Back to Languages
Afrikaans - Chapter 38
Translation by Imam M. A. Baker
Verse 1
Sôd.1 By the Qur’ãn wat voortreflikheid besit
Verse 2
Nee, die ongelowiges is valslik trots en opstandig
Verse 3
Hoeveel geslagte het Ons nie voorheen reeds vernietig nie, en hulle het uitgeroep toe daar geen tyd meer was om te ontsnap nie
Verse 4
En hulle is verbaas dat ’n waarskuwer uit hul midde na hulle gekom het, en die ongelowiges sê: Hy is ’n towenaar, ’n leuenaar
Verse 5
Het hy van die gode ’n enkele God gemaak? Dit is waarlik eienaardig
Verse 6
En die leiers onder hulle sê: Gaan voort om julle gode aan te hang; dit is sekerlik voortreflik
Verse 7
Ons het nooit in die vorige godsdiens iets hiervan gehoor nie: dit is niks anders nie as ’n versinsel
Verse 8
Is die Vermaning aan hóm onder ons geopenbaar? Nee, hulle verkeer in twyfel omtrent My Vermaning. Nee, hulle het nog nie My straf gesmaak nie
Verse 9
Of besit húlle die skatte van barmhartigheid van u Heer, die Almagtige, die Barmhartige
Verse 10
Of is die koninkryk van die hemele en die aarde en wat daar- tussen is, húlle s’n? Laat hulle dan hulle middele vermeerder
Verse 11
Wat ’n sterk leër van bondgenote is nie hier op vlug gejaag nie
Verse 12
Die volk van Noag en Aad en Farao, die heer van die leërskare, het voorheen ook die profete verloën
Verse 13
en Thamoed en die volk van Lot en die woudbewoners. Hulle was almal gekant teen die Waarheid
Verse 14
En hulle almal het niks anders gedoen nie as om hulle bood- skappers te verloën; daarom was My vergelding regverdig
Verse 15
En hulle wag slegs op ’n enkele roep waarvoor daar geen uistel sal wees nie
Verse 16
En hulle sê: Ons Heer! Gee ons spoedig ons deel vóór die Dag van Afrekening
Verse 17
Verdra geduldig wat hulle sê, en dink aan Ons dienaar Dawid, besitter van mag. Hy het hom dikwels tot Allah gewend
Verse 18
Waarklik, Ons het die berge onderwerp om saam met hom Allah in die aand en in die oggend te verheerlik
Verse 19
en die voëls bymekaar laat kom. Almal was hom onderdanig
Verse 20
En Ons het sy koninkryk versterk, en Ons het hom wysheid en ’n beslissende oordeel gegee
Verse 21
En het u die verhaal van die Teenstanders gehoor? Toe hulle oor die muur geklim en die binnekamer ingegaan het
Verse 22
en hulle by Dawid gekom het, het hy hulle gevrees. Hulle het gesê: Moenie bang wees nie! Ons is twee prosedeerders, waar- van die een die ander onreg aangedoen het; spreek daarom reg tussen ons in waarheid, en handel nie onregverdig nie, en lei ons na die regte pad
Verse 23
Dít is my broer; hy het nege-en-neëntig ooie, en ek het maar een ooi. Tog sê hy: Gee haar aan my; en hy het my in die argument oorweldig
Verse 24
Dawid het gesê: Waarlik, hy het u onreg aangedoen deur u ooi op te eis, terwyl hy reeds baie ooie het. En voorwaar, vele vennote doen mekaar onreg aan, behalwe diegene wat glo en goeddoen; en hulle is maar min! En Dawid het geweet dat Ons hom beproef het, en daarom het hy sy Heer om beskerming gevra, en hy het biddend neergesak en hom tot Allah gewend
Verse 25
