Back to Languages

Afrikaans - Chapter 17 - Al-Isra

Translation by Imam M. A. Baker — Permalink

Verse 1 — Surah Al-Isra 17:1

Heilig is Hy wat Sy dienaar by nag, van die Heilige Moskee1 vervoer het na die Verre Moskee,2 waarvan Ons die omgewing geseën het, sodat Ons aan hom Ons tekens kon wys! Voorwaar, Hy is die Allerhorende, die Allessiende

Verse 2 — Surah Al-Isra 17:2

En Ons het aan Moses die Boek gegee, en dit ’n leiding vir die Kinders van Israel gemaak, en gesê: Neem vir julle geen Voog buiten My nie

Verse 3 — Surah Al-Isra 17:3

O nageslag van diegene wat Ons saam met Noag in die Ark vervoer het! Hy was inderdaad ’n dankbare dienaar

Verse 4 — Surah Al-Isra 17:4

En Ons het aan die Kinders van Israel in die Boek bekend gemaak: Voorwaar, twee maal sal julle in die land onheil saai; en julle gedrag sal uitermate aanmatigend wees

Verse 5 — Surah Al-Isra 17:5

Toe die tyd dan ook vir die eerste van die twee bedreigings aangebreek het, het Ons Ons dienaars met ontsaglike toerus- ting teen julle laat opruk, sodat hulle julle huise verwoes het. En dit was ’n vervulde belofte

Verse 6 — Surah Al-Isra 17:6

Toe het Ons julle weer ’n kans teen hulle gegee, en Ons het julle met rykdom en kinders geseën en julle getalle aansienlik laat toeneem

Verse 7 — Surah Al-Isra 17:7

En Ons het gesê: Indien julle goeddoen, doen julle dit aan julself. En indien julle kwaaddoen, is dit aan julself. En toe die tweede waarskuwing gekom het, het Ons ’n ander volk teen julle uitgestuur, sodat hulle julle in die verdriet kon bring en sodat hulle weer die Moskee kon binnegaan soos hulle dit die eerste maal binnegegaan het; en sodat húlle wat hulle verower het, met volslae verwoesting kon vernietig

Verse 8 — Surah Al-Isra 17:8

Dit mag wees dat julle Heer aan julle genade sal betoon. En indien julle tot die kwaad terugkeer, sal Ons die straf laat terugkeer. En Ons het die Hel ’n tronk vir die ongelowiges gemaak

Verse 9 — Surah Al-Isra 17:9

Voorwaar, hierdie Qur’ãn lei tot opregte dade; en bring ’n blye tyding aan die gelowiges wat goeie werke doen, dat hulle ’n groot beloning sal ontvang

Verse 10 — Surah Al-Isra 17:10

en dat Ons vir hulle wat nie in die Hiernamaals glo nie, ’n smartlike straf voorberei het

Verse 11 — Surah Al-Isra 17:11

En die mens vra na die kwaad soos hy na die goeie behoort te vra; en die mens is altyd haastig

Verse 12 — Surah Al-Isra 17:12

En Ons het die nag en die dag as twee tekens gemaak; Ons laat die teken van die nag verdwyn en Ons maak die teken van die dag helder, sodat julle die oorvloed van julle Heer kan soek, en sodat julle daarmee die jare kan tel en die tyd bereken. En Ons het alles duidelik gemaak

Verse 13 — Surah Al-Isra 17:13

En Ons het die dade van elke mens aan sy nek laat vaskleef, en Ons sal op die Dag van Opstanding aan hom ’n boek toon wat hy wyd oop sal vind

Verse 14 — Surah Al-Isra 17:14

Lees u boek. U eie siel is hierdie dag voldoende as rekenaar teen uself

Verse 15 — Surah Al-Isra 17:15

Wie die regte weg volg, volg dit slegs vir sy eie heil; en wie dwaal, dwaal slegs tot sy eie nadeel; en niemand sal die las van ’n ander dra nie. En Ons straf nooit voordat Ons ’n boodskapper gestuur het nie

Verse 16 — Surah Al-Isra 17:16

En wanneer Ons voornemens is om ’n stad te verwoes, stuur Ons Ons gebooie na sy volk wat luilekker lewe; maar hulle oortree dit, daarom word die woord teen haar bewaarheid, en Ons verwoes haar geheel en al

Verse 17 — Surah Al-Isra 17:17

Hoeveel geslagte het Ons nie al ná Noag verdelg nie! En u Heer is voldoende Bewus, en sien die sonde van Sy dienaars

