Back to Languages

Afrikaans - Chapter 16 - An-Nahl

Translation by Imam M. A. Baker — Permalink

Verse 1 — Surah An-Nahl 16:1

Die gebod van Allah sal geskied; probeer dus nie om dit te verhaas nie. Heilig is Hy, en hoog verhewe is Hy bo alles wat hulle met Hom vereenselwig

Verse 2 — Surah An-Nahl 16:2

Hy stuur deur Sy gebod engele met openbaringe na wie van Sy dienaars Hy verkies, en sê: Waarsku dat daar geen god is nie, behalwe Ek; so vrees My

Verse 3 — Surah An-Nahl 16:3

Hý het die hemele en die aarde in waarheid geskape. Hoog verhewe is Hy bo alles wat hulle met Hom vereenselwig

Verse 4 — Surah An-Nahl 16:4

Hy het die mens van ’n sperm geskape, maar kyk! dié is ’n openlike teenstaander

Verse 5 — Surah An-Nahl 16:5

En ook die vee het Hy vir julle geskape. Hulle verskaf warm klere aan julle, en ook ander voordele, en hulle is daar om van te eet

Verse 6 — Surah An-Nahl 16:6

En hulle is mooi om na te kyk wanneer julle hulle saans huis toe dryf, en wanneer julle hulle soggens uitjaag om te wei

Verse 7 — Surah An-Nahl 16:7

En hulle vervoer julle swaar laste na streke wat julle nie sonder baie moeite kan bereik nie. Voorwaar, julle Heer is Barmhartig, Genadevol

Verse 8 — Surah An-Nahl 16:8

En perde en muile en esels het Hy geskape, sodat julle op hulle kan ry, en ook as vertoonstukke vir julle. En Hy het ook dinge geskape waarvan julle nie weet nie

Verse 9 — Surah An-Nahl 16:9

En dit is Allah se plig om julle die regte weg aan te wys, want daar is sommige afwykende weë. As Hy wil, sal Hy julle almal reg lei

Verse 10 — Surah An-Nahl 16:10

Dit is Hy wat die water uit die wolke vir julle afstuur; dit verskaf drank, en daardeur groei die bome waarvan julle voedsel verkry

Verse 11 — Surah An-Nahl 16:11

Daardeur laat Hy die gesaaides vir julle groei, en die olywe, en die dadelpalms, en die druiwe en al die ander vrugte. Daarin is waarlik ’n teken vir ’n volk wat nadink

Verse 12 — Surah An-Nahl 16:12

En Hy het vir julle die nag en die dag en die son en die maan in diens gestel. En ook die sterre word aan julle diensbaar gemaak. Voorwaar, hierin is tekens vir ’n volk wat verstaan

Verse 13 — Surah An-Nahl 16:13

En wat Hy op die aarde vir julle geskape het, is van verskillende kleure. Voorwaar, hierin is ’n teken vir ’n volk wat onthou

Verse 14 — Surah An-Nahl 16:14

En dit is Hy wat die see tot julle beskikking gestel het, sodat julle van die vangste daaruit kan eet, en die ornamente wat julle dra daaruit kan haal. En julle sien die skepe daaroor vaar, sodat julle van Sy volheid kan vra, en sodat julle dankbaar kan wees

Verse 15 — Surah An-Nahl 16:15

En Hy het ferm berge op die aarde geplaas sodat dit nie saam met julle sal wankel nie, en riviere en paaie sodat julle die regte weg kan inslaan

Verse 16 — Surah An-Nahl 16:16

En vir hierdie doel is daar ook landmerke. En met behulp van die sterre vind hulle die regte rigting

Verse 17 — Surah An-Nahl 16:17

Is Hy wat kan skep dan soos hy wat nié kan skep nie? Sal julle dan nie onthou nie

Verse 18 — Surah An-Nahl 16:18

En as julle Allah se gunste wil tel, sal julle vind dat dit onmoontlik is. Voorwaar, Allah is Vergewensgesind, Genadevol

