Back to Languages

    Afrikaans - Chapter 21

    Translation by Imam M. A. Baker

    Verse 1

    Vir die mense het die afrekening reeds naby gekom, en tog draai hulle in agteloosheid weg

    Verse 2

    Daar kom geen nuwe Vermaning tot hulle van hulle Heer nie, of hulle luister argeloos daarna

    Verse 3

    En hulle harte is agteloos. En hulle ~ die kwaadstigters ~ beraadslaag in die geheim en sê: Hy is niemand anders nie as ’n gewone sterfling soos julle self ook is; sal julle jul dan aan betowering oorgee terwyl julle dit kan sien

    Verse 4

    Hy het geantwoord: My Heer weet alles wat in die hemele en op die aarde gesê word, en Hy is die Alleshorende, die Alleswetende

    Verse 5

    Nee, sê hulle: ’n Mengelmoes van drome! Nee, hy het dit versin! Nee, hy is ’n digter! Laat hom dan ’n teken vir ons bring soos dié waarmee die vorige profete gestuur is

    Verse 6

    Vóór hulle het geen stad wat vernietig is, geglo nie; hoe sal húlle dan glo

    Verse 7

    En vóór u het Ons slegs manne gestuur aan wie Ons openbaring gestuur is; vra gerus die volgelinge van die Vermaning, indien julle dit nie weet nie

    Verse 8

    Ons het ook nie aan hulle liggame gegee wat voedsel nie nodig het nie, en hulle was ook nie onsterflik nie

    Verse 9

    So het Ons Ons beloftes gestand gedoen, en Ons het hulle gered en ook almal wat Ons wou; en Ons het die buitensporiges ver- delg

    Verse 10

    Ons het inderdaad ’n Boek aan julle geopenbaar waardeur julle aansien kan verwerf. Verstaan julle dan nie

    Verse 11

    En hoeveel stede wat vol van onregverdigheid was, het Ons vernietig! En daarna het Ons ’n ander volk verwek

    Verse 12

    En toe hulle Ons Mag ondervind het, kyk! toe het hulle op die vlug geslaan

    Verse 13

    Moenie vlug nie, en keer terug tot julle maklike leefwyse waaraan julle gewoond was, en na julle wonings, sodat julle ondervra kan word

    Verse 14

    Hulle het geantwoord: O wee ons! Waarlik, ons was onreg- verdig

    Verse 15

    En hierdie uitroep van hulle het nie opgehou nie totdat Ons hulle afgesny, uitgewis het

    Verse 16

    En Ons het nie die hemel en die aarde en wat tussen hulle is, as ’n grap geskape nie

    Verse 17

    As Ons daarvan ’n spel wou maak, sou Ons dit vir Onsself gehou het; maar dít wou Ons nie doen nie

    Verse 18

    Nee, Ons stel die Waarheid teen die valsheid, sodat dit sy kop kan verbrysel, en kyk! dit verdwyn. En wee julle vir wat julle beskryf

    Verse 19

    En aan Hom behoort alles wat in die hemele en op die aarde is. En diegene wat saam met Hom is, is nie te trots om Hom te dien nie, of te moeg daarvan nie

    Verse 20

    Hulle verheerlik Hom snags en bedags, en hulle word daar nie moeg van nie

    Verse 21

    Of het hulle gode uit die aarde geneem wat lewe gee

    Verse 22

    En indien daar in die hemele en op die aarde gode buiten Allah was, sou dit alles in chaos verkeer het. Verhewe is Allah, die Heer van die Troon, bo dit wat hulle beskryf

    Verse 23

    Hy kan nie ondervra word aangaande Sy dade nie, maar húlle sal ondervra word

    Verse 24

    Of het hulle gode buiten Hom geneem? Sê: Bring julle bewyse. Hier is ’n vermaning van diegene wat saam met my is, en ’n vermaning van diegene wat vóór my gewees het. Nee, die meeste van hulle ken die Waarheid nie, en hulle is daarvan afkerig

    Verse 25

    En Ons het geen boodskapper vóór u gestuur nie sonder dat Ons aan hom geopenbaar het: Daar is geen God nie buiten My; daarom aanbid slegs vir My

    Verse 26

    En hulle sê: Die Barmhartige het ’n seun vir Homself geneem. Heilig is Hy! Nee, hulle is geërde dienaars

    Verse 27

    hulle praat nie voordat Hy nie praat nie, en hulle doen slegs wat Hy beveel

    Verse 28

    Hy weet wat voor hulle is en wat agter hulle is, en vir niemand tree hulle in nie, behalwe vir diegene wat Hom behaag; en hulle sidder uit vrees vir Hom

