Back to Languages
Afrikaans - Chapter 33
Translation by Imam M. A. Baker
Verse 1
O Profeet! Wees bewus van Allah, en gehoorsaam nie die ongelowiges en huigelaars nie. Waarlik, Allah is Alleswetend, Allerwys
Verse 2
En volg wat u Heer aan u geopenbaar het. Voorwaar, Allah is altyd Bewus van wat julle doen
Verse 3
En vertrou op Allah. Allah is as Beskermer voldoende
Verse 4
Allah het vir geen man twee harte in sy binneste gemaak nie; ook het Hy nie van julle vroue ~ vir wie julle deur Ziehaar1 verstoot ~ julle moeders gemaak nie, ook het Hy nie van aangenome seuns vir julle ware seuns gemaak nie. Dit is slegs woorde wat uit julle monde kom. En Allah spreek die waarheid, en Hy wys die weg
Verse 5
Noem hulle op die name van hulle vaders, want dit is beter in die oë van Allah; maar as julle nie hulle vaders ken nie, dan is hulle julle broers in die geloof en julle vriende. En daar rus geen skuld op julle as julle jul vergis het nie, maar wel as julle dit in julle harte voorgeneem het. En Allah is altyd Vergewensgesind, Genadevol
Verse 6
Die Profeet staan nader aan die gelowiges as hulle self, en sy eggenotes is vir hulle soos moeders. En bloedverwante is in die oë van Allah nader aan mekaar as ander gelowiges en diegene wat uit Mekka gevlug het, tensy julle jul vriende ’n weldaad bewys. Dit is in die Boek neergeskryf
Verse 7
En toe Ons met die profete ’n verbond gesluit het ~ met u2 en met Noag en Abraham en Moses en Jesus, die seun van Maria ~ het Ons ’n hegte verbond gesluit
Verse 8
sodat Hy die opregtes oor hulle waarheid kan ondervra. En vir die ongelowiges het Hy ’n pynlike straf voorberei
Verse 9
O julle gelowiges! Herinner julle aan die guns van Allah toe daar leërs teen julle opgeruk het, en hoe Ons ’n sterk wind en leërskare wat vir julle nog verborge was, teen hulle uitgestuur het. En Allah sien altyd alles wat julle doen
Verse 10
Toe hulle by julle gekom het, van bo en van benede, en toe julle oë dof geword en julle harte in die keel geklop het, en toe julle allerhande dinge van Allah gedink het
Verse 11
Die gelowiges is daar beproef, en hulle is geskud met ’n hewige skok
Verse 12
En hoe die huigelaars en diegene in wie se harte daar ’n siekte was, gesê het: Allah en Sy boodskapper het ons slegs bedrog belowe
Verse 13
En hoe ’n gedeelte van hulle gesê het: O Volk van Jathrieb!3 Julle kan hier geen stand hou nie; keer daarom terug. En ’n gedeelte het selfs toestemming van die Profeet gevra, en gesê: Ons huise is blootgestel. Hulle was egter nie blootgestel nie; hulle wou maar net vlug
Verse 14
En as mense uit die omgewing by hulle sou binnedring en hulle vra om teen die Moesliems te veg, sou hulle dit sekerlik gedoen het. Hulle sou nie lank getalm het nie
Verse 15
En hulle het inderdaad voorheen ’n verbond met Allah gesluit dat hulle nie hul rûe sal draai nie. En ’n verbond met Allah is ’n saak waaroor uitgevra sal word
Verse 16
Sê: Vlug sal julle stellig nie baat as julle vir die dood of vir die geveg vlug nie, want julle genot sal maar kort wees
Verse 17
Sê: Wie is dit wat Allah kan verhinder as Hy van plan is om julle met kwaad te tref of om barmhartigheid aan julle te betoon? Vir hulleself sal hulle nie eens ’n voog of helper buiten Allah vind nie
Verse 18
Allah ken voorwaar diegene onder julle wat ander verhinder en wat aan hulle broers sê: Kom na ons toe. En hulle kom nie na die geveg nie, behalwe vir ’n rukkie
Verse 19
terwyl hulle julle skaars wil help. Maar as daar gevaar kom, sien u hulle na u kom met rollende oë soos iemand wat beswym by die doodstryd. Maar wanneer die vrees verdwyn het, tref hulle julle met hul skerp tonge omdat hulle na rykdom smag. Sodaniges glo nie, daarom het Allah hulle werke vrugteloos gemaak. En dít is maklik vir Allah
Verse 20