Verse 19 — Surah An-Nahl 16:19

En Allah weet wat julle verberg en wat julle bekend maak

Verse 20 — Surah An-Nahl 16:20

En diegene wat hulle buiten Allah aanroep, het niks geskape nie, terwyl hulle self geskape is

Verse 21 — Surah An-Nahl 16:21

Dood is hulle, nie lewendig nie. En hulle weet nie wanneer hulle opgewek sal word nie

Verse 22 — Surah An-Nahl 16:22

Julle God is één God. En diegene wat nie in die Hiernamaals glo nie se harte weier om dit te erken, en hulle is hoogmoedig

Verse 23 — Surah An-Nahl 16:23

Allah weet ongetwyfeld wat hulle verberg en wat hulle bekend maak. Voorwaar, Hy het die hoogmoediges nie lief nie

Verse 24 — Surah An-Nahl 16:24

En wanneer aan hulle gevra word: Wat is dit wat julle Heer geopenbaar het? sê hulle: Fabels oor die ou volkere

Verse 25 — Surah An-Nahl 16:25

Dat hulle op die Dag van Opstanding hulle laste ten volle mag dra, en ook die laste van diegene wat hulle deur onkunde mislei het. Kyk! Boos is dít wat hulle dra

Verse 26 — Surah An-Nahl 16:26

Diegene vóór hulle het planne beraam, maar Allah het hulle gebou tot op die fondamente vernietig, sodat die dak van bo af op hulle geval, en die straf tot hulle gekom het, uit ’n rigting wat hulle geen idee van het nie

Verse 27 — Surah An-Nahl 16:27

En Hy sal op die Opstandingsdag skande oor hulle bring, en sê: Waar is My deelgenote ter wille van wie julle wederstrewig geword het? Dan sal hulle wat kennis dra, sê: Skande en kwaad sal waarlik vandag oor die ongelowiges kom

Verse 28 — Surah An-Nahl 16:28

oor húlle vir wie die engele laat sterf het terwyl hulle hul siele onreg aangedoen het. Dan sal hulle onderdanig wees en sê: Ons het geen kwaad gedoen nie. Nee! Allah weet wat julle gedoen het

Verse 29 — Surah An-Nahl 16:29

Gaan daarom deur die deure van die Hel, en bly daarin. Boos inderdaad is die woonplek van die hoogmoediges

Verse 30 — Surah An-Nahl 16:30

En daar sal aan hulle wat teen die kwaad waak, gesê word: Wat het julle Heer geopenbaar? Dan sal hulle sê: Die beste. Op hulle wat goed doen in hierdie wêreld, wag daar goed. En die tuiste van die Hiernamaals sal vir hulle aangenaam wees. En die tuiste van húlle wat godvresend is, is uitmuntend

Verse 31 — Surah An-Nahl 16:31

Tuine van Ewigheid waardeur riviere vloei, sal hulle binnegaan; daarin sal hulle ontvang wat hulle verlang. Só beloon Allah diegene wat godvresend is

Verse 32 — Surah An-Nahl 16:32

húlle vir wie die engele laat sterf terwyl hulle rein is, en sê: Vrede vir julle! Gaan die Hemel binne as beloning vir wat julle gedoen het

Verse 33 — Surah An-Nahl 16:33

Wag hulle1 dan net dat die engele na hulle moet kom, of dat die gebod van u Heer moet geskied? So het die mense vóór hulle ook gedoen. En Allah het hulle geen onreg aangedoen nie, maar hulle het aan hulself onreg aangedoen

Verse 34 — Surah An-Nahl 16:34

So het die kwaad wat hulle gedoen het, hulle oorval, en dít wat hulle bespot het, het hulle omring

