusuf 12:82

En vra die volk van die stad waar ons vertoef het, en die karavaan waarmee ons saamgetrek het. Waarlik, ons praat die waarheid

Verse 83 — Surah Yusuf 12:83

Hy het gesê: Nee, julle siele het iets groots vir julle gering laat lyk. Daarom is geduld paslik. Dit is moontlik dat Allah hulle weer aan my sal skenk. Waarlik, Hy is die Alleswetende, die Allerwyse

Verse 84 — Surah Yusuf 12:84

En hy het van hulle af weggedraai en gesê: Groot is my verdriet oor Josef! En sy oë was vol trane weens sy smart, maar hy het homself in bedwang gehou

Verse 85 — Surah Yusuf 12:85

Hulle het gesê: By Allah! Sal u dan nie ophou om aan Josef te dink voordat u wegkwyn of van smart omkom nie

Verse 86 — Surah Yusuf 12:86

Hy het geantwoord: Ek bekla my smart en verdriet alleen by Allah, en ek weet deur die genade van Allah wat julle nie weet nie

Verse 87 — Surah Yusuf 12:87

O my seuns! Gaan heen en verneem omtrent Josef en sy broer, en wanhoop nie aan die genade van Allah nie, want niemand wanhoop aan Allah se barmhartigheid nie, behalwe die ongelowiges

Verse 88 — Surah Yusuf 12:88

En toe hulle voor hom kom, het hulle gesê: O owerste! Armoede het oor ons en ons familie gekom, en ons het uit ons armoede ’n skamele bedraggie afgeknyp; gee ons daarvoor die volle maat en wees liefdadig. Voorwaar, Allah beloon die liefdadiges

Verse 89 — Surah Yusuf 12:89

Hy het gesê: Besef julle wat julle Josef en sy broer aangedoen het toe julle onkundig was

Verse 90 — Surah Yusuf 12:90

Hulle het geantwoord: Is ú dan Josef? Hy het gesê: Ek is Josef, en dit is my broer. Allah was ons waarlik genadig. Voorwaar, wie Allah vrees en geduldig is ~ Allah laat nie die loon van die weldoeners ooit verlore gaan nie

Verse 91 — Surah Yusuf 12:91

Hulle het geantwoord: By Allah! Allah het u waarlik bo ons verkies, en ons was gewis sondaars

Verse 92 — Surah Yusuf 12:92

Hy het gesê: Vandag is daar geen verwyt teen julle meer nie. Mag Allah julle vergewe; Hy is die Genadigste van die wie genade betoon

Verse 93 — Surah Yusuf 12:93

Vat hierdie hemp van my en lê dit voor die aangesig van my vader; hy sal dit begryp. En kom na my met jul hele familie

Verse 94 — Surah Yusuf 12:94

En toe die karavaan uit Egipte vertrek het, het hul vader gesê: Ek voel die mag van Josef aan, selfs al sou julle my hieroor as ’n swaksinnige beskou

Verse 95 — Surah Yusuf 12:95

Hulle het geantwoord: By Allah! U dwaal weer soos van ouds

Verse 96 — Surah Yusuf 12:96

En toe ’n bode met die blye tyding gekom het, het hy die hemp voor Jakob neergelê sodat Hy versekering kon hê. Hy het gesê: Het ek julle nie gesê dat ek deur die genade van Allah weet wat julle nie weet nie

Verse 97 — Surah Yusuf 12:97

Hulle het geantwoord: O ons vader! Vra vir ons tog vergifnis vir ons sondes; ons was voorwaar sondaars

Verse 98 — Surah Yusuf 12:98

Hy het gesê: Ek sal by my Heer om vergifnis vir julle vra. Waarlik, Hy is die Vergewensgesinde, die Genadevolle

Verse 99 — Surah Yusuf 12:99

En toe hulle by Josef aangekom het, het hy sy ouers by homself gehuisves en gesê: Kom Egipte in veiligheid binne soos dit Allah behaag

Verse 100 — Surah Yusuf 12:100

En hy het sy ouers op sy troon laat sit, en hulle het hul voor hom neergewerp. En hy het gesê: O my vader, dít is die vervulling van my vroeëre droom. My Heer het dit verwesenlik. En Hy was baie goed vir my toe Hy my uit die gevangenis verlos het, en u almal uit die woestyn uitgelei het, nadat die duiwel onmin tussen my en my broers gesaai het. Waarlik, my Heer is Goed vir wie Hy wil. Waarlik, Hy is die Alleswetende, die Allerwyse

Verse 101 — Surah Yusuf 12:101

My Heer! U het my ’n deel van die koninkryk geskenk en in die uitleg van drome onderrig. Skepper van die hemele en aarde, U is my Vriend in hierdie wêreld en in die Hiernamaals. Laat my in onderdanigheid sterf, en verenig my met die opregtes

Verse 102 — Surah Yusuf 12:102

Dít is die tydinge aangaande die Onsigbare wat Ons aan u openbaar, en u was nie by toe hulle oor hul saak besluit en planne beraam het nie

Verse 103 — Surah Yusuf 12:103

En die meeste mense glo nie, ofskoon u dit ernstig verlang

Verse 104 — Surah Yusuf 12:104

En u vra hulle geen beloning daarvoor nie. Dit is slegs ’n vermaning vir die mensdom

Verse 105 — Surah Yusuf 12:105

En hoeveel tekens is daar nie in die hemele en op die aarde wat hulle verbygaan nie! Tog draai hulle weg daarvan

Verse 106 — Surah Yusuf 12:106

En die meeste van hulle glo nie in Allah sonder om afgode naas Hom te stel nie

Verse 107 — Surah Yusuf 12:107

Voel hulle dan veilig teen die koms van ’n oorweldigende straf van Allah oor hulle, of teen die onverwagte koms van die Uur, wanneer hulle dit nie verwag nie

Verse 108 — Surah Yusuf 12:108

Sê: Dít is my weg: ek roep Allah aan met sekerheid ~ ek en hulle wat my volg. Heilig is Allah! En ek is nie een van die heidene nie

Verse 109 — Surah Yusuf 12:109

En Ons het vóór u ook niemand anders as mense gestuur na die stede aan wie Ons Ons openbaringe wou bring nie. Het hulle dan nie op die aarde gereis en gesien wat die einde was van diegene wat hulle voorafgegaan het nie? En die woning van die Hiernamaals is bestem vir húlle wat bewus is van Allah. Verstaan julle dan nie

Verse 110 — Surah Yusuf 12:110

En nie voordat die boodskappers gewanhoop en die mense gedink het dat daar aan hulle leuens vertel is, het Ons aan hulle hulp gestuur nie, en dan het Ons gered wie Ons wou. En Ons straf kan van ’n skuldige volk nie afgewend word nie

Verse 111 — Surah Yusuf 12:111

In hulle geskiedenis is daar waarlik ’n les vir mense met begrip. Dit is nie ’n verhaal wat vesin kan word nie, maar ’n vervulling van wat voorafgegaan het, en ’n helder verduideliking van alle dinge, en leiding en barmhartigheid vir ’n volk wat glo