Back to Languages

Afrikaans - Chapter 19 - Maryam

Translation by Imam M. A. Baker — Permalink

Verse 1 — Surah Maryam 19:1

Kaaf, Haa, Jaa, Ein, Sôd

Verse 2 — Surah Maryam 19:2

’n Vermelding van die barmhartigheid van u Heer aan Sagaria

Verse 3 — Surah Maryam 19:3

Toe hy sy Heer in die geheim aangeroep het

Verse 4 — Surah Maryam 19:4

Hy het gesê: My Heer! My gebeente het swak geword en my hoof glans met grys hare, en my gebed tot U, o my Heer, was nooit vergeefs nie

Verse 5 — Surah Maryam 19:5

Maar ek vrees my bloedverwante ná my; en my vrou is onvrugbaar; skenk my ’n opvolger van Uself

Verse 6 — Surah Maryam 19:6

sodat hy my en die huis van Jakob tot erfgenaam mag wees. En maak hom, my Heer, U welgevallig

Verse 7 — Surah Maryam 19:7

Allah het geantwoord: Sagaria, Ons bring u die goeie nuus van ’n seun wie se naam Johannes sal wees: Sy gelyke het Ons nog nooit voorheen gemaak nie

Verse 8 — Surah Maryam 19:8

Hy het gesê: My Heer, hoe kan daar aan my ’n seun gegee word terwyl my vrou onvrugbaar is en ek reeds die laaste grens van die ouderdom bereik het

Verse 9 — Surah Maryam 19:9

Hy het gesê: So sal dit wees. U Heer sê: Dit is maklik vir My; Ek het u voorheen geskape toe u niks was nie

Verse 10 — Surah Maryam 19:10

Hy het gesê: My Heer! Gee my ’n teken. Hy het gesê: U teken is dat u vir drie agtereenvolgende dae en nagte met niemand sal praat nie, terwyl u tog blakende gesondheid sal geniet

Verse 11 — Surah Maryam 19:11

So het hy dan uit die allerheiligste vertrek na sy volk gegaan en aan hulle verkondig: Verheerlik Allah soggens en saans

Verse 12 — Surah Maryam 19:12

O Johannes! Hou vas aan die Boek met krag. En Ons het aan hom wysheid verleen terwyl hy nog ’n kind was

Verse 13 — Surah Maryam 19:13

en sagmoedigheid van Ons, en reinheid. En hy was opreg

Verse 14 — Surah Maryam 19:14

en goed vir sy ouers, en nie parmantig en ongehoorsam nie

Verse 15 — Surah Maryam 19:15

Vrede was met hom op die dag van sy geboorte, en op sy sterf- dag, en dit sal so wees op die Dag waarop hy weer opgewek sal word

Verse 16 — Surah Maryam 19:16

En vermeld Maria in die Boek. Hoe sy haarself van haar familie onttrek het en na ’n afgeleë plek in die Ooste vertrek het

Verse 17 — Surah Maryam 19:17

en sy het haar van hulle afgesluier. Toe het Ons Ons gees tot haar gestuur en hy het aan haar verskyn in die gestalte van ’n volmaakte man

Verse 18 — Surah Maryam 19:18

Sy het gesê: Ek neem my toevlug tot die Barmhartige teen u, indien u iemand is wat teen die kwaad waak

Verse 19 — Surah Maryam 19:19

Hy het geantwoord: Ek is maar net ’n boodskapper van u Heer wat sê: Ek sal haar ’n rein seun gee

Verse 20 — Surah Maryam 19:20

Sy het geantwoord: Hoe kan ek ’n seun baar terwyl geen man my aangeraak het nie, en ek ook nie ontugtig was nie

Verse 21 — Surah Maryam 19:21

Hy het gesê: So sal dit wees. U Heer sê: Dit is maklik vir My; Ons sal hom ’n teken vir die mense maak, en ’n genade van Ons. En dit is ’n beslote saak

Verse 22 — Surah Maryam 19:22

En sy het hom ontvang en met hom na ’n afgeleë plek vertrek

Verse 23 — Surah Maryam 19:23

En die smarte van die bevalling het haar na die stam van ’n palmboom gedryf. Sy het gesê: Het ek maar liewer voorheen gesterf en vergete geraak

Verse 24 — Surah Maryam 19:24

Maar ’n stem van benede het na haar geroep: Moenie treur nie; waarlik, u Heer het ’n stroompie vir u laat ontspring