Verse 35 — Surah An-Nahl 16:35

En die heidene sê: As Allah dit wou, sou ons niemand buiten Hom gedien het nie, en so sou ook ons vaders gedoen het; ook sou ons niks sonder Sy toestemming verbied het nie. So het mense vóór hulle ook gedoen. Maar is die boodskappers dan vir iets anders verantwoordelik as slegs vir die duidelike aflewering van ’n boodskap

Verse 36 — Surah An-Nahl 16:36

En waarlik, onder elke volk het Ons ’n boodskapper verwek wat moet sê: Dien Allah, en vermy die duiwel. En daar was sommige wat deur Allah gelei is, maar ook sommige van wie gesê kon word dat hulle verdien het om te dwaal. Reis daarom deur die land en sien wat was die einde van die leuenaars

Verse 37 — Surah An-Nahl 16:37

As u reken dat ook húlle reg gelei moet word, weet dan dat Allah nie diegene lei wat Hy laat dwaal het nie, en dat daar vir hulle ook geen helpers sal wees nie

Verse 38 — Surah An-Nahl 16:38

En hulle sweer hul sterkste eed dat Allah die dooies nie sal opwek nie. Maar waarlik, dit is vir Allah ’n bindende belofte, hoewel die meeste mense dit nie weet nie

Verse 39 — Surah An-Nahl 16:39

sodat Hy vir hulle kan duidelik maak waaroor hulle verskil, en sodat die ongelowiges kan weet dat hulle leuenaars is

Verse 40 — Surah An-Nahl 16:40

Wanneer Ons iets bestem, sê Ons slegs: Wees! en dit is

Verse 41 — Surah An-Nahl 16:41

En hulle wat ter wille van Allah moes emigreer omdat hulle onderdruk is, aan hulle sal Ons ’n goeie verblyf in hierdie wêreld gee, en die beloning in die Hiernamaals sal vir hulle nog groter wees. Het hulle dit maar geweet

Verse 42 — Surah An-Nahl 16:42

Hulle wat geduldig is en hulle vertroue in hul Heer stel

Verse 43 — Surah An-Nahl 16:43

En Ons het vóór u niemand anders gestuur nie as manne aan wie Ons eers ’n openbaring gestuur het ~ vra gerus vir die volgelinge van die Vermaning, indien julle nie weet nie

Verse 44 — Surah An-Nahl 16:44

en met duidelike tekens en Geskrifte. En Ons het die Vermaning aan u geopenbaar sodat u aan die mense kan verduidelik wat aan hulle geopenbaar is, sodat hulle mag nadink

Verse 45 — Surah An-Nahl 16:45

Is húlle wat bose planne beraam, dan só veilig dat Allah hulle nie op die aarde sal verneder nie, of dat die straf hulle nie sal oorval van waar hulle dit nie vermoed nie

Verse 46 — Surah An-Nahl 16:46

Of dat Hy hulle in hul bedrywighede nie eendag skielik sal vasvat nie, en hulle dan nie kan ontsnap nie

Verse 47 — Surah An-Nahl 16:47

Of dat Hy hulle stukkie vir stukkie sal aftakel, en hulle so vernietig nie? Julle Heer is inderdaad Barmhartig, Genadevol

Verse 48 — Surah An-Nahl 16:48

Sien hulle dan nie elke ding wat Allah geskape het nie? Hul skaduwees draai van regs na links, en prostreer hulself voor Allah, terwyl hulle heeltemal nederig is

Verse 49 — Surah An-Nahl 16:49

En elke lewende skepsel wat in die hemele of op die aarde is, is onderdanig aan Allah; en so ook die engele, en húlle is nie hoogmoedig nie

Verse 50 — Surah An-Nahl 16:50

Hulle vrees hulle Heer bo hulle, en doen wat hulle beveel word

Verse 51 — Surah An-Nahl 16:51

En Allah het gesê: Neem nie twee gode nie. Daar is slegs Een God. Vrees daarom My alleen