Hulle dink dat die bondgenote nie vertrek het nie; en as die bondgenote weer sou kom, sou hulle liewers onder die nomadiese Arabiere in die woestyn wil wees om na nuus aangaande julle uit te vra. En as hulle saam met julle is, sal hulle maar min veg
Verse 21
Voorwaar, julle het in die Boodskapper van Allah ’n uitmuntende voorbeeld vir hom wat op Allah en die Laaste Dag hoop, en wat baie aan Allah dink
Verse 22
En toe die gelowiges die bondgenote gesien het, het hulle gesê: Dít is wat Allah en Sy Boodskapper ons belowe het, en Allah en Sy Boodskapper het die waarheid gepraat. En dit het slegs hulle geloof versterk en hulle verder laat toeneem in onderdanigheid
Verse 23
Onder die gelowiges is daar manne wat getrou is aan die verbond wat hulle met Allah gesluit het; so is daar sommige van hulle wat hul eed gestand gedoen het, en ander wat nog wag, maar wat geensins verander het nie
Verse 24
sodat Allah die opregtes vir hulle opregtheid mag beloon en die huigelaars kan straf, indien Hy wil, of Hom in barmhartigheid tot hulle wend. Voorwaar, Allah is Vergewensgesind, Genadevol
Verse 25
Allah het die ongelowiges in hulle woede teruggehou, en hulle geen voordeel laat trek nie. En Allah was gedurende die slag ’n toereikende Beskermer vir die gelowiges. En Allah is Sterk, Allermagtig
Verse 26
En Hy het diegene van die Mense van die Boek wat hulle gesteun het, uit hulle vestings laat kom, en Hy het hulle harte met vrees vervul. Sommige het julle doodgemaak en ander het julle gevange geneem
Verse 27
En Hy het julle hulle land en hulle wonings en hulle eiendom laat erwe, en ook ’n land waarop julle nooit ’n voet gesit het nie. En Allah is die Eienaar, en Maghebber oor alle dinge
Verse 28
O Profeet! Sê aan u eggenotes: As julle na die lewe van hierdie wêreld en sy skynglans verlang, kom dan, ek sal julle ’n voorsiening skenk en julle op ’n welvoeglike wyse toelaat om die huis te verlaat
Verse 29
Maar as julle verlang na Allah, en na Sy Boodskapper, en na die Tuiste van die Hiernamaals, dan het Allah waarlik vir diegene onder julle wat goeie werke doen, ’n groot beloning voorberei
Verse 30
O Eggenotes van die Profeet! As iemand onder julle skuldig is aan onbetaamlike gedrag in die openbaar, sal die straf vir haar verdubbel word. En dít is maklik vir Allah
Verse 31
Maar wie aan Allah en Sy Boodskapper gehoorsaam is en goeie werke doen: Ons sal haar ’n dubbele beloning gee, en Ons het vir haar ’n eerlike voorsiening voorberei
Verse 32
O Eggenotes van die Profeet! Julle is nie soos ander vrouens nie. Indien julle jul plig wil nakom, moet dan geen verleidelike gesprek voer nie, anders sal hy in wie se hart daar ’n siekte is, verwagtinge koester; maar spreek ’n woord wat welgevallig is
Verse 33
En bly in julle huise, en moenie julle skoonheid tentoonstel soos onwetende vroue in die vroeëre dae nie; en onderhou die gebed en betaal die Zakaat4 en gehoorsaam Allah en Sy Boodskapper. O huisgenote! Allah begeer bo alles om die onreinheid van julle te verwyder en julle skoon en rein te maak
Verse 34
En onthou die tekens van Allah en die wysheid wat in julle huise aan julle voorgedra word. Voorwaar, Allah is Aldeurdringend, Allerbewus
Verse 35
Waarlik, die Moesliems en die Moesliema’s, en die gelowige mans en die gelowige vroue, en die gehoorsame mans en die gehoorsame vroue, en die opregte mans en die opregte vroue, en die geduldige mans en die geduldige vroue, en die nederige mans en die nederige vroue, en die mans en vroue wat offergawes gee, en die mans en vroue wat vas, en die mans en vroue wat hul kuisheid bewaar, en die mans en die vroue wat dikwels aan Allah dink: vir hulle het Allah vergifnis en ’n groot beloning voorberei
Verse 36
En dit betaam nie ’n gelowige man of ’n gelowige vrou ~ wanneer Allah en Sy Boodskapper oor ’n saak besluit het ~ dat daar nog vir hulle ’n keuse in die saak sal wees nie. En hy wat Allah en Sy Boodskapper nie gehoorsaam nie, het inderdaad ’n verkeerde koers ingeslaan
