Back to Languages

    Afrikaans - Chapter 22

    Translation by Imam M. A. Baker

    Verse 1

    O mensdom! Wees bewus van jul Heer; waarlik, die skok van die Uur is verskriklik

    Verse 2

    Die Dag waarop julle dit sal beleef, sal elke sogende vrou haar suigeling verloor, en elke swanger vrou sal ontslae raak van wat in haar baarmoeder is, en u sal mense bedwelmd sien terwyl hulle tog nie dronk is nie. En die straf van Allah sal streng wees

    Verse 3

    En tussen die mense is daar ook diegene wat oor Allah argumenteer sonder kennis, en elke opstandige duiwel volg

    Verse 4

    Vir hom is dit voorgeskryf dat wie ook al hom tot vriend neem, deur hom mislei en na die straf van die Brandende Vuur gelei sal word

    Verse 5

    O mensdom! As julle twyfel oor die weeropstanding, dink dan daaraan dat Ons julle uit stof geskape het, daarna uit ’n sperm, toe uit ’n klont bloed, daarna uit ’n stuk vleis, sommige gevorm en ander ongevorm, sodat Ons dit aan julle duidelik kan maak. En Ons laat wat Ons behaag vir ’n vasgestelde tyd in die baarmoeders bly, daarna bring Ons julle as suigelinge voort, en Ons laat julle opgroei tot volwassenheid. Tussen julle is daar ook diegene wat deur die dood agterhaal word, en andere wat so ’n hoë ouderdom bereik dat hulle nie meer weet nie, terwyl hulle voorheen geweet het. En u sien hoe die aarde leweloos is, maar wanneer die reën daarop val, beweeg dit, swel op en bring mooi plante van alle soorte voort

    Verse 6

    Dit is omdat Allah die Waarheid is, en omdat Hy lewe gee aan die dooie, en omdat Hy mag het oor alle dinge

    Verse 7

    Voorwaar, die Uur waaraan geen twyfel is nie, kom nader; en Allah sal almal opwek wat in die grafte is

    Verse 8

    Entussendiemenseisdaarookdiegenewatoor Allahargumenteer sonder kennis, sonder leiding en sonder ’n liggewende Boek

    Verse 9

    en homself hooghartig afkeer ten einde ander van Allah se weg af te lei. Vir hom is daar skande in hierdie wêreld, en op die Dag van Weeropstanding sal Ons hom die straf van verbranding laat smaak

    Verse 10

    Dit is omdat julle twee hande dit vooruitgestuur het. En Allah is geensins onregverdig teenoor sy dienaars nie

    Verse 11

    En tussen die mense is daar ook diegene wat Allah weifelend aanbid. As dit met hom goed gaan, is hy tevrede, maar as ’n beproewing hom te beurt val, keer hy kopvooruit terug. Hy verloor hierdie wêreld en ook die Hiernamaals. Dit is ’n duidelike verlies

    Verse 12

    Hy roep buiten Allah daardie dinge aan wat hom nóg skade nóg voordeel kan bring; dit is ’n groot dwaling

    Verse 13

    Hy roep hóm aan wie se kwaad nader is as sy voordeel. Voor- waar, boos is die beskermer, en waarlik, boos is die metgesel

    Verse 14

    Voorwaar, Allah sal hom wat glo en goeie werke doen, Tuine laat binnegaan waardeur riviere stroom. Allah doen inderdaad wat Hy wil

    Verse 15

    Wie dink dat Allah hom1 in hierdie wêreld en die Hiernamaals nie sal help nie, laat hom op die een of ander wyse opstyg na die hemel en Allah se hulp probeer dwarsboom, en kyk of sy plan dít waaroor hy toornig is, kan wegkeer

    Verse 16

    En aldus het Ons dit geopenbaar, duidelike tekens; en Allah lei wie Hy wil

    Verse 17

    Diegene wat glo en die Jode en die Sabiërs en die Christene en die Magiërs en die heidene ~ voorwaar, Allah sal op die Dag van Opstanding tussen hulle oordeel. Sekerlik, Allah is Getuie oor alle dinge

    Verse 18

    Sien u dan nie dat alles wat in die hemele en op die aarde is, en die son en die maan en die sterre, en die berge en die bome, en die diere en baie mense, aan Allah onderdanig is nie? En baie is daar vir wie die straf geregverdig is. En diegene vir wie Allah verneder, niemand kan hom ophef nie. Voorwaar, Allah doen wat Hy wil