Verse 52 — Surah An-Nahl 16:52

En aan Hom behoort wat in die hemele en op die aarde is, en gehoorsaamheid kom Hom altyd toe. Sal julle dan iets buiten Allah vrees

Verse 53 — Surah An-Nahl 16:53

En watter seëninge julle ook ontvang, dit kom van Allah. En wanneer ’n kwelling julle laat huiwer, dan roep julle na Hom om hulp

Verse 54 — Surah An-Nahl 16:54

Wanneer Hy julle van die kwelling verlos, kyk! dan vereenselwig sommige van julle andere met jul Heer

Verse 55 — Surah An-Nahl 16:55

en hulle ontken wat Ons aan hulle gegee het. Onthaal julself dan, want julle sal weldra te wete kom

Verse 56 — Surah An-Nahl 16:56

En ’n gedeelte van die lewensonderhoud waarvan Ons hulle voorsien, sit hulle opsy vir afgode waarvan hulle niks weet nie. By Allah! Julle sal sekerlik ondervra word oor alles wat julle versin het

Verse 57 — Surah An-Nahl 16:57

En hulle skryf dogters aan Allah toe ~ heilig is Hy! ~ en vir hulleself net wat hulle begeer

Verse 58 — Surah An-Nahl 16:58

En wanneer die geboorte van ’n dogter aan een van hulle bekend gemaak word, dan word sy gesig swart en is hy vol toorn

Verse 59 — Surah An-Nahl 16:59

Hy verberg homself vir die volk, vanweë die slegte nuus. Sal hy haar in weerwil van skande behou, of sal hy haar lewendig begrawe? Voorwaar, boos is dít waarop hulle besluit

Verse 60 — Surah An-Nahl 16:60

Vir hulle wat nie in die Hiernamaals glo nie, is daar slegte kentekens, terwyl die kentekens van Allah die allerbeste is. En Hy is die Alrmagtige, die Allerwyse

Verse 61 — Surah An-Nahl 16:61

En as Allah die mense vir hul ongeregtigheid moet straf, sal Hy niemand kan laat oorbly nie; maar Hy verleen aan hulle uitstel vir ’n vasgestelde tyd. Wanneer die tyd dan aanbreek, kan hulle dit selfs nie ’n uur lank uitstel nie, nóg kan hulle dit vervroeg

Verse 62 — Surah An-Nahl 16:62

En hulle skryf aan Allah toe wat hulle vir hulself nie begeer nie, en hul tonge spreek die leuen dat die beste vir húlle bedoel is. Sekerlik is die Vuur vir hulle bedoel, en hulle sal daarin verlate wees

Verse 63 — Surah An-Nahl 16:63

By Allah! Ons het inderdaad boodskappers na die volkere vóór u gestuur, maar die duiwel het hulle eie dade vir hul aantreklik gemaak. Daarom is hy vandag hul beskermheer en wag daar op hulle ’n smartlike straf

Verse 64 — Surah An-Nahl 16:64

En om geen ander rede het Ons die Boek aan u geopenbaar nie, as dat u aan hulle kan verduidelik waaroor hulle verskil, en as ’n leiding vir ’n volk wat glo

Verse 65 — Surah An-Nahl 16:65

En Allah stuur water van bo, en gee daardeur lewe aan die aarde ná sy gesterwe het. Voorwaar, hierin is ’n teken vir ’n volk wat luister

Verse 66 — Surah An-Nahl 16:66

En die vee hou vir julle waarlik ’n les in: Ons gee vir julle om te drink van wat in hulle buik is ~ van dít wat tussen die uit- werpsels en die bloed is ~ suiwer melk, smaaklik vir die drinkers

Verse 67 — Surah An-Nahl 16:67

En van die vrugte van die dadelpalms en druiwe verkry julle sterk drank en goeie voedsel. Daar is sekerlik ’n teken hierin vir ’n volk wat sake oorweeg