Verse 18 — Surah Al-Isra 17:18

Wie hierdie verganklike lewe verkies: Ons verhaas vir hom daarin wat Ons behaag, en aan wie Ons wil; daarna sal Ons die Hel aan hom toesê. Verneder en verworpe sal hy dit binnegaan

Verse 19 — Surah Al-Isra 17:19

En wie na die Hiernamaals verlang en daarna strewe soos hy behoort te streef, en gelowig is ~ dit is húlle wie se ywer toereikend beloon sal word

Verse 20 — Surah Al-Isra 17:20

Aan almal gee Ons hulp ~ hierdie sowel as daardie ~ uit die gawe van u Heer; en die gawe van u Heer is nie beperk nie

Verse 21 — Surah Al-Isra 17:21

Kyk hoe Ons sommige van hulle bo ander laat uitblink. En voorwaar, in die Hiernamaals is ’n rang met groter heerlikheid

Verse 22 — Surah Al-Isra 17:22

Vereenselwig geen ander god met Allah nie, anders sal u verag en verlate gaan sit

Verse 23 — Surah Al-Isra 17:23

En julle Heer het verorden dat julle niemand buiten Hom sal aanbid nie, en dat julle aan beide ouers sal goeddoen. En indien enigeen van die twee of albei ’n hoë ouderdom by julle bereik, sê dan nie vir hulle: Foei! nie; en moet hulle ook nie afjak nie, en spreek met hulle ’n welgevallige woord

Verse 24 — Surah Al-Isra 17:24

En laat sak vir hulle die vleuel van ootmoed en erbarming, en sê: My Heer! Ontferm U oor hulle, omdat hulle my opgevoed het toe ek jonk was

Verse 25 — Surah Al-Isra 17:25

Julle Heer weet wat in julle gedagte omgaan. Indien julle opreg is, dan is Hy voorwaar Vergewensgesind tenoor diegene wat hulself bekeer

Verse 26 — Surah Al-Isra 17:26

En gee aan die naasbestaandes, en die behoeftiges, en die reisigers, wat hulle toekom, en vermors nie op ’n spandabele wyse nie

Verse 27 — Surah Al-Isra 17:27

Voorwaar, die verkwisters is die duiwel se broers. En die duiwel is altyd ondankbaar teenoor sy Heer

Verse 28 — Surah Al-Isra 17:28

En indien u u van hulle af wegdraai om die genade van u Heer te soek waarop u hoop, spreek dan sagte woorde met hulle

Verse 29 — Surah Al-Isra 17:29

En bind nie u hand aan u nek vas nie, en strek dit ook nie tot die uiterste nie, anders sal u in selfverwyt en gebrek gaan sit

Verse 30 — Surah Al-Isra 17:30

Voorwaar, u Heer gee ’n ruim lewensonderhoud vir wie Hy wil, maar Hy beperk ook. Voorwaar, Hy is altyd Bewus, Siener van Sy dienaars

Verse 31 — Surah Al-Isra 17:31

En moenie julle kinders doodmaak uit vrees vir armoede nie ~ Ons is dié wat húlle sowel as julle van die nodige voorsien. Voorwaar, om hulle dood te maak is ’n groot sonde

Verse 32 — Surah Al-Isra 17:32

En bly ver weg van onwetlike geslagsgemeenskap: waarlik, dit is liederlik. En boos is dié weg

Verse 33 — Surah Al-Isra 17:33

En moenie ’n siel doodmaak nie, want Allah verbied dit, tensy dit vir ’n regverdige saak is. En wie onregverdig doodgemaak word, aan sy erfgenaam het Ons inderdaad gesag verleen ~ maar in die teregstelling moet hy nie buitensporig optree nie. Voorwaar, hy sal deur die wet gesteun word

Verse 34 — Surah Al-Isra 17:34

En raak die eiendom van die weeskind nie aan nie, behalwe tot sy voordeel, totdat hy mondigheid bereik. En vervul die belofte; voorwaar, na die belofte sal uitgevra word

Verse 35 — Surah Al-Isra 17:35

En gee ’n volle maat wanneer julle afmeet, en weeg af met ’n behoorlike skaal. Dít is billik, en uiteindelik ook beter

Verse 36 — Surah Al-Isra 17:36

En volg nie iets waarvan julle geen kennis het nie. Waarlik, die gehoor en die gesig en die hart, almal tesame, sal ondervra word