Daarom het Ons hom beskerm en hy het by Ons toenadering gesoek en by Ons ’n voortreflike toevlugsoord gehad
Verse 26
O Dawid! het Ons gesê, Ons het u as regeerder oor die land aan- gestel; oordeel dus tussen die mense in waarheid, en volg nie hul begeertes nie, anders sal hulle u van die weg van Allah aflei. Hulle wat van die weg van Allah afdwaal, sal gewis ’n hewige straf ontvang, omdat hulle die Dag van Afrekening vergeet
Verse 27
En Ons het nie die hemel en die aarde en wat tussen hulle is, tevergeefs gemaak nie. Maar dit is die mening van die onge- lowiges. Wee daarom die ongelowiges, vanweë die Vuur
Verse 28
Sal Ons húlle wat goeddoen, op dieselfde wyse behandel as die korruptes? Of sal Ons die godvresendes met die onheilstigters gelykstel
Verse 29
Dit is ’n Boek wat Ons aan u geopenbaar het, vol seënwense, dat hulle oor Sy verse mag nadink en dat die verstandige mense kan onthou
Verse 30
En aan Dawid het Ons Salomo geskenk: ’n voortreflike dienaar. Voorwaar, hy het hom dikwels tot Allah gewend
Verse 31
Toe vinnige volbloedperde in die aand na hom gebring is
Verse 32
toe het hy gesê: Ek hou van goeie dinge vanweë die gedagtenis aan my Heer ~ totdat hulle agter ’n skerm verborge was
Verse 33
toe het hy gesê: Bring hulle terug. Toe het hy hulle bene en nekke begin streel
Verse 34
En waarlik, Ons het Salomo beproef en op sy troon ’n blote liggaam gesit; daarom het hy hom tot Allah gewend
Verse 35
Hy het gesê: My Heer! Vergewe my; en skenk my ’n koninkryk wat vir niemand ná my geskik sal wees nie; waarlik, U is die Barmhartigste van alle Gewers
Verse 36
Daarom het Ons die wind aan hom onderdanig gemaak, om volgens sý bevel saggies te waai waarheen hy sê
Verse 37
en net so ook die duiwels, elke bouer en duiker
Verse 38
en nog ander, wat met kettings geboei was
Verse 39
Dít is Ons gawe; wees daarom vrygewig óf spaarsaam, sonder om rekening te hou
Verse 40
En waarlik, hy was ná aan Ons, en het in Ons ’n voortreflike toevlug gehad
Verse 41
En dink aan Ons dienaar Job, hoe hy na sy Heer geroep het: Die duiwel het my met kommer en smart aangetas
Verse 42
Toe het Ons gesê: Spoor u rydier aan; hier is ’n koel wasplek en drinkwater
Verse 43
En Ons het aan hom sy volk gegee, en nóg ’n keer soveel, as ’n genadegawe van Ons, en as ’n les vir mense wat begryp
Verse 44
En Ons het gesê: Neem ’n klompie wêreldse besittings in u hand, en doen goed daarmee, en neig nie tot valsheid nie. Voorwaar, Ons het hom geduldig gevind. ’n Voortreflike dienaar! Waarlik, hy het hom dikwels tot Ons gewend
Verse 45
En dink aan Ons dienaars Abraham en Isak en Jakob: mense van mag en insig
Verse 46
En Ons het hulle gesuiwer met ’n suiwerende middel, en met kennis van die uiteindelike Tuiste
Verse 47
En waarlik, vir Ons was hulle uitverkorenes
Verse 48
En dink aan Ismaël en Elisa en Zoel-Kiefel; en hulle was almal uitnemend
Verse 49
Dit is ’n aanmaning. En gewis, daar is ’n voortreflike toevlug vir die godvresendes
Verse 50
Tuine van Ewigheid waarvan die deure vir hulle wyd oop is
Verse 51
en waarin hulle hul sal neervly en aanroep, en waarin oorvloedig vrugte en drank is