Verse 68 — Surah An-Nahl 16:68

En u Heer het aan die by geopenbaar en gesê: Maak neste in die berge en in die bome, en in wat hulle bou

Verse 69 — Surah An-Nahl 16:69

Eet dan van al die vrugte, en volg onderdanig in die weë van u Heer. Daar kom uit hulle buik ’n drinkstof voort in verskillende kleure, waarin daar genesing vir die mens is. Alte seker is daar ’n teken hierin vir ’n volk wat bepeins

Verse 70 — Surah An-Nahl 16:70

En Allah skep julle, dan laat hy julle sterf; en daar is sommige van julle wat ’n hoë ouderdom bereik, sodat hy niks meer weet nie, hoewel hy voorheen kennis gehad het. Voorwaar, Allah is Alleswetend, Allermagtig

Verse 71 — Surah An-Nahl 16:71

En Allah het aan sommige van julle groter rykdom gegee as aan ander. Maar hulle aan wie Hy meer gegee het, gee nie van hulle besittings aan diegene wat hul regterhand besit, sodat hulle gelyk kan wees nie. Sal hulle dan die guns van Allah verloën

Verse 72 — Surah An-Nahl 16:72

En Allah het uit julleself eggenote vir julle gemaak, en deur húlle seuns en dogters aan julle gegee, en julle van goeie dinge voorsien. Sal hulle dan in valse dinge glo en die guns van Allah verloën

Verse 73 — Surah An-Nahl 16:73

En hulle aanbid buiten Allah dít wat vir hulle geen lewens- onderhoud, van die hemel of van die aarde, kan bewerk nie; ook besit hulle geen mag nie

Verse 74 — Surah An-Nahl 16:74

Maak daarom geen vergelykenis met Allah nie. Voorwaar, Allah weet, en julle weet nie

Verse 75 — Surah An-Nahl 16:75

Allah self vertel hierdie verhaal: Daar is ’n slaaf wat aan iemand behoort en geen gesag uitoefen nie, en daar is iemand aan wie Ons ’n groot lewensonderhoud geskenk het, sodat hy daarvan, heimlik of openlik, kan bestee. Is dié twee gelyk? Alle lof kom Allah toe! Nee, die meeste van hulle is onkundig

Verse 76 — Surah An-Nahl 16:76

En Allah verduidelik deur die verhaal van die twee mans: Een is stom, oefen geen gesag uit oor enigiets nie, en is ’n las vir sy meester. Waarheen hy hom ook al stuur, hy bring niks goeds terug nie. Kan hy dan die gelyke wees van hom wat geregtigheid voorstaan, en wat op die regte pad wandel

Verse 77 — Surah An-Nahl 16:77

En aan Allah behoort die Onsigbare dinge van die hemele en die aarde. En die Uur sal kom soos ’n oogwink, en die koms daarvan is naby. Voorwaar, Allah het mag oor alle dinge

Verse 78 — Surah An-Nahl 16:78

En Allah het julle voortgebring uit die baarmoeders van julle moeders, terwyl julle niks geweet het nie; en Hy het aan julle gehoor en gesig, asook harte, gegee sodat julle dankbaar kan wees

Verse 79 — Surah An-Nahl 16:79

Sien julle nie hoedat die voëls in die gewelf van die hemel in onderdanigheid gehou word nie? Niemand hou hulle teë nie, behalwe Allah. Voorwaar, daar is ’n teken hierin vir ’n volk wat glo

Verse 80 — Surah An-Nahl 16:80

En Allah het van julle huise ’n rusplek vir julle gemaak, en ook van die huide van julle vee vir julle woonplekke gemaak wat lig is om rond te dra gedurende die tyd wanneer julle reis, en ook wanneer julle rus; en Hy gee aan julle van hulle wol en hulle pelse en hulle hare, huishoudelike stowwe, en ’n voorsiening vir ’n tyd