Verse 37 — Surah Al-Isra 17:37

En gaan nie op die aarde rond op ’n hoogmoedige manier nie, want u kan die aarde nie ooptrap nie, ook kan u die berge nie in hoogte oortref nie

Verse 38 — Surah Al-Isra 17:38

Die sonde van al hierdie dinge is afskuwelik in die oë van u Heer

Verse 39 — Surah Al-Isra 17:39

Dit is wysheid wat u Heer aan u geopenbaar het. En vereensel- wig geen ander god met Allah nie, anders sal u in die Hel gewerp word, beskuldigd en verworpe

Verse 40 — Surah Al-Isra 17:40

Het julle Heer dan verkies om vir julle seuns te gee, en dogters vir Homself uit die engele geneem? Voorwaar, julle spreek ’n griewende woord

Verse 41 — Surah Al-Isra 17:41

En waarlik, in hierdie Qur’ãn het Ons herhaaldelik waarsku- wings verduidelik sodat hulle kan nadink; maar dit vererger hulle net

Verse 42 — Surah Al-Isra 17:42

Sê: As daar afgode saam met Hom is, soos hulle beweer, dan sou hulle tog sekerlik in staat gewees het om ’n weg na die Heer van die Troon te vind

Verse 43 — Surah Al-Isra 17:43

Heilig is Hy! En hoog verhewe is Hy bo wat hulle sê

Verse 44 — Surah Al-Isra 17:44

Die sewe hemele en die aarde en dít wat daarin is, loof en prys Hom. En daar is niks wat Hom nie loof met die lof wat Hom toekom nie, maar julle begryp nie hulle lof nie. Voorwaar, Hy is Verdraagsaam, Vergewensgesind

Verse 45 — Surah Al-Isra 17:45

En wanneer u die Qur’ãn voorlees, plaas Ons ’n verborge sluier tussen u en diegene wat nie in die Hiernamaals glo nie

Verse 46 — Surah Al-Isra 17:46

en Ons plaas bedekkings oor hulle harte en ’n doofheid in hulle ore, sodat hulle dit nie kan begryp nie. En wanneer u in die Qur’ãn u Heer ~ Die Enige ~ noem, keer hulle u in afkeur die rug toe

Verse 47 — Surah Al-Isra 17:47

Ons weet goed waarna hulle luister wanneer hulle u aanhoor, en wanneer hulle in die geheim beraadslaag, en wanneer die kwaaddoeners sê: U volg slegs ’n man sonder verstand

Verse 48 — Surah Al-Isra 17:48

Kyk waarmee vergelyk hulle u! So het hulle verdwaal geraak, en hulle kan die weg nie meer vind nie

Verse 49 — Surah Al-Isra 17:49

En hulle sê: Wanneer ons tot beendere en stof vergaan het, sal ons weer soos ’n nuwe skepping opgewek word

Verse 50 — Surah Al-Isra 17:50

Sê: Wees klippe of yster

Verse 51 — Surah Al-Isra 17:51

of enige ander skepsel wat volgens julle te hard is om lewendig te word. Maar hulle sal sê: Wie sal ons dan laat herlewe? Sê: Hý wat julle die eerste maal geskape het. Tog sal hulle hulle hoofde teen u skud en sê: Wanneer sal dit geskied? Sê: Waarskynlik is dit naby

Verse 52 — Surah Al-Isra 17:52

Die Dag wanneer Hy julle te voorskyn sal roep, sal julle Hom gehoorsaam wees en Hom loof, en julle sal dink dat julle slegs ’n rukkie vertoef het

Verse 53 — Surah Al-Isra 17:53

En sê aan My dienaars dat hulle moet praat wat welgevallig is. Voorwaar, die duiwel saai onenigheid tussen hulle. Die duiwel is sekerlik ’n openlike vyand van die mens

Verse 54 — Surah Al-Isra 17:54

Julle Heer ken julle die beste. Indien dit Hom behaag, sal Hy aan julle genade betoon; of, as dit Hom behaag, sal Hy julle straf oplê. En Ons het u nie as voog oor hulle gestuur nie

Verse 55 — Surah Al-Isra 17:55

En u Heer weet goed wie in die hemele en op die aarde is. En Ons het waarlik sommige profete bó ander laat uitmunt, en aan Dawid het Ons die Zaboer3 geopenbaar