    Verse 29

    En wie van hulle ook al sou sê: Ek is ’n god naas Hom, so iemand sal Ons met die Hel vergeld. Want só beloon Ons die onregverdiges

    Verse 30

    Sien die ongelowiges nie dat die hemele en die aarde toegemaak was, en dat Ons dit weer oopgemaak het nie? En Ons het uit water alles gemaak wat lewendig is. Sal hulle dan nie glo nie

    Verse 31

    En Ons het op die aarde stewige berge geplaas, anders sou hulle met hulle gebewe het; en Ons het daarin wye paaie gemaak sodat hulle die regte koers kan inslaan

    Verse 32

    En Ons het die hemele ’n bewaakte gewelf gemaak; nietemin ignoreer hulle hierdie tekens

    Verse 33

    En dit is Hy wat die nag en die dag en die son en so ook die maan geskape het. Alles beweeg in hulle bane

    Verse 34

    En Ons het aan geen mens vóór u ’n ewigdurende lewe geskenk nie. As ú sterf, sal húlle dan vir ewig lewe

    Verse 35

    Elke siel sal die dood proe. En Ons gee aan julle goed en kwaad as ’n beproewing. En tot Ons sal julle terugkeer

    Verse 36

    En wanneer die ongelowiges u sien, dan doen hulle niks anders nie as om u te spot; en hulle sê: Is dit hy wat van julle gode praat? En wanneer melding gemaak word van die Barmhartige God, verloën hulle Hom

    Verse 37

    Die mens is met ’n haastige natuur geskape. Ek sal My tekens weldra aan julle toon, maar vra My nie om gou te maak nie

    Verse 38

    En hulle sê: Wanneer sal hierdie belofte werklikheid word? Sê ons, indien julle opreg is

    Verse 39

    As die ongelowiges maar geweet het van die tyd wanneer hulle nie in staat sal wees om die Vuur van hulle gesigte af te weer nie, ook nie van hulle rûe nie, en hulle nie gehelp sal word nie

    Verse 40

    Nee, dit sal skielik op hulle afkom, en dit sal hulle verbyster; en hulle sal nie die mag hê om dit af te weer nie; ook sal aan hulle nie uitstel verleen word nie

    Verse 41

    En boodskappers vóór u is inderdaad bespot, maar dít waarmee hulle gespot het, het die spotters getref

    Verse 42

    Sê: Wie beskerm julle dag en nag behalwe die Barmhartige? Nee, hulle draai weg van die oordenkinge van hulle Heer

    Verse 43

    Of het hulle gode wat hulle teen Ons kan beskerm? Hulle kan hulself nie help nie, ook kan niks hulle teen Ons beskerm nie

    Verse 44

    Nee, Ons het aan hulle en hul vaders ’n voorsiening gegee, totdat hulle lewens verleng is. Sien hulle nie dat Ons die land besoek en die grense daarvan inperk nie? Sal hulle dan die oorhand kry

    Verse 45

    Sê: Ek waarsku julle slegs deur middel van openbaringe; dog die dowe hoor nie die aanroep wanneer hulle gewaarsku word nie

    Verse 46

    En indien ’n ademteug van die kastyding van u Heer hulle sou aanraak, sal hulle sê: O wee ons! Ons was inderdaad onreg- verdig

    Verse 47

    Ons sal ’n weegskaal van geregtigheid opstel op die Dag van Opstanding, sodat geen enkele siel in enige opsig onreg aangedoen sal word nie. Selfs die gelyke van ’n mosterdsaad se gewig sal nie ongemerk verbygaan nie. Ons is Genoegsaam as ’n Rekenaar

    Verse 48

    En voorwaar, Ons het Moses en Aäron die Maatstaf en ’n lig en ’n vermaning gegee vir diegene wat teen die kwaad waak

    Verse 49

    wat hulle Heer in die verborgene vrees, en voorbereid is op die Uur

    Verse 50

    En dit is ’n geseënde Vermaning wat Ons geopenbaar het. Sal julle dit dan ontken

    Verse 51

    En waarlik, Ons het voorheen aan Abraham sy regskapenheid geskenk, en Ons het hom goed geken

    Verse 52

    Toe hy aan sy vader en aan sy volk gesê het: Wat is hierdie beelde waaraan julle so geheg is

    Verse 53

    Hulle het geantwoord: Ons het gevind dat ons vaders hulle aan- bid

    Verse 54

    Toe het hy gesê: Voorwaar, julle sowel as julle vaders verkeer in duidelike dwaling