    Verse 19

    Hulle is twee teenstanders2 wat oor hulle Heer argumenteer. Vir hulle wat nie glo nie, sal daar ’n gewaad van Vuur uitgesny word. En kokende water sal oor hulle hoofde gegiet word

    Verse 20

    Daarmee sal hulle ingewande en hulle velle verteer word

    Verse 21

    En vir hulle is daar swepe van yster

    Verse 22

    Telkens wanneer hulle uit angstigheid wens om daaruit te gaan, sal hulle daarin teruggedryf word, en daar sal gesê word: Smaak die straf van verbranding

    Verse 23

    Sekerlik, Allah sal diegene wat glo en goeie dade doen, Tuine laat binnegaan waardeur riviere vloei. Hulle sal daarin met armbande van goud en met pêrels getooi word. En hulle gewaad daarin sal van sy wees

    Verse 24

    En hulle sal met rein woorde op die pad van die Prysenswaardige gelei word

    Verse 25

    Hulle wat nie glo nie en mense verhinder van die Heilige Moskee3 wat Ons vir alle mense aangewys het, of hy daarin woonagtig is of ’n besoeker is ~ en hy wat daarin onregverdig na goddeloosheid strewe ~ vir hom sal Ons ’n pynlike straf laat smaak

    Verse 26

    En toe Ons Abraham die plek van die Huis4 aangewys het, het Ons gesê: Vereenselwig niemand met My nie, en reinig My Huis vir diegene wat die Omwentelinge5 doen, en vir diegene wat vir die gebed opstaan en vooroorbuig en prostreer

    Verse 27

    En verkondig die bedevaart aan die mense. Hulle sal te voet of op elke maer kameel oor lang afstande na u kom

    Verse 28

    sodat hulle van hulle voordeel mag getuig en die Naam van Allah gedurende die vasgestelde dae uitspreek oor die viervoetige vee waarvan Hy hulle voorsien het. Eet dan daarvan, en voed die behoeftiges, die armes

    Verse 29

    Laat hulle dan voldoen aan die nodige reinigingshandelinge, en laat hulle hul gelofte nakom en wentel om die ou Huis6 gaan

    Verse 30

    Laat dit so wees. Wie daarom die heilige gebooie van Allah eer, vir hom sal dit die goeie verdien by sy Heer. En alle vee is vir julle geoorloof, behalwe dié wat andersins aan julle verkondig is. Vermy derhalwe die onreinheid van die afgodsbeelde, en vermy valse woorde

    Verse 31

    en wees opreg voor Allah, sonder om enigiets met Hom te vereenselwig. En wie iets met Allah vereenselwig, dit is asof hy van ’n hoogte afgeval en die voëls hom weggeruk het, of asof die wind hom na ’n afgeleë plek weggevoer het

    Verse 32

    Laat dit so wees. En wie die Simbole van Allah respekteer, voorwaar, hulle is die opregtes van harte

    Verse 33

    Daarin is voordele vir julle vir ’n vasgestelde tyd; daarna sal hulle offerplek by die Ou Huis wees

    Verse 34

    En vir elke volk het Ons handelinge van toewyding ingestel sodat hulle die Naam van Allah kan uitspreek oor die viervoetige diere wat Hy as voedsel aan hulle gegee het. Julle God is dus Een God, daarom moet julle aan Hom onderdanig wees. En bring ’n blye tyding aan die ootmoediges

    Verse 35

    aan hulle wie se harte met vrees vervul word wanneer Allah se Naam op die lippe geneem word, en dié wat geduldig is in hulle kwellings, en dié wat die gebed onderhou en bestee van die dinge waarmee Ons hulle bedeel het

    Verse 36

    En onder die heilige tekens van Allah het Ons vir u die offer- diere aangewys. Daarin is baie voordele vir u. Spreek daarom die Naam van Allah daaroor uit, terwyl hulle in rye staan. Wanneer hulle op hulle sye neerslaan, eet daarvan, en voed diegene wat vra en diegene wie nie vra nie. Want so het Ons dit aan julle diensbaar gemaak, sodat julle dankbaar kan wees

    Verse 37

    Nóg hulle vleis nóg hulle bloed bereik Allah, maar die godvresendheid is vir Hom aanneemlik. Daarom het Hy dit aan julle diensbaar gemaak, sodat julle Allah kan verheerlik vir dít waarnatoe Hy julle gelei het. En bring ’n blye tyding vir diegene wat aan andere goeddoen