Verse 25 — Surah Maryam 19:25

en trek die stam van die palmboom na u toe; dit sal vars, ryp dadels vir u laat afval

Verse 26 — Surah Maryam 19:26

Eet, drink en spoel u oë uit. En indien u iemand sien, sê dan: Waarlik, ek het aan die Barmhartige ’n gelofte afgelê om te vas; daarom sal ek vandag met niemand praat nie

Verse 27 — Surah Maryam 19:27

En sy het haar kind na haar volk teruggedra. Hulle antwoord was: O Maria, u het iets vreemds gedoen

Verse 28 — Surah Maryam 19:28

O suster van Aäron! U vader was geen verdorwe man en u moeder nie ’n onkuise vrou nie

Verse 29 — Surah Maryam 19:29

Maar sy het na hom gewys. Hulle het gesê: Hoe kan ons praat met ’n kind wat nog in die wieg lê

Verse 30 — Surah Maryam 19:30

En hy het gesê: Ek is waarlik ’n dienaar van Allah. Hy het my die Boek gegee en van my ’n profeet gemaak

Verse 31 — Surah Maryam 19:31

en Hy sal my geseënd laat wees, waar ek my ook al mag bevind; en Hy het my die gebed en die gee van gunste opgelê solank as wat ek lewe

Verse 32 — Surah Maryam 19:32

en ook dat ek my moeder gehoorsaam moet wees; en Hy het nie van my ’n weerspannige en ongeseënde gemaak nie

Verse 33 — Surah Maryam 19:33

En vrede was met my op die dag van my geboorte en sal met my wees op die dag van my afsterwe, en so ook weer op die Dag wanneer ek opgewek sal word

Verse 34 — Surah Maryam 19:34

So was Jesus, die seun van Maria. En dit is oor hierdie ware verklaring dat hulle argumenteer

Verse 35 — Surah Maryam 19:35

Dit pas nie by Allah dat Hy ’n seun vir Homself moet neem nie. Heilig is Hy! Wanneer Hy ’n beslissing vel, sê Hy slegs: Wees! en dit word

Verse 36 — Surah Maryam 19:36

Voorwaar, Allah is my Heer en julle Heer; daarom moet julle Hom dien. Dít is die regte weg

Verse 37 — Surah Maryam 19:37

Maar sektes onder hulle het met mekaar van mening verskil. Wee dan die ongelowiges, omdat hulle aanwesig sal wees op ’n smartlike dag

Verse 38 — Surah Maryam 19:38

Hoe helder sal hulle hoor en sien op die Dag wanneer hulle tot Ons sal terugkeer; waarlik, die kwaaddoeners verkeer vandag in duidelike dwaling

Verse 39 — Surah Maryam 19:39

En waarsku hulle teen die Dag van Spyt, wanneer die oordeel gevel sal word. Tans is hulle agteloos en ongelowig

Verse 40 — Surah Maryam 19:40

Voorwaar, Ons sal die aarde en wie daarop is, beërwe, en tot Ons sal hulle terugkeer

Verse 41 — Surah Maryam 19:41

En vermeld Abraham in die Boek. Voorwaar, hy was waar- heidliewend, ’n profeet

Verse 42 — Surah Maryam 19:42

Toe hy aan sy vader gesê het: O my vader! Waarom aanbid u dinge wat nie hoor nie, ook nie sien of u op enige wyse van nut kan wees nie

Verse 43 — Surah Maryam 19:43

O my vader! Aan my is daar kennis geskenk wat aan u nie geskenk is nie. Volg daarom vir my en ek sal u op die regte pad lei

Verse 44 — Surah Maryam 19:44

O my vader! Moenie die duiwel dien nie. Voorwaar, die duiwel is die Barmhartige ongehoorsaam

Verse 45 — Surah Maryam 19:45

O my vader! Ek vrees dat die straf van die Barmhartige u sal tref en dat u ’n vriend van die duiwel sal word

Verse 46 — Surah Maryam 19:46

Sy antwoord was: Versaak u my gode, o Abraham? As u nie nou ophou nie, sal ek u moet verdryf. Laat my dan ’n tyd lank met rus

Verse 47 — Surah Maryam 19:47

Hy het gesê: Vrede vir u! Ek sal by my Heer om vergifnis vir u smeek. Waarlik, Hy is altyd Goed vir my

Verse 48 — Surah Maryam 19:48

En ek sal my ver hou van u en van die dinge wat u buiten Allah aanroep; en ek sal my Heer aanroep. Miskien sal my gebede nie ongeseënd wees nie