    Verse 55

    Hulle het gesê: Het u ons die waarheid gebring, of speel u met ons

    Verse 56

    Hy het geantwoord: Nee, julle Heer is die Heer van die hemele en die aarde. Hy het julle geskape; en ek is een van diegene wat daarvan getuig

    Verse 57

    En, by Allah! Ek sal sekerlik teen julle afgode ’n plan beraam nadat julle weggegaan en julle rûe daarvoor gedraai het

    Verse 58

    So het hy hulle aan stukke gebreek, behalwe die grootste, sodat hul tot hom kon terugkeer

    Verse 59

    Toe het hulle gesê: Wie het dit aan ons gode gedoen? Voorwaar, hy moet ’n kwaaddoener wees

    Verse 60

    Hulle het gesê: Ons het ’n jongeling met die naam van Abraham van hulle hoor praat

    Verse 61

    Hulle het gesê: Bring hom voor die oë van die volk; miskien kan hulle getuig

    Verse 62

    Hulle het gesê: Het ú dit aan ons gode gedoen, o Abraham

    Verse 63

    Hy het geantwoord: Sekerlik het iemand dit gedoen. Die grootste van hulle is hierdie een; maar vra vir húlle indien hulle kan praat

    Verse 64

    En toe het hulle tot inkeer gekom en aan mekaar gesê: Gewis, julle is self kwaaddoeners

    Verse 65

    Toe het hulle hul hoofde laat sak: U weet goed dat hulle nie kan praat nie

    Verse 66

    Hy het gesê: Dien julle dan buiten Allah die dinge wat julle geensins kan baat of skade kan berokken nie

    Verse 67

    Skande oor julle en oor dít wat julle buiten Allah aanbid! Het julle dan nie verstand nie

    Verse 68

    Hulle het gesê: Verbrand hom, en help jul gode indien julle enigiets wil doen

    Verse 69

    Ons het gesê: O vuur! Wees koel en vreedsaam vir Abraham

    Verse 70

    Hulle wou hom skade berokken, maar dit was húlle wat die slegste daarvan afgekom het

    Verse 71

    En Ons het hom en Lot gered, en aangewys vir die land wat Ons vir die volke geseën het

    Verse 72

    En Ons het Isak aan hom gegee, en Jakob as kleinseun. En Ons het hulle almal opreg gemaak

    Verse 73

    En Ons het leiers van hulle gemaak, wat die volk op Ons bevel gelei het, en Ons het aan hulle geopenbaar dat hulle moet goed doen en die gebed onderhou en gunste moet gee, en hulle het Ons alleen gedien

    Verse 74

    En aan Lot het Ons wysheid en kennis gegee, en Ons het hom verlos uit die stad van gruwels. Voorwaar, hulle was ’n bose volk, oortreders

    Verse 75

    en Ons het hom in Ons barmhartigheid opgeneem; hy was sekerlik een van die weldoeners

    Verse 76

    En toe Noag ons voorheen aangeroep het, het Ons sy gebed beantwoord en hom en sy volk van ’n groot rampspoed verlos

    Verse 77

    En Ons het hom gehelp teen die volk wat Ons tekens verwerp het. Voorwaar, hulle was ’n bose volk, en daarom het Ons hulle laat verdrink

    Verse 78

    En toe Dawid en Salomo uitspraak gegee het aangaande die weiveld waar die volk se skape gedurende die nag verdwaal het, was Ons Getuie van hulle oordeel

    Verse 79

    En Ons het Salomo insig in die saak gegee. En aan elkeen van hulle het Ons wysheid en kennis geskenk. En Ons het die berge en die voëls genoodsaak om saam met Dawid Ons lofpryse te besing

    Verse 80

    En Ons het hom onderrig in die smee van pantsers om julle teen aanvalle te beskerm; sal julle dan nie dankbaar wees nie

    Verse 81

    En aan Salomo het Ons die geweldige wind onderdanig gemaak. Deur Sy gebod het dit gewaai in die rigting van ’n land wat Ons geseën het. En Ons het kennis van alle dinge

    Verse 82

    En onder sy duikers was daar ook van die duiwels, en hulle het ook ander werk vir hom verrig; en Ons het oor hulle gewaak

    Verse 83

    En Job, toe hy sy Heer aangeroep het: Kwellinge het my getref, en U is die Genadigste van die genadiges

    Verse 84

    Toe het Ons sy gebed beantwoord en hom van moeilikhede verlos, en Ons het aan hom sy volk teruggegee en boonop nog die gelyke van hulle; ’n genade van Ons en ’n herinnering aan My onderdane

