Heilig is Hy wat Sy dienaar by nag, van die Heilige Moskee1 vervoer het na die Verre Moskee,2 waarvan Ons die omgewing geseën het, sodat Ons aan hom Ons tekens kon wys! Voorwaar, Hy is die Allerhorende, die Allessiende
En Ons het aan die Kinders van Israel in die Boek bekend gemaak: Voorwaar, twee maal sal julle in die land onheil saai; en julle gedrag sal uitermate aanmatigend wees
Toe die tyd dan ook vir die eerste van die twee bedreigings aangebreek het, het Ons Ons dienaars met ontsaglike toerus- ting teen julle laat opruk, sodat hulle julle huise verwoes het. En dit was ’n vervulde belofte
En Ons het gesê: Indien julle goeddoen, doen julle dit aan julself. En indien julle kwaaddoen, is dit aan julself. En toe die tweede waarskuwing gekom het, het Ons ’n ander volk teen julle uitgestuur, sodat hulle julle in die verdriet kon bring en sodat hulle weer die Moskee kon binnegaan soos hulle dit die eerste maal binnegegaan het; en sodat húlle wat hulle verower het, met volslae verwoesting kon vernietig
Dit mag wees dat julle Heer aan julle genade sal betoon. En indien julle tot die kwaad terugkeer, sal Ons die straf laat terugkeer. En Ons het die Hel ’n tronk vir die ongelowiges gemaak
En Ons het die nag en die dag as twee tekens gemaak; Ons laat die teken van die nag verdwyn en Ons maak die teken van die dag helder, sodat julle die oorvloed van julle Heer kan soek, en sodat julle daarmee die jare kan tel en die tyd bereken. En Ons het alles duidelik gemaak
Wie die regte weg volg, volg dit slegs vir sy eie heil; en wie dwaal, dwaal slegs tot sy eie nadeel; en niemand sal die las van ’n ander dra nie. En Ons straf nooit voordat Ons ’n boodskapper gestuur het nie
En wanneer Ons voornemens is om ’n stad te verwoes, stuur Ons Ons gebooie na sy volk wat luilekker lewe; maar hulle oortree dit, daarom word die woord teen haar bewaarheid, en Ons verwoes haar geheel en al
Wie hierdie verganklike lewe verkies: Ons verhaas vir hom daarin wat Ons behaag, en aan wie Ons wil; daarna sal Ons die Hel aan hom toesê. Verneder en verworpe sal hy dit binnegaan
En julle Heer het verorden dat julle niemand buiten Hom sal aanbid nie, en dat julle aan beide ouers sal goeddoen. En indien enigeen van die twee of albei ’n hoë ouderdom by julle bereik, sê dan nie vir hulle: Foei! nie; en moet hulle ook nie afjak nie, en spreek met hulle ’n welgevallige woord
En moenie julle kinders doodmaak uit vrees vir armoede nie ~ Ons is dié wat húlle sowel as julle van die nodige voorsien. Voorwaar, om hulle dood te maak is ’n groot sonde
En moenie ’n siel doodmaak nie, want Allah verbied dit, tensy dit vir ’n regverdige saak is. En wie onregverdig doodgemaak word, aan sy erfgenaam het Ons inderdaad gesag verleen ~ maar in die teregstelling moet hy nie buitensporig optree nie. Voorwaar, hy sal deur die wet gesteun word
En raak die eiendom van die weeskind nie aan nie, behalwe tot sy voordeel, totdat hy mondigheid bereik. En vervul die belofte; voorwaar, na die belofte sal uitgevra word
Dit is wysheid wat u Heer aan u geopenbaar het. En vereensel- wig geen ander god met Allah nie, anders sal u in die Hel gewerp word, beskuldigd en verworpe
Die sewe hemele en die aarde en dít wat daarin is, loof en prys Hom. En daar is niks wat Hom nie loof met die lof wat Hom toekom nie, maar julle begryp nie hulle lof nie. Voorwaar, Hy is Verdraagsaam, Vergewensgesind
en Ons plaas bedekkings oor hulle harte en ’n doofheid in hulle ore, sodat hulle dit nie kan begryp nie. En wanneer u in die Qur’ãn u Heer ~ Die Enige ~ noem, keer hulle u in afkeur die rug toe
Ons weet goed waarna hulle luister wanneer hulle u aanhoor, en wanneer hulle in die geheim beraadslaag, en wanneer die kwaaddoeners sê: U volg slegs ’n man sonder verstand
of enige ander skepsel wat volgens julle te hard is om lewendig te word. Maar hulle sal sê: Wie sal ons dan laat herlewe? Sê: Hý wat julle die eerste maal geskape het. Tog sal hulle hulle hoofde teen u skud en sê: Wanneer sal dit geskied? Sê: Waarskynlik is dit naby
En sê aan My dienaars dat hulle moet praat wat welgevallig is. Voorwaar, die duiwel saai onenigheid tussen hulle. Die duiwel is sekerlik ’n openlike vyand van die mens
Julle Heer ken julle die beste. Indien dit Hom behaag, sal Hy aan julle genade betoon; of, as dit Hom behaag, sal Hy julle straf oplê. En Ons het u nie as voog oor hulle gestuur nie
En u Heer weet goed wie in die hemele en op die aarde is. En Ons het waarlik sommige profete bó ander laat uitmunt, en aan Dawid het Ons die Zaboer3 geopenbaar
Diegene wat hulle aanroep, soek self ’n toegangsmiddel tot hul Heer ~ wie van hulle ook al die naaste is ~ en hulle hoop op Sy barmhartigheid en vrees Sy straf. Voorwaar, die straf van u Heer is iets om van weg te bly