Verse 81 — Surah An-Nahl 16:81

En uit wat Allah geskape het, het Hy vir julle skuiling gemaak, en Hy het vir julle skuilplekke in die berge gemaak; en Hy het vir julle klere gegee om julle teen hitte te beskerm, en pantsers as ’n beskerming in tye van oorlog. So vervolmaak Hy Sy gunste aan julle, sodat julle onderdanig kan wees

Verse 82 — Surah An-Nahl 16:82

Maar indien hulle hulself wegdraai, dan is u slegs verant- woordelik vir die duidelike aflewering van die boodskap

Verse 83 — Surah An-Nahl 16:83

Hulle herken die guns van Allah, en tog verloën hulle dit; en die meeste van hulle is ondankbaar

Verse 84 — Surah An-Nahl 16:84

En op die Dag wanneer Ons ’n getuie uit elke volk sal opwek, sal toestemming om hulself te verontskuldig nie aan die onge- lowiges toegestaan word nie, ook sal hulle nie toegelaat word om vir hul ongeregtighede te vergoed nie

Verse 85 — Surah An-Nahl 16:85

En wanneer die kwaaddoeners die straf ’n werklikheid sien word, sal dit vir hulle nie verlig word nie, en aan hulle sal ook nie uitstel verleen word nie

Verse 86 — Surah An-Nahl 16:86

En wanneer hulle wat deelgenote aan Allah toegeskryf het, hulle afgode sien, sal hulle sê: Ons Heer! Hier is ons afgode wat ons buiten U aanbid het. Maar hulle sal aan hulleself sê: Julle was voorwaar leuenaars

Verse 87 — Surah An-Nahl 16:87

En op daardie Dag sal hulle onderdanig wees aan Allah; en wat hulle versin het, sal hulle in die steek laat

Verse 88 — Surah An-Nahl 16:88

Hulle wat nie glo nie en ander van die weg van Allah afhou ~ Ons sal nog meer straf by hulle straf voeg, omdat hulle onheil gesaai het

Verse 89 — Surah An-Nahl 16:89

En dink aan die dag wanneer Ons onder elke volk ’n getuie teen hulle uit hul midde sal opwek, en u2 as getuie teen hulle sal inroep. En Ons het die Boek wat alle dinge verduidelik, aan u geopenbaar as leiding en genade, as goeie nuus vir diegene wat hulle oorgegee het

Verse 90 — Surah An-Nahl 16:90

Voorwaar, Allah gelas geregtigheid, en om goed te doen aan ander, en om aan naasbestaandes te gee wat hulle nodig het; en Hy verbied onbetaamlikheid en boosheid en opstandigheid. Hy vermaan julle sodat julle na kan dink

Verse 91 — Surah An-Nahl 16:91

En kom die verbond met Allah na wanneer julle ’n verbond sluit, en breek nie die eed ná dit bekragtig is nie, terwyl julle Allah tot julle Borg gemaak het. Voorwaar, Allah weet wat julle doen

Verse 92 — Surah An-Nahl 16:92

En wees nie soos sy wat haar gare uitrafel en dit stukkend skeur nadat sy dit stewig geweef het nie. Julle maak ’n eed as ’n middel tot bedrog tussen julle, omdat een volk talryker is as ’n ander. Allah beproef julle slegs hiermee. En op die Dag van Opstanding sal Hy dít waaroor julle verskil het, sekerlik duidelik maak

Verse 93 — Surah An-Nahl 16:93

En as Allah wou, sou Hy van julle ’n enkele volk gemaak het, maar Hy laat in dwaling verkeer wie Hy wil. En julle sal sekerlik ondervra word aangaande julle doen en late

Verse 94 — Surah An-Nahl 16:94

En moenie julle ede ’n middel tot bedrog tussen julle maak nie, anders kan ’n voet dalk glip nadat dit stewig was, en sal julle slegte gevolge moet dra omdat julle ander van die weg van Allah afgehou het; en dan sal daar ’n swaar straf vir julle wees