    Verse 85

    En Ismael en Iederies en Dhoel-Kiefil; hulle almal was tussen die geduldiges

    Verse 86

    en Ons het hulle in Ons genade opgeneem. Sekerlik, hulle was onder die weldoeners

    Verse 87

    En Dhoen-Noen,1 toe hy toornig van sy volk af weggegaan het, en toe hy gemeen het dat Ons hom nie in benoudheid sou bring nie, maar eindelik in sy smeekgebede uitgeroep het: Daar is geen God buiten U nie; Heilig is U! Ek was inderdaad een van die onregverdiges

    Verse 88

    Toe het Ons sy gebed beantwoord en hom van sy kwellings verlos. En sodoende verlos Ons die gelowiges

    Verse 89

    En Sagaria, toe hy tot sy Heer geroep het: My Heer! Laat my nie alleen nie! U is die Beste van die erfgename

    Verse 90

    Toe het Ons sy gebed beantwoord en Johannes aan hom gegee en sy vrou vir hom vrugbaar gemaak. En sekerlik het hulle met mekaar in goeie werk gewedywer, en Ons aangeroep in hoop en vrees; en hulle was ootmoedig voor Ons

    Verse 91

    En dink aan haar wat haar kuisheid bewaar het; Ons het Ons inspirasie in haar ingeblaas, en vir haar en haar seun ’n teken vir die nasies gemaak

    Verse 92

    Voorwaar, dít is julle gemeenskap: één gemeenskap; en Ek is julle Heer; aanbid My daarom

    Verse 93

    Tog verbreek hulle hul verbintenisse met mekaar; maar hulle sal almal tot Ons terugkeer

    Verse 94

    Hy wat goeie werk doen en gelowig is, sy pogings sal nie verwerp word nie, en Ons sal dit sekerlik tot sy voordeel aanteken

    Verse 95

    En vir ’n stad wat Ons verdelg het, is dit ’n onherroeplike gebod dat die volk daarvan nie sal terugkeer nie

    Verse 96

    Selfs wanneer Gog en Magog losgelaat sal word en op elke hoogte afstorm

    Verse 97

    En as die Uur van die Ware Belofte nader kom, kyk dan! die oë van hulle wat nie glo nie, sal wyd oop staar: Wee ons! Voorwaar, ons was agteloos; nee, ons was onregverdig

    Verse 98

    Voorwaar, julle en wat julle buiten Allah aanbid, is brandstof vir die Hel; daarin sal julle bymekaar gebring word

    Verse 99

    As hierdie dinge werklik gode was, sou dié lot hulle nie getref het nie. En almal sal daarin vertoef

    Verse 100

    Vir hulle sal daar geweeklaag wees, en hulle sal daarin ook nie hoor nie

    Verse 101

    Maar hulle wie se goeie beloning reeds vooruitgegaan het, sal ver daarvandaan gehou word

    Verse 102

    hulle sal nie die geringste geluid daarvan hoor nie, en hulle sal bly in die plek wat hulle siele begeer het

    Verse 103

    Die groot Ontsetting sal hulle nie bangmaak nie en die engele sal hulle ontmoet en sê: Dít is julle Dag, die Dag wat aan julle belowe is

    Verse 104

    Die Dag waarop Ons die hemel sal oprol soos ’n perkamentrol opgerol word. Soos Ons die eerste skepping begin het, so sal Ons dit weer voortbring. Dit is ’n belofte wat bindend vir Ons is. Voorwaar, Ons sál dit teweegbring

    Verse 105

    En Ons het inderdaad in die Boek geskryf, ná die vermaning, dat My opregte dienaars die land sal beërwe

    Verse 106

    Voorwaar, hierin is ’n boodskap vir ’n volk wat Ons aanbid

    Verse 107

    En Ons het u2 nie as iets anders gestuur nie, maar as ’n genade vir die nasies

    Verse 108

    Sê: Voorwaar, dit is aan my geopenbaar dat julle God slegs een God is: sal julle jul dan aan Hom onderwerp

    Verse 109

    Maar indien hulle wegdraai, sê dan: Ek het julle op ’n regverdige wye gewaarsku, en ek weet nie of dít waarmee julle bedreig word, naby of ver is nie

    Verse 110

    Voorwaar, Hy weet wat openlik gesê word, en Hy weet wat julle verberg

    Verse 111

    En ek weet nie of dit ’n beproewing vir julle sal wees, en of dit ’n voorsiening vir ’n bepaalde tyd is nie

    Verse 112

    Hy het gesê: My Heer! Oordeel in waarheid. En ons Heer is die Barmhartige, Wie se hulp ingeroep moet word teen wat julle aan Hom toeskryf