Verse 56 — Surah Al-Isra 17:56

Sê: Roep diegene aan wat julle aan Hom gelykstel; hulle het geen mag om kwellings van julle te verwyder nie, ook nie om dit te verander nie

Verse 57 — Surah Al-Isra 17:57

Diegene wat hulle aanroep, soek self ’n toegangsmiddel tot hul Heer ~ wie van hulle ook al die naaste is ~ en hulle hoop op Sy barmhartigheid en vrees Sy straf. Voorwaar, die straf van u Heer is iets om van weg te bly

Verse 58 — Surah Al-Isra 17:58

En daar is nie ’n stad nie, of Ons sal dit vóór die Dag van Opstanding vernietig of met ’n kwaai kastyding bestraf. Dít staan in die Boek geskryf

Verse 59 — Surah Al-Isra 17:59

En niks het Ons verhinder om tekens te stuur nie, behalwe dat die vroeëre volke dit verwerp het. En Ons het aan Thamoed die kamelin gegee, ’n duidelike teken, maar hulle het haar kwaad aangedoen; en Ons stuur net tekens om te waarsku

Verse 60 — Surah Al-Isra 17:60

En Ons het aan u gesê: Voorwaar, u Heer omring al die mense. En Ons het nie die visioen wat Ons u getoon het, vir iets anders laat verskyn nie, as ’n beproewing vir die mense; en net so die vervloekte boom in die Qur’ãn. En Ons waarsku hulle, maar dit laat hulle slegs meer in oortreding toeneem

Verse 61 — Surah Al-Isra 17:61

En toe Ons aan die engele gesê het: Prostreer voor Adam! het almal prostreer, behalwe Iblies. Hy het gesê: Sal ek prostreer voor hom wat U uit stof geskape het

Verse 62 — Surah Al-Isra 17:62

Hy het verder gesê: Sien U? Dit is hý vir wie U bo my geëer het! Indien U my uitstel tot die Dag van Opstanding verleen, sal ek sekerlik sy nageslag mislei, behalwe ’n paar

Verse 63 — Surah Al-Isra 17:63

Hy het gesê: Gaan weg! En wie van hulle u ook al volg, die Hel sal sekerlik julle vergelding wees, en ’n volle beloning

Verse 64 — Surah Al-Isra 17:64

En bekoor wie u kan met u stem, en versamel teen hulle u ruitery en u voetsoldate, en wees hulle en hulle kinders se deelgenoot in weelde, en belowe hulle baie. En die duiwel se beloftes is slegs om mee te bedrieg

Verse 65 — Surah Al-Isra 17:65

My dienaars ~ oor húlle het u voorwaar geen gesag nie. En u Heer is voldoende as Beskermer

Verse 66 — Surah Al-Isra 17:66

Dit is u Heer wat die skepe vir julle oor die see laat vaar, sodat julle van Sy voordeel mag soek. Voorwaar, Hy is altyd Genade- vol

Verse 67 — Surah Al-Isra 17:67

En indien kwellinge julle op see oorval, verdwyn diegene wat julle buiten Hom aanroep; maar wanneer Hy julle veilig aan wal bring, draai julle weg. En die mens is altyd ondankbaar

Verse 68 — Surah Al-Isra 17:68

Voel julle dan seker dat Hy julle nie op land sal verneder, of ’n sterk wind oor julle sal afstuur nie? Dán sal julle nie ’n beskermer kan vind nie

Verse 69 — Surah Al-Isra 17:69

of voel julle gerus dat Hy julle nie op ’n ander geleentheid sal besoek, en dan ’n vreeslike stormwind oor julle sal afstuur, en julle só oorstelp, weens julle ondankbaarheid nie? Dan sal julle geen helper teen Ons in dié saak vind nie

Verse 70 — Surah Al-Isra 17:70

En voorwaar, Ons het die Kinders van Adam geëer en Ons vervoer hulle oor die land en die see, en Ons voorsien hulle van goeie dinge, en Ons laat hulle uitmunt bo die meeste van diegene wat Ons geskape het

Verse 71 — Surah Al-Isra 17:71

Op die Dag wanneer Ons elke volk met hulle leier sal oproep: aan wie hulle boeke in die regterhand gegee word, hulle sal hulle boeke lees, en hulle sal nie die minste onreg aangedoen word nie

Verse 72 — Surah Al-Isra 17:72

En wie blind is in hierdie wêreld, sal blind wees in die Hiernamaals; hy het ver van die regte pad afgedwaal