Verse 49 — Surah Maryam 19:49

Daarom dat Ons ~ toe hy van hulle en die dinge wat hul aanbid het, afskeid geneem het ~ Isak en Jakob aan hom geskenk het. En van elkeen van hulle het Ons ’n profeet gemaak

Verse 50 — Surah Maryam 19:50

En Ons het hulle van Ons barmhartigheid geskenk, en Ons het hulle ’n ware en verhewe erenaam geskenk

Verse 51 — Surah Maryam 19:51

En vermeld Moses in die Boek. Voorwaar, hy was ’n opregte persoon, ’n boodskapper en ’n profeet

Verse 52 — Surah Maryam 19:52

En Ons het hom van die geseënde kant van die berg af geroep, en Ons het hom nader laat tree vir ’n gesprek

Verse 53 — Surah Maryam 19:53

En deur Ons genade het Ons aan hom sy broer Aäron gegee, ’n profeet

Verse 54 — Surah Maryam 19:54

En vermeld Isma-eel in die Boek. Voorwaar, hy het sy belofte gestand gedoen, en hy was ’n boodskapper, ’n profeet

Verse 55 — Surah Maryam 19:55

En hy het sy volk die gebed en die gee van gunste opgelê; en sy Heer het welbehae gehad in hom

Verse 56 — Surah Maryam 19:56

En vermeld Iederies2 in die Boek. Voorwaar, hy was ’n waarheidliewende man, ’n profeet

Verse 57 — Surah Maryam 19:57

En Ons het vir hom ’n hoë aansien gegee

Verse 58 — Surah Maryam 19:58

Húlle is dit oor wie Allah Sy seëninge uitgestort het onder die profete van die nageslag van Adam, en van diegene wat Ons saam met Noag vervoer het, en van die nageslag van Abraham en Israel, en van diegene wat deur Ons gelei en uitverkies is. Toe die tekens van die Barmhartige aan hulle voorgedra is, het hulle hul in onderdanigheid wenend neergewerp

Verse 59 — Surah Maryam 19:59

Maar ná hulle het daar ’n slegte nageslag gekom, wat gebede verspil en aan hulle lae begeertes gehoor gegee het. Hulle sal weldra hul verdoemenis tegemoetgaan

Verse 60 — Surah Maryam 19:60

behalwe diegene wat berou toon, glo en goeie werke verrig ~ hulle sal die Tuin binnegaan, en hulle sal geen onreg aangedoen word nie

Verse 61 — Surah Maryam 19:61

Tuine van Ewigheid wat die Barmhartige in die Onsigbare aan Sy dienaars beloof het. Voorwaar, Sy belofte sal geskied

Verse 62 — Surah Maryam 19:62

Hulle sal geen ydele gesprek daarin hoor nie, net: Vrede! En soggens en saans sal hulle hul lewensonderhoud ontvang

Verse 63 — Surah Maryam 19:63

Dít is die Paradys wat Ons as erfenis aan Ons dienaars wat godvresend is, sal skenk

Verse 64 — Surah Maryam 19:64

En Ons engele daal nie af nie, behalwe op die bevel van u Heer. Aan Hom behoort alles wat voor en alles wat agter ons is, en wat daartussen is; en u Heer vergeet nooit

Verse 65 — Surah Maryam 19:65

Heer van die hemele en die aarde en wat tussen hulle is! Dien Hom daarom en wees geduldig in Sy diens. Ken u enigeen wat aan Hom gelyk is

Verse 66 — Surah Maryam 19:66

En die mens sê: Wanneer ek dood is, sal ek dan werklik weer tot die lewe teruggebring word

Verse 67 — Surah Maryam 19:67

Onthou die mens dan nie dat Ons hom voorheen geskape het toe hy niks was nie

Verse 68 — Surah Maryam 19:68

By u Heer dan! Ons sal hulle sekerlik almal tesame, en net so ook die duiwels, bymekaarbring; dan sal Ons hulle op hulle knieë rondom die Hel versamel

Verse 69 — Surah Maryam 19:69

Dan sal Ons sekerlik uit elke sekte diegene onder hulle uitkies wat die opstandigste teen die Barmhartige was

Verse 70 — Surah Maryam 19:70

Ons weet goed wie die verbranding daarin die meeste verdien

Verse 71 — Surah Maryam 19:71

Daar is niemand onder julle wat nie daarnatoe sal kom nie. Dit is ’n onvermydelike gebod van u Heer