    Verse 38

    Voorwaar, Allah beskerm die gelowiges. Voorwaar, Allah het niemand lief wat ontrou en ondankbaar is nie

    Verse 39

    Toestemming om te veg word verleen aan diegene teen wie oorlog gemaak is, omdat hulle verdruk word. En waarlik, Allah is in staat om hulle by te staan

    Verse 40

    hulle wat sonder billike rede uit hulle huise verdryf word, slegs omdat hulle sê: Ons Heer is Allah. En indien Allah nie sommige mense deur ander terugdryf nie, sou kloosters en kerke en sinagoges en moskees, waarin die Naam van Allah dikwels aangeroep word, afgebreek word. En Allah sal diegene ondersteun wat Hóm help. Allah is inderdaad Sterk, Almagtig

    Verse 41

    Hulle wat, indien Ons hulle in die land vestig, die gebed sal onderhou en die offergawes betaal, tot die goeie aanspoor en die kwaad verbied. En die einde van alle sake berus by Allah

    Verse 42

    En indien hulle u verwerp, weet dan dat die volk van Noag, Aad en Thamoed voorheen dieselfde gedoen het

    Verse 43

    net so het die volk van Abraham en die volk van Lot ook gedoen

    Verse 44

    en die bewoners van Mede, Moses was ook verwerp. Maar Ek het aan die ongelowiges uitstel verleen, daarna het Ek hulle gegryp; en hoe streng was My afkeuring toe

    Verse 45

    Hoeveel stede het Ons nie verdelg omdat hulle onregverdig was nie, sodat die dakke daaarvan ingestort het, en saam met hulle baie waterbronne en hoë, trotse paleise

    Verse 46

    Het hulle dan nie in die land gereis sodat hulle harte moes hê waarmee hulle kon verstaan, of ore waarmee hulle kon hoor nie? Want waarlik, dit is nie die oë wat blind is nie, maar dit is die harte in die boesems wat blind is

    Verse 47

    En hulle dring by u aan om die straf te verhaas, maar Allah sal nooit Sy Belofte verbreek nie. En voorwaar, ’n dag by u Heer is soos ’n duisend jaar by u berekening

    Verse 48

    En aan hoeveel stede het Ek nie uitstel verleen nie, hoewel hulle onregverdig was; maar daarna het Ek dit gegryp! En tot My is die terugkeer

    Verse 49

    Sê: O mensdom! Ek is slegs ’n duidelike waarskuwer vir julle

    Verse 50

    Vir hulle dan wat glo en goeddoen, vir hulle is daar vergifnis en ’n eervolle lewensonderhoud

    Verse 51

    Maar hulle wat probeer om Ons tekens kragteloos te maak, hulle is die inwoners van die Vlammende Vuur

    Verse 52

    En nog nooit het Ons ’n boodskapper of ’n profeet vóór u gestuur nie, of wanneer hy sy boodskap aflewer, probeer die duiwel sy verleidinge; maar Allah maak die inblasinge van die duiwel tot niet. Dan bevestig Allah Sy tekens. En Allah is Alleswetend, Allerwys

    Verse 53

    Sodat Hy die inblasinge van die duiwel as ’n beproewing kan gebruik vir diegene in wie se harte daar ’n siekte is, en wie se harte verhard is. Want voorwaar, die kwaaddoeners is in verre opposisie

    Verse 54

    En sodat hulle aan wie kennis gegee is, kan weet dat die Waarheid van u Heer kom, sodat hulle daarin kan glo en sodat hulle nederig voor Hom kan wees. En vir diegene wat glo, is Allah die Gids na die regte weg

    Verse 55

    En die ongelowiges sal nie ophou om daaraan te twyfel nie, totdat die Uur hulle onverwags agterhaal, of die straf van ’n rampsalige Dag oor hulle kom

    Verse 56

    Die koninkryk van daardie Dag sal Allah s’n wees. Hy sal oor hulle reg spreek. Maar hulle wat glo en goeddoen, sal in Tuine van Saligheid bly

    Verse 57

    En hulle wat nie glo nie en Ons tekens verwerp, vir hulle is daar ’n skandelike straf

    Verse 58

    En hulle wat ter wille van Allah migreer en dan sneuwel of sterwe, Allah sal sekerlik aan hulle ’n goeie voorsiening verskaf. En voorwaar, Allah is die Beste Voorsiener