Verse 73 — Surah Al-Isra 17:73

En sekerlik het hulle probeer om u weg te kry van wat Ons aan u geopenbaar het, sodat u teen Ons iets moes versin; dan sou hulle u tot vriend geneem het

Verse 74 — Surah Al-Isra 17:74

En as Ons u nie versterk het nie, sou u inderdaad tot hulle geneig gewees het

Verse 75 — Surah Al-Isra 17:75

dan sou Ons u ’n dubbele straf in hierdie lewe en ’n dubbele straf ná die dood laat verduur het; en dan sou u teen Ons geen helper gevind het nie

Verse 76 — Surah Al-Isra 17:76

En waarlik, hulle het probeer om u te verskrik sodat hulle u van die land kon verdryf; maar dan sou hulle ná u vertrek tog maar ’n kort tydjie daarin vertoef het

Verse 77 — Surah Al-Isra 17:77

Dit is Ons weg met Ons boodskappers wat Ons vóór u gestuur het, en u sal geen verandering in Ons weg vind nie

Verse 78 — Surah Al-Isra 17:78

Onderhou die gebed gereeld, vanaf middag tot die donker van die nag, en dra die Qur’ãn voor met die daeraad. Voorwaar, die voordra van die Qur’ãn met die daeraad, word opgemerk

Verse 79 — Surah Al-Isra 17:79

En bly wakker daarby gedurende ’n gedeelte van die nag, buiten dít waartoe u verplig is; dit mag wees dat u Heer u tot ’n hoë rang sal verhef

Verse 80 — Surah Al-Isra 17:80

En sê: O my Heer! Laat my intrede ’n goeie intrede wees, en laat my uitgang ’n goeie uitgang wees, en skenk my van U gesag om my te help

Verse 81 — Surah Al-Isra 17:81

En sê: Die Waarheid het gekom en die valsheid het verdwyn. Voorwaar, die valsheid sal sekerlik verdwyn

Verse 82 — Surah Al-Isra 17:82

En van die Qur’ãn openbaar Ons dít wat ’n genesing en ’n genade vir die gelowiges is, maar dit vererger slegs die oordeel van die kwaaddoeners

Verse 83 — Surah Al-Isra 17:83

En wanneer Ons aan die mens gunste bewys, draai hy hom weg en gedra hom hoogmoedig; en wanneer die kwaad hom kwel, word hy wanhopig

Verse 84 — Surah Al-Isra 17:84

Sê: Elkeen gaan te werk op sy eie manier, maar julle Heer weet goed wie op die regte pad die beste gelei is

Verse 85 — Surah Al-Isra 17:85

En hulle stel u vrae omtrent die openbaring. Sê: Die openbaring geskied op die bevel van my Heer, en daarvan word aan julle maar min kennis gegee

Verse 86 — Surah Al-Isra 17:86

En as Ons wou, kon Ons sekerlik van u wegneem wat Ons aan u geopenbaar het, dan sal u niemand vind om u saak teen Ons te bepleit nie

Verse 87 — Surah Al-Isra 17:87

maar dit is ’n genade van u Heer. Voorwaar, Sy goedheid jeëns u is oorvloedig

Verse 88 — Surah Al-Isra 17:88

Sê: Indien die mens en djien sou saamspan om die gelyke van hierdie Qur’ãn voort te bring, sal hulle nie daarin slaag nie, ofskoon sommige van hulle helpers van ander was

Verse 89 — Surah Al-Isra 17:89

En voorwaar, Ons het dit aan die mens in die Qur’ãn op alle moontlike maniere verduidelik, maar die meeste mense toon slegs ondankbaarheid

Verse 90 — Surah Al-Isra 17:90

En hulle sê: Ons sal geensins in u glo nie, tensy u vir ons ’n bron uit die aarde kan laat ontspring

Verse 91 — Surah Al-Isra 17:91

of tensy u ’n tuin met dadelpalms en druiwe besit, wat u oorvloediglik uit riviere kan benat

Verse 92 — Surah Al-Isra 17:92

of tensy u die hemel in stukke op ons kan laat neerval, soos u blykbaar dink; of tensy u Allah en die engele van aangesig tot aangesig aan ons kan toon

Verse 93 — Surah Al-Isra 17:93

of tensy u ’n huis van goud het; of tensy u na die hemel opvaar: En ons sal nie in u hemelvaart glo nie tensy u ’n boek vir ons neerstuur waarin ons kan lees. Sê: Heilig is my Heer! Is ek iets anders as ’n menslike boodkskapper