Verse 72 — Surah Maryam 19:72

En Ons sal diegene red wat teen kwaad waak; en die kwaad- doeners sal Ons op hulle knieë daarin verlaat

Verse 73 — Surah Maryam 19:73

En wanneer Ons duidelike tekens aan hulle voorgedra word, dan sê die ongelowiges aan hulle wat glo: Wie van die twee partye verkeer in die gunstigste posisie, en wie se samekomste is die grootste

Verse 74 — Surah Maryam 19:74

En hoeveel geslagte vóór hulle het Ons nie vernietig nie, geslagte wat méér besittings en aansien gehad het

Verse 75 — Surah Maryam 19:75

Sê: Die Barmhartige verleen uitstel aan hulle wat in dwaling verkeer, totdat hulle die bedreiging sal sien: óf die straf óf die Uur. Dan sal hulle weet wie se posisie die haglikste en wie se strydkragte die swakste is

Verse 76 — Surah Maryam 19:76

En Allah laat hulle wat bereid is om leiding te volg, in navolging toeneem. En dade wat sal bly staan ~ die goeie dade ~ sal by u Heer die grootste beloning kry en die meeste winste afwerp

Verse 77 — Surah Maryam 19:77

Het u hom gesien wat weier om in Ons tekens te glo, en wat sê: Aan my sal seker tog ook rykdom en kinders geskenk word

Verse 78 — Surah Maryam 19:78

Het hy toegang tot die Onsigbare gehad, of het hy ’n verbond met die Barmhartige aangegaan

Verse 79 — Surah Maryam 19:79

Geensins! Ons verwerp wat hy sê; en Ons sal die duur van die kastyding vir hom verder verleng

Verse 80 — Surah Maryam 19:80

en Ons sal van hom erf wat hy sê; en hy sal alleen tot Ons terugkeer

Verse 81 — Surah Maryam 19:81

En hulle het gode buiten Allah geneem, sodat dit ’n bron van mag vir hulle kon wees

Verse 82 — Surah Maryam 19:82

geensins! Hulle sal inteendeel ontken dat hulle aanbid is, en ook hulle teenstanders wees

Verse 83 — Surah Maryam 19:83

Merk u dan nie dat Ons die duiwels tussen hulle, aanhits om hulle op te sweep nie

Verse 84 — Surah Maryam 19:84

Wees daarom nie haastig teen hulle nie. Ons sal hulle slegs ’n bepaalde aantal dae uitstel verleen

Verse 85 — Surah Maryam 19:85

Die Dag waarop Ons die godvresendes tot die Barmhartige sal bymekaar bring om eerbewyse te ontvang

Verse 86 — Surah Maryam 19:86

sal Ons ook die skuldiges soos dorstige kuddes na die Hel aandryf

Verse 87 — Surah Maryam 19:87

Vir hulle sal daar geen bemiddeling wees nie, behalwe vir hom wat ’n verbond met die Barmhartige gesluit het

Verse 88 — Surah Maryam 19:88

En hulle sê: Die Barmhartige het vir Homself ’n seun geneem

Verse 89 — Surah Maryam 19:89

Voorwaar, julle maak bose bewerings

Verse 90 — Surah Maryam 19:90

Dis om die hemele vanmekaar te laat skeur en die aarde te kloof en die berge in stukkies te laat val

Verse 91 — Surah Maryam 19:91

omdat hulle ’n seun aan die Barmhartige kon toeken

Verse 92 — Surah Maryam 19:92

En dit is die Barmhartige onwaardig dat Hy vir Hom ’n seun sou neem

Verse 93 — Surah Maryam 19:93

En daar is niemand in die hemele en die aarde nie, of hy kom tot die Barmhartige as ’n dienaar

Verse 94 — Surah Maryam 19:94

Voorwaar, Hy ken hulle, en Hy het hulle almal getel

Verse 95 — Surah Maryam 19:95

En elkeen van hulle sal op die Dag van Opstanding na Hom kom, alleen

Verse 96 — Surah Maryam 19:96

Hulle wat glo en goeie dade doen ~ aan hulle sal die Barm- hartige voorwaar liefde betoon

Verse 97 — Surah Maryam 19:97

Daarom het Ons dit vir u tong maklik gemaak, sodat u daarmee ’n blye tyding kon bring aan almal wat teen die kwaad waak, en sodat u ’n twissieke volk kon waarsku

Verse 98 — Surah Maryam 19:98

En hoeveel geslagte vóór hulle het Ons nie vernietig nie! Kan u nog enigeen van hulle sien of ’n geluid van hulle hoor