Verse 95 — Surah An-Nahl 16:95

En moenie Allah se verbond vir ’n geringe prys verkoop nie. Wat by Allah is, is voorwaar beter vir julle; het julle dit maar geweet

Verse 96 — Surah An-Nahl 16:96

Wat julle het, sal verbygaan, maar wat by Allah is, is ewig. En Ons sal diegene wat volhard, waarlik hulle beloning gee vir al die goeie dinge wat hulle gedoen het

Verse 97 — Surah An-Nahl 16:97

Wie ook al goeie dade verrig, hetsy man of vrou, en ’n gelowige is, Ons sal hom sekerlik ’n goeie lewe laat lei; en waarlik, Ons sal hulle beloon vir hul beste dade

Verse 98 — Surah An-Nahl 16:98

En wanneer julle die Qur’ãn voordra, soek dan julle toevlug tot Allah teen die vervloekte duiwel

Verse 99 — Surah An-Nahl 16:99

Voorwaar, hy het geen gesag oor diegene wat glo en hul vertroue in hulle Heer stel nie

Verse 100 — Surah An-Nahl 16:100

Sy gesag heers alleen oor diegene wat vriendskapsbande met hom aanknoop, en wat ander dinge met Allah vereenselwig

Verse 101 — Surah An-Nahl 16:101

En wanneer Ons een boodskap deur ’n ander boodskap vervang ~ en Allah weet die beste wat om te openbaar ~ dan sê hulle: U is slegs ’n bedrogpleger. Nee, die meeste van hulle weet nie

Verse 102 — Surah An-Nahl 16:102

Sê: Die Gees van Heiligheid het dit met die waarheid van u Heer geopenbaar, sodat dit diegene wat glo kan versterk, en sodat dit as leiding en blye tyding kan dien vir die onderdaniges

Verse 103 — Surah An-Nahl 16:103

En Ons weet inderdaad dat hulle sê: Dit is slegs ’n sterfling wat hom onderwys. Die tong van hóm wat hulle bedoel, is vreemd, terwyl hierdie ’n duidelike Arabiese taal is

Verse 104 — Surah An-Nahl 16:104

Hulle wat nie in Allah se tekens glo nie ~ Allah lei hulle nie; en vir hulle is daar ’n pynlike straf

Verse 105 — Surah An-Nahl 16:105

Net hulle wat nie in Allah se tekens glo nie, versin leuens; en húlle is die leuenaars

Verse 106 — Surah An-Nahl 16:106

Diegene wie Allah verwerp nadat hy geglo het ~ nie hy wat daartoe gedwing word terwyl sy hart met die geloof tevrede is nie, maar hý wat sy boesem vir die ongeloof oopmaak ~ op hulle rus die toorn van Allah, en vir hulle is daar ’n smartlike straf

Verse 107 — Surah An-Nahl 16:107

Dit is omdat hulle hierdie lewe meer liefhet as die Hiernamaals, en omdat Allah die ongelowige volk nie lei nie

Verse 108 — Surah An-Nahl 16:108

Hulle is dié wie se harte en ore en oë Allah verseël het, en húlle is die agtelosiges

Verse 109 — Surah An-Nahl 16:109

Ongetwyfeld sal hulle in die Hiernamaals die verloorders wees

Verse 110 — Surah An-Nahl 16:110

Dan is u Heer voorwaar ~ vir diegene wat moes vlug omdat hulle vervolg is, en daarna hard strewe en geduld toon ~ Vergewensgesind, Genadevol

Verse 111 — Surah An-Nahl 16:111

Op die Dag wanneer elke siel vir homself sal pleit, sal elke siel ten volle vergoed word vir wat hy gedoen het, en geen onreg sal hom aangedoen word nie