Verse 37
En toe u aan hom, aan wie Allah sowel as u guns bewys het, gesê het: Behou u vrou, en kom u plig teenoor Allah na. En u het in u hart verberg wat Allah aan die lig wou laat kom; en u het die mense gevrees, terwyl Allah meer reg daarop het dat u Hóm sou vrees. En toe Zeid van haar geskei het, het Ons haar as vrou aan u gegee, sodat daar vir die gelowiges geen beswaar meer sal wees ten opsigte van die vroue van aangenome seuns nie, nadat hulle geskei is. En die gebod van Allah móét uitgevoer word
Verse 38
Daar moet vir die Profeet geen beswaar wees aangaande dít wat Allah vir hom verorden het nie. Dit was ook die handelswyse van Allah met hulle wat reeds heengegaan het. En die gebod van Allah is ’n verordening wat bindend is
Verse 39
vir hulle wat die tekens van Allah aflewer en Hom vrees, en niemand buiten Allah vrees nie. En Allah is Genoegsaam in die verrekening
Verse 40
Moegammad is nie die vader van één van julle manne nie, maar hy is die Boodskapper van Allah, en die Seël van die profete. En Allah is altyd die Kennisdraer van alle dinge
Verse 41
O julle gelowiges! Dink dikwels aan Allah
Verse 42
en verheerlik Hom soggens en saans
Verse 43
Dit is Hy wat seëninge na julle stuur ~ en ook Sy engele doen dit ~ sodat Hy julle van die duisternis na die lig mag bring. En Hy is altyd Genadevol teenoor die gelowiges
Verse 44
Hulle groet op die Dag wanneer hulle Hom sal ontmoet, sal wees: Vrede! En Hy het ’n eervolle beloning vir hulle voorberei
Verse 45
O Profeet! Ons het u waarlik as ’n getuie, as ’n draer van blye tydinge en as ’n waarskuwer gestuur
Verse 46
en as ’n roeper tot Allah deur Sy gebod, en as ’n liggewende son
Verse 47
En gee aan die gelowiges die blye tyding dat hulle groot genade van Allah sal ontvang
Verse 48
En gehoorsaam nie die ongelowiges en die huigelaars nie, en slaan geen ag op hulle geterg nie, en stel u vertroue in Allah. En Allah is Toereikend as Beskermer
Verse 49
O julle gelowiges! As julle met gelowige vroue in die huwelik tree en daarna van hulle skei voordat julle hulle aangeraak het, dan hoef julle in hulle geval geen wagperiode te bereken nie. Skenk hulle daarom ’n gawe, en stel hulle op grootmoedige wyse vry
Verse 50
O Profeet! Ons het u vroue vir u wettig gemaak aan wie u bruidskatte gegee het; en diegene van hulle wat u regterhand besit ~ wat Allah as oorlogsbuit aan u gegee het ~ en die dogters van u ooms van vaderskant, en die dogters van u tantes van vaderskant, en die dogters van u ooms van moederskant, en die dogters van u tantes van moederskant, wat met u gevlug het; en ’n gelowige vrou, indien sy haarself aan die Profeet toevertrou, as die Profeet begeer om met haar te trou; dit is slegs vir ú en nie vir die gelowiges nie ~ Ons weet wat Ons vir hulle, aangaande hulle vroue, en wat hulle regterhand besit, verorden het, sodat daar geen blaam aan u kleef nie. En Allah is altyd Vergewensgesind, Genadevol
Verse 51
U mag afsien van wie u wil, en ontvang wie u wil. En daar rus geen blaam op u wanneer u hulle van wie u u afsydig gehou het, terugneem nie. Dit is uiters welvoeglik, sodat hulle oë verkoel mag word, en sodat hulle nie sal treur nie, en dat hulle almal tevrede kan wees met wat u hulle gee. En Allah weet wat in julle harte is. En Allah is Alleswetend, Verdraagsaam
Verse 52
Dit is u hierná nie toegestaan om ander vroue te trou nie, ook nie om hulle vir ander vroue te verruil nie, selfs al behaag hulle skoonheid u, met uitsondering van húlle wat u regterhand besit. En Allah hou wag oor alle dinge
Verse 53