En niks het Ons verhinder om tekens te stuur nie, behalwe dat die vroeëre volke dit verwerp het. En Ons het aan Thamoed die kamelin gegee, ’n duidelike teken, maar hulle het haar kwaad aangedoen; en Ons stuur net tekens om te waarsku
En Ons het aan u gesê: Voorwaar, u Heer omring al die mense. En Ons het nie die visioen wat Ons u getoon het, vir iets anders laat verskyn nie, as ’n beproewing vir die mense; en net so die vervloekte boom in die Qur’ãn. En Ons waarsku hulle, maar dit laat hulle slegs meer in oortreding toeneem
En toe Ons aan die engele gesê het: Prostreer voor Adam! het almal prostreer, behalwe Iblies. Hy het gesê: Sal ek prostreer voor hom wat U uit stof geskape het
Hy het verder gesê: Sien U? Dit is hý vir wie U bo my geëer het! Indien U my uitstel tot die Dag van Opstanding verleen, sal ek sekerlik sy nageslag mislei, behalwe ’n paar
En bekoor wie u kan met u stem, en versamel teen hulle u ruitery en u voetsoldate, en wees hulle en hulle kinders se deelgenoot in weelde, en belowe hulle baie. En die duiwel se beloftes is slegs om mee te bedrieg
En indien kwellinge julle op see oorval, verdwyn diegene wat julle buiten Hom aanroep; maar wanneer Hy julle veilig aan wal bring, draai julle weg. En die mens is altyd ondankbaar
of voel julle gerus dat Hy julle nie op ’n ander geleentheid sal besoek, en dan ’n vreeslike stormwind oor julle sal afstuur, en julle só oorstelp, weens julle ondankbaarheid nie? Dan sal julle geen helper teen Ons in dié saak vind nie
En voorwaar, Ons het die Kinders van Adam geëer en Ons vervoer hulle oor die land en die see, en Ons voorsien hulle van goeie dinge, en Ons laat hulle uitmunt bo die meeste van diegene wat Ons geskape het
Op die Dag wanneer Ons elke volk met hulle leier sal oproep: aan wie hulle boeke in die regterhand gegee word, hulle sal hulle boeke lees, en hulle sal nie die minste onreg aangedoen word nie
En sekerlik het hulle probeer om u weg te kry van wat Ons aan u geopenbaar het, sodat u teen Ons iets moes versin; dan sou hulle u tot vriend geneem het
En waarlik, hulle het probeer om u te verskrik sodat hulle u van die land kon verdryf; maar dan sou hulle ná u vertrek tog maar ’n kort tydjie daarin vertoef het
Onderhou die gebed gereeld, vanaf middag tot die donker van die nag, en dra die Qur’ãn voor met die daeraad. Voorwaar, die voordra van die Qur’ãn met die daeraad, word opgemerk
Sê: Indien die mens en djien sou saamspan om die gelyke van hierdie Qur’ãn voort te bring, sal hulle nie daarin slaag nie, ofskoon sommige van hulle helpers van ander was
of tensy u die hemel in stukke op ons kan laat neerval, soos u blykbaar dink; of tensy u Allah en die engele van aangesig tot aangesig aan ons kan toon
of tensy u ’n huis van goud het; of tensy u na die hemel opvaar: En ons sal nie in u hemelvaart glo nie tensy u ’n boek vir ons neerstuur waarin ons kan lees. Sê: Heilig is my Heer! Is ek iets anders as ’n menslike boodkskapper
En hy wat deur Allah gelei word, is op die regte pad; en dié wat Hy laat dwaal, vir hulle sal u geen voogde buiten Hom vind nie. En Ons sal hulle op die Dag van Opstanding op hulle aangesigte bymekaar bring; doof, stom en blind. Hulle tuiste is die Hel. Telkemale as die vuur afneem, sal Ons die vlam vir hulle aanstook
Dít is hulle vergelding omdat hulle nie in Ons tekens glo nie, en gesê het: Sal ons weer in ’n nuwe skepping opgewek word wanneer ons beendere en stof geword het
Sien hulle nie dat Allah, wat die hemele en die aarde geskape het, in staat is om hulle ewebeeld te skep nie? Hy het vir hulle ’n termyn vasgestel waaromtrent daar geen twyfel bestaan nie. Dog die kwaaddoeners toon slegs ondankbaarheid
Sê: Indien julle die skatte van barmhartigheid van my Heer beheer, sou julle dit nogtans terughou uit vrees dat dit sou opraak. En die mens is altyd suinig
En waarlik, Ons het Moses nege duidelike tekens gegee; vra gerus die Kinders van Israel daarna. Toe hy by hulle kom, het Farao aan hom gesê: Moses, ek dink dat u waarlik getoor is
Hy het gesê: Voorwaar, u weet dat niemand anders nie as die Heer van die hemele en die aarde hierdie dinge as duidelike bewyse gestuur het; en ek glo, o Farao, dat u verlore is
Sê: Glo daarin, of verwerp dit. Diegene aan wie reeds voorheen kennis daarvan geskenk is, val op hulle aangesig neer wanneer dit aan hulle voorgelees word
Sê: Roep Allah aan of roep die Barmhartige aan. By welke naam julle Hom ook aanroep, Hy het die beste name. En sê julle gebed nie te hard en ook nie te sag nie, maar soek ’n middeweg
En sê: Alle lof kom Allah toe, wat geen seun vir Homself geneem het nie, en wat geen deelgenoot in die Koninkryk het nie; nóg het Hy ’n helper weens swakheid; en verkondig Sy allesoortreffende grootheid