Verse 112 — Surah An-Nahl 16:112

En Allah stel dit voor deur die gelykenis van ’n stad waarin rus en vrede was, en waarheen voorsiening in oorvloed van alle kante gekom het; maar sy was nie dankbaar oor die gunste van Allah nie, en daarom het Allah veroorsaak dat smart en honger en vrees haar oorval, as ’n gevolg op hulle dade

Verse 113 — Surah An-Nahl 16:113

En waarlik, daar het ’n boodskapper uit hul midde na hulle gekom, maar hulle het hom verwerp, en daarom het die straf hulle ingehaal terwyl hulle boosdoeners was

Verse 114 — Surah An-Nahl 16:114

Eet daarom van wat Allah aan julle gegee het, wettige en goeie dinge; en wees dankbaar vir die guns van Allah, as dit Hy is wat julle aanbid

Verse 115 — Surah An-Nahl 16:115

Hy het slegs dít wat reeds dood was, bloed, varkvleis, en dít waaroor ’n ander naam uitgeroep is as dié van Allah, vir julle verbode verklaar; maar vir hom wat deur noodsaak gedwing word om te eet, terwyl hy dit nie so wou hê nie en ook nie die perke wou oorskry nie, is Allah Vergewensgesind, Genadevol

Verse 116 — Surah An-Nahl 16:116

En sê nie ~ vanweë die leuens wat julle tong spreek ~ dít is wettig en dít is onwettig nie, om sodoende ’n leuen teen Allah te versin. Voorwaar, hulle wat ’n leuen teen Allah wil versin, slaag nooit nie

Verse 117 — Surah An-Nahl 16:117

’n Kortstondige genot ~ en dan is daar vir hulle ’n pynlike straf

Verse 118 — Surah An-Nahl 16:118

En Ons het vir die Jode ook al die dinge verbied waarvan Ons aan u reeds melding gemaak het; en Ons het hulle geen onreg aangedoen nie, maar hulle het hulself onreg aangedoen

Verse 119 — Surah An-Nahl 16:119

U Heer is voorwaar ~ vir diegene wat onwetend kwaad doen en daarna berou het en daarvoor vergoed ~ Vergewensgesind, Genadevol

Verse 120 — Surah An-Nahl 16:120

Abraham was inderdaad ’n voorbeeld van deug: gehoorsaam aan Allah, opreg, nie een van die heidene nie

Verse 121 — Surah An-Nahl 16:121

en dankbaar vir Sy gunste. Hy het hóm verkies en hom op die regte weg gelei

Verse 122 — Surah An-Nahl 16:122

En Ons het aan hom die goeie in hierdie wêreld geskenk; en in die Hiernamaals sal hy sekerlik saam met die regverdiges wees

Verse 123 — Surah An-Nahl 16:123

En Ons het aan u geopenbaar: Volg die geloof van Abraham, die opregte, want hy was nie een van die heidene nie

Verse 124 — Surah An-Nahl 16:124

Die Sabbat is slegs vir húlle opgelê wat daaromtrent van mening verskil het. En op die Dag van Opstanding sal u Heer sekerlik tussen hulle oordeel oor dít waaroor hulle verskil het

Verse 125 — Surah An-Nahl 16:125

Roep tot die weg van u Heer met wysheid en goeie raad, en argumenteer met hulle op ’n gepaste wyse. Voorwaar, u Heer weet goed wie van Sy weg afgedwaal het, en Hy weet ook wie reg gelei is

Verse 126 — Surah An-Nahl 16:126

En indien julle jul kans waarneem, straf dan met ’n soortgelyke straf as dít waarmee júlle gekwel is. Maar as julle geduld kan beoefen, sal dit beter wees

Verse 127 — Surah An-Nahl 16:127

En wees geduldig; voorwaar, u geduld is alleen moontlik met die hulp van Allah. En treur nie oor hulle nie, en wees ook nie onrustig oor wat hulle beplan nie

Verse 128 — Surah An-Nahl 16:128

Voorwaar, Allah is met diegene wat Hom vrees, en met hulle wat goeddoen aan ander