O julle gelowiges! Gaan die huise van die Profeet nie binne nie, tensy toestemming vir ’n maaltyd aan julle verleen word; moenie wag totdat die voorbereiding hiervan gereed is nie. Maar wanneer julle uitgenooi word, gaan binne, en wanneer julle geëet het, vertrek dan, en moenie agterbly om gesprek te voer nie. Dit is waarlik ’n hindernis vir die Profeet, maar hy is verdraagsaam om julle ontwil, terwyl Allah nie wag om aan julle die waarheid voor te hou nie. En wanneer julle hulle5 om iets vra, vra dit van agter ’n gordyn. Dit is reiner vir julle harte én hulle harte. Dit kom julle nie toe om die Boodskapper van Allah lastig te val nie, of dat julle ooit sy eggenotes ná hom sal trou nie. Dit is inderdaad griewend in die oë van Allah
Verse 54
Of julle iets in die openbaar doen of dit verberg, waarlik, Allah het kennis van alle dinge
Verse 55
Daar rus geen skuld op hulle met betrekking tot hulle vaders nie, nóg hulle seuns, nóg hulle broers, nóg hulle broers se seuns, nóg hulle susters se seuns, nóg hulle vroue, nóg wat hulle regterhand besit ~ en julle vroue, kom julle plig teenoor Allah na. Voorwaar, Allah is Getuie van alle dinge
Verse 56
Waarlik, Allah en Sy engele seën die Profeet. O julle gelowiges! Roep seëninge oor hom uit en begroet hom met ’n eerbiedige begroeting
Verse 57
Aangaande diegene wat vir Allah en Sy Boodskapper lastig val, Allah het hulle in hierdie wêreld en die Hiernamaals vervloek, en Hy het ’n vernederende straf vir hulle voorberei
Verse 58
En húlle wat gelowige mans en gelowige vroue onbetaamlik lastig val, hulle dra voorwaar die skuld van laster en openlike sonde
Verse 59
O Profeet! Sê aan u eggenotes en aan u dogters en die vroue van die gelowiges, dat hulle ’n gedeelte van hulle omslagdoeke oor hul hoofde moet hang ~ dit is meer fatsoenlik ~ sodat hulle uitgeken kan word, en nie lastig geval mag word nie. En Allah is altyd Vergewensgesind, Genadevol
Verse 60
Indien die huigelaars en diegene in wie se harte daar ’n siekte is, en die oproermakers in Medina, nie ophou nie, sal Ons u sekerlik teen hulle aanspoor, dan sal hulle nie u bure daarin wees nie, behalwe ’n kort rukkie
Verse 61
Vervloek is hulle; waar hulle ook al gevind word, sal hulle gegryp en doodgemaak word
Verse 62
Voorwaar, so was Allah se handelwyse met hulle wat reeds heengegaan het, en in Sy handelwyse sal u geen verandering vind nie
Verse 63
Die mense vra u uit oor die Uur. Sê: Kennis daarvan is slegs by Allah. En wat sal u laat begryp dat die Uur dalk naby is
Verse 64
Allah het die ongelowiges sekerlik vervloek, en het ’n brandende Vuur vir hulle voorberei
Verse 65
om ’n lang tyd daarin te bly; hulle sal nóg beskermer nóg helper vind
Verse 66
Op die Dag wanneer hulle op hul gesigte in die Vuur omge- keer sal word, sal hulle sê: O, het ons maar liewers Allah en Sy Boodskapper gehoorsaam
Verse 67
En hulle sal sê: Ons Heer! Ons het slegs ons leiers en ons voormanne gehoorsaam, maar hulle het ons van die regte weg laat afdwaal
Verse 68
Ons Heer! Gee aan hulle ’n dubbele straf, en vervloek hulle met ’n vreeslike vloek
Verse 69
O julle gelowiges! Wees nie soos húlle wat Moses vererg het nie; Allah het hom egter vrygespreek van wat hulle gesê het. En hy was in aansien by Allah
Verse 70
O julle gelowiges! Kom julle plig teenoor Allah na, en spreek die reine waarheid
Verse 71
Hy sal julle werke vir julle goed maak, en julle sondes vergewe. En wie Allah en Sy Boodskapper gehoorsaam, het inderdaad ’n groot oorwinning behaal
Verse 72
Voorwaar, Ons het vertroue aan die hemele en die aarde en die berge aangebied, maar hulle het geweier om daaraan getrou te wees, en daarvoor gevrees; maar die mens het dit op hom geneem. Voorwaar, hy is altyd onregverdig, onwetend
Verse 73
gevolglik sal Allah die manlike en die vroulike huigelaars, en die heidene en die heidinne, straf. En Allah sal Hom met barmhartigheid tot die gelowige mans en die gelowige vroue wend. Allah is Vergewensgesind, Genadevol