Verse 52
En saam met hulle sal daar kuise vroue wees, metgeselle van gelyke leeftyd
Verse 53
Dít is wat julle belowe word vir die Dag van Oordeel
Verse 54
Voorwaar, dit is ’n voorsiening van Ons wat nooit uitgeput sal raak nie
Verse 55
en dít is vir die gelowiges! En vir die opstandiges sal daar sekerlik ’n bose plek wees om na terug te keer
Verse 56
die Hel! Húlle sal dit binnegaan. Boos is daardie rusplek
Verse 57
laat hulle dit smaak, ’n kokende en ’n yskoue drank
Verse 58
en nog meer derglike strawwe van verskillende soorte
Verse 59
Hulle is ’n groep wat blindelings saam met julle stormloop ~ geen verwelkoming vir hulle nie! Gewis, hulle sal in die Vuur brand
Verse 60
Hulle sal sê: Wee julle! Daar is geen verwelkoming vir julle nie! Julle het dit vir ons voorberei, en dit is ’n bose rusplek
Verse 61
Hulle sal sê: Ons Here! Wie dit ook al vir ons voorberei het, vermeerder vir hom ’n dubbele straf in die Vuur
Verse 62
En hulle sal sê: Wat makeer ons? ~ ons sien glad nie die mense vir wie ons onder die bose gereken het nie
Verse 63
Het ons dan nie die spot met hulle gedryf nie, of sien ons oë hulle nie
Verse 64
Dit is sekerlik die waarheid ~ die onderlinge twis van die bewoners van die Vuur
Verse 65
Sê: Ek is slegs ’n waarskuwer; en daar is geen god buiten Allah nie, die Een, die Onweerstaanbare
Verse 66
die Heer van die hemele en die aarde en wat tussen hulle is, die Almagtige, die Vergewensgesinde
Verse 67
Sê: Dit is ’n belangrike boodskap
Verse 68
en julle probeer daarvan wegskram
Verse 69
Ek dra geen kennis van ’n getwis onder die verhewe vergadering nie
Verse 70
Slegs dít is aan my geopenbaar: dat ek ’n duidelike waarskuwer is
Verse 71
Toe u Heer aan die engele gesê het: Waarlik, Ek gaan die mens uit stof skape
Verse 72
Wanneer Ek hom dan voltooi en van My gees in hom ingeblaas het, prostreer dan in gehoorsaamheid voor hom neer
Verse 73
Daarom het al die engele geprostreer
Verse 74
maar nie Iblies nie. Hy was hoogmoedig en een van die ongelowiges
Verse 75
Allah het gesê: O Iblies! Wat het u verhinder om voor hóm neer te buig wat Ek met albei My hande geskape het? Is u te trots, of is u te hoog daarvoor
Verse 76
Hy het gesê: Ek is beter as hy; U het my uit vuur geskape en vir hom het U uit stof geskape
Verse 77
Allah het gesê: Gaan weg hiervandaan! Voorwaar, u is verdryf
Verse 78
en My vloek sal op u rus tot op die Oordeelsdag
Verse 79
Hy het gesê: O my Heer! Vergun my dan uitstel tot die Dag wanneer hulle opgewek sal word
Verse 80
Allah het gesê: Uitstel word aan u verleen
Verse 81
tot op die Dag van die bepaalde tyd
Verse 82
Hy het gesê: By U mag, dan sal ek hulle almal sekerlik verlei
Verse 83
behalwe U dienaars onder hulle, die gesuiwerdes
Verse 84
Allah het gesê: Die Waarheid is ~ en die Waarheid spreek Ek
Verse 85
dat Ek die Hel met u en met almal van hulle wat u volg, sal volmaak
Verse 86
Sê: Ek vra julle geen beloning daarvoor nie; nóg is ek ’n bedrieër
Verse 87
Dit is niks anders nie as ’n Vermaning vir die volke
Verse 88
En sekerlik sal julle ná ’n tyd daarvan te wete kom