Verse 94 — Surah Al-Isra 17:94

En niks het die mense belet om te glo toe die leiding na hulle gekom het nie, behalwe dat hulle sê: Het Allah ’n méns as boodskapper gestuur

Verse 95 — Surah Al-Isra 17:95

Sê: As daar op die aarde engele in veiligheid rondgedwaal het, sou Ons uit die hemel ’n engel as boodskapper na hulle gestuur het

Verse 96 — Surah Al-Isra 17:96

Sê: Voldoende is Allah as getuie tussen julle en my. Voorwaar, Hy is ewig Bewus, en Hy sien Sy dienaars

Verse 97 — Surah Al-Isra 17:97

En hy wat deur Allah gelei word, is op die regte pad; en dié wat Hy laat dwaal, vir hulle sal u geen voogde buiten Hom vind nie. En Ons sal hulle op die Dag van Opstanding op hulle aangesigte bymekaar bring; doof, stom en blind. Hulle tuiste is die Hel. Telkemale as die vuur afneem, sal Ons die vlam vir hulle aanstook

Verse 98 — Surah Al-Isra 17:98

Dít is hulle vergelding omdat hulle nie in Ons tekens glo nie, en gesê het: Sal ons weer in ’n nuwe skepping opgewek word wanneer ons beendere en stof geword het

Verse 99 — Surah Al-Isra 17:99

Sien hulle nie dat Allah, wat die hemele en die aarde geskape het, in staat is om hulle ewebeeld te skep nie? Hy het vir hulle ’n termyn vasgestel waaromtrent daar geen twyfel bestaan nie. Dog die kwaaddoeners toon slegs ondankbaarheid

Verse 100 — Surah Al-Isra 17:100

Sê: Indien julle die skatte van barmhartigheid van my Heer beheer, sou julle dit nogtans terughou uit vrees dat dit sou opraak. En die mens is altyd suinig

Verse 101 — Surah Al-Isra 17:101

En waarlik, Ons het Moses nege duidelike tekens gegee; vra gerus die Kinders van Israel daarna. Toe hy by hulle kom, het Farao aan hom gesê: Moses, ek dink dat u waarlik getoor is

Verse 102 — Surah Al-Isra 17:102

Hy het gesê: Voorwaar, u weet dat niemand anders nie as die Heer van die hemele en die aarde hierdie dinge as duidelike bewyse gestuur het; en ek glo, o Farao, dat u verlore is

Verse 103 — Surah Al-Isra 17:103

Aldus was hy voornemens om hulle uit die land te verwyder, maar Ons het hom en diegene wat by hom was, almal saam laat verdrink

Verse 104 — Surah Al-Isra 17:104

En Ons het aan die Kinders van Israel ná hom gesê: Woon in die land; maar toe die laaste belofte vervul was, het Ons julle almal opgerol

Verse 105 — Surah Al-Isra 17:105

En met waarheid het Ons dit geopenbaar, en met waarheid het dit gekom. En Ons het u slegs as ’n draer van blye tydings en as ’n waarskuwer gestuur

Verse 106 — Surah Al-Isra 17:106

En Ons het die Qur’ãn opverdeel, sodat u dit stuksgewys aan die volk kan voorlees; Ons het dit in stadia geopenbaar

Verse 107 — Surah Al-Isra 17:107

Sê: Glo daarin, of verwerp dit. Diegene aan wie reeds voorheen kennis daarvan geskenk is, val op hulle aangesig neer wanneer dit aan hulle voorgelees word

Verse 108 — Surah Al-Isra 17:108

en hulle sê: Lof en eer aan ons Heer! Die belofte van ons Heer sal sekerlik vervul word

Verse 109 — Surah Al-Isra 17:109

En wenend val hulle op die aangesig neer; en dit vermeerder hulle nederigheid

Verse 110 — Surah Al-Isra 17:110

Sê: Roep Allah aan of roep die Barmhartige aan. By welke naam julle Hom ook aanroep, Hy het die beste name. En sê julle gebed nie te hard en ook nie te sag nie, maar soek ’n middeweg

Verse 111 — Surah Al-Isra 17:111

En sê: Alle lof kom Allah toe, wat geen seun vir Homself geneem het nie, en wat geen deelgenoot in die Koninkryk het nie; nóg het Hy ’n helper weens swakheid; en verkondig Sy allesoortreffende grootheid