    Verse 59

    Gewis sal Hy hulle ’n plek laat binnegaan waarmee hulle tevrede sal wees. Allah is inderdaad Alleswetend, Verdraagsaam

    Verse 60

    En so sal dit wees. En wie vergeld in dieselfde mate waarin hy onreg aangedoen is, en hy word onderdruk, Allah sal hom sekerlik bystaan. Waarlik, Allah is Vergewend, Vergewensgesind

    Verse 61

    Dit is omdat Allah die nag laat oorgaan in die dag, en die dag laat oorgaan in die nag, en omdat Allah Alleshorend, Allessiende is

    Verse 62

    en omdat Allah die Waarheid is, en dít wat hulle buiten Hom aanroep, vals is, en omdat Allah die Hoë, die Grote is

    Verse 63

    Sien u dan nie dat Allah water uit die wolke afstuur en die aarde daarna groen word nie? Allah is inderdaad Kennisdraend van alle geheime en ook die Allerbewuste

    Verse 64

    Aan Hom behoort alles wat in die hemele en op die aarde is. En waarlik, Allah is die Self-Genoegsame, die Lofwaardige

    Verse 65

    Merk u dan nie dat Allah alles wat op die aarde is aan julle diensbaar gemaak het, en dat die skepe op Sy bevel die see deur- klief nie? En Hy weerhou die hemel daarvan om sonder Sý toestemming op die aarde te val. Waarlik, Allah is Liefdevol en Genadevol teenoor die mense

    Verse 66

    En dit is Hy wat aan julle die lewe gee, en daarna laat Hy julle weer sterwe, waarna Hy julle weer sal opwek. Waarlik, die mens is ondankbaar

    Verse 67

    Vir elke volk het Ons gewyde seremonies vasgestel, sodat hulle dit kan onderhou. Laat hulle daarom nie met u oor die saak argumenteer nie, en roep u Heer aan. Waarlik, u volg die regte leiding

    Verse 68

    Maar as hulle met u argumenteer, sê dan: Allah weet goed wat julle doen

    Verse 69

    Allah sal op die Opstandingsdag tussen julle oordeel omtrent dít waaroor julle van mening verskil

    Verse 70

    Weet u dan nie dat Allah weet wat in die hemel en op die aaarde is nie? Sekerlik, dit is alles in ’n boek. Vir Allah is dit baie maklik

    Verse 71

    En hulle aanbid buiten Allah daardie dinge waartoe Hy geen magtiging verleen het nie en waarvan hulle ook niks weet nie. En vir die kwaaddoeners is daar geen helper nie

    Verse 72

    En wanneer Ons duidelike verse en tekens aan hulle voorgedra word, sal u afkeuring bespeur op die gesigte van die ongelowiges. Hulle sal diegene wat Ons verse voordra, byna wil aanval. Sê: Sal ek julle oor iets nog erger as dít inlig? Die Vuur! Allah het dit aan die ongelowiges belowe. En dit is ’n bose bestsemming

    Verse 73

    O mensdom! ’n Gelykenis word gegee; luister daarna. Voor- waar, diegene wat julle in plaas van Allah aanbid, kan selfs geen vlieg skep nie, al sou hulle dit almal saam probeer. En as ’n vlieg iets van hulle sou wegneem, sal hulle dit nie kan terugneem nie. Swak is sowel die soeker as diegene wat gesoek word

    Verse 74

    Hulle eer Allah nie met die agting wat Hom toekom nie. Voorwaar, Allah is Sterk, Allermagtig

    Verse 75

    Allah kies boodskapppers uit die engele en uit die mense. Voorwaar, Allah is Alleshorend, Allessiende

    Verse 76

    Hy weet wat voor hulle is en wat agter hulle is. En na Allah word alles weer teruggebring

    Verse 77

    O julle gelowiges! Buig vooroor en prostreer, en aanbid julle Heer, en doen goed, sodat julle suksesvol mag wees

    Verse 78

    En stry vir die saak van Allah met gepaste ywer. Hy het julle gekies en julle in die godsdiens geen las opgelê nie ~ dit is die geloof van julle vader Abraham. Hy het julle voorheen Moesliems genoem, en so ook in hierdie Boek, sodat die Boodskapper ’n getuie vir julle mag wees en dat julle getuies vir die ganse mensdom mag wees. Onderhou dus die gebed en betaal die offergawes, en hou vas aan Allah. Hy is julle Beskermer; uitmuntend die Beskermer en uitmuntend die Helper! In die Naam van Allah, die Barmhartige, die Genade