Want waarlik, opregte gehoorsaamheid kom Allah alleen toe. En diegene wat beskermers buiten Allah verkies, sê: Ons aanbid hulle slegs omdat hulle ons in die nabyheid van Allah bring. Voorwaar, Allah sal onder hulle uitspraak gee aangaande dít waaroor hulle verskil. Voorwaar, Allah lei nie ’n leuenaar en ’n ondankbare nie
As Allah ’n seun vir Hom wou neem, kon Hy tog enigeen neem uit diegene wat Hy geskape het. Heilig is Hy! Hy is Allah, die Een, die Onderwerper van almal
Hy het die hemele en die aarde in waarheid geskape; Hy laat die nag oorgaan in die dag, en die dag in die nag; en Hy het die son en die maan in diens gestel; elkeen loop aan vir ’n vasgestelde tydperk. Waarlik Hy is die Allermagtige, die Vergewensgesinde
Hy het julle uit ’n enkele wese geskape, daarna vir julle metgeselle gemaak. En Hy het vir julle agt stuks vee in pare afgestuur. Hy skep julle in die baarmoeders van julle moeders, skepping ná skepping, in drievoudige duisternis. So is Allah, julle Heer; aan Hom behoort die koninkryk. Daar is geen god nie buiten Hom. Wat laat julle dan dwaal
As julle ondankbaar is, Allah is sekerlik onafhanklik van julle. En Hy hou nie van ondankbaarheid onder Sy dienaars nie. En as julle dankbaar is, dan hou Hy daarvan. En geen lasdraer kan die las van ’n ander dra nie. Dan is julle terugkeer tot julle Heer; en Hy sal julle meedeel wat julle gedoen het. Waarlik, Hy weet wat in julle harte is
En wanneer ellende die mens teister, dan roep hy sy Heer aan en wend hom tot Hom. Dan, wanneer Hy hom ’n guns bewys, vergeet die mens waarvoor hy Allah aangeroep het, en stel afgode langs Allah, om die mense van Sy weg af te lei. Sê: Geniet julle ondankbaarheid vir ’n rukkie; julle hoort sekerlik by die bewoners van die Vuur
Is hy wat Allah vereer gedurende die ure van die nag, knielende en staande, wat hom vir die Hiernamaals voorberei en hoop op die barmhartigheid van sy Heer, gelyk aan diegene wat dit nie doen nie? Sê: Is hulle wat weet gelyk aan hulle wat nie weet nie? Alleen mense van begrip sal omgee
Sê: O My gelowige dienaars! Wees bewus van jul Heer en kom julle plig teenoor Hom na. Vir hulle wat goeddoen in hierdie wêreld is daar goed, en Allah se aarde is ruim. Voorwaar, aan die standvastiges sal sonder berekening beloning uitbetaal word
Aanbid dan buiten Hom wat julle wil. Sê: Die verloorders is waarlik hulle wat op die Dag van Herrysenis hulleself en hulle volk sal verloor. Sien dan dat dit ’n duidelike verlies is
Maar vir diegene wat bewus is van hul Heer, is daar verhewe plekke, en bo hulle is nog meer verhewe plekke vir hulle gebou, waaronder riviere vloei. Dít is die belofte van Allah. Allah doen altyd Sy beloftes gestand
Sien u dan nie hoedat Allah water uit die wolke afstuur en dit in die aarde laat insak in die vorm van fonteine nie, waardeur plante van verskillende kleure uitspruit; daarna verdor dit voor julle oë, en Hy maak kaf daarvan? Voorwaar, hierin is ’n vermaning vir mense wat verstaan
Is hy wie se bors Allah oopgemaak het vir Islam, sodat hy die lig van sy Heer kan volg, soos hy wat nie wíl glo nie? Wee hulle wie se harte verhard is teen die oordenkinge van Allah! Hulle verkeer in ’n duidelike dwaling
Allah het die beste aankondiging geopenbaar: ’n bestendige Boek waarin beloftes van beloning gepaard gaan met dreigemente van straf waarby die velle van húlle wat hul Heer vrees, ineenkrimp; daarna ontspan dit én hulle harte by die oordenking van Allah. Dít is Allah se leiding. Hy lei daarmee wie Hy wil. En aangaande hom wat Allah laat dwaal het, vir hom is daar geen gids nie
Is hy dan, wat sy eie gesig teen die straf van die Dag van Herrysenis moet verdedig, soos hy wat goeddoen? En dit sal aan die onregverdiges gesê word: Proe dan die straf wat julle verdien het
Gevolglik het Allah in die lewe van hierdie wêreld die skande oor hulle gebring; en sekerlik sal die straf van die Hiernamaals groter wees. As hulle dit maar geweet het
Allah hou vir hulle hierdie gelykenis voor: ’n Man behoort tot ’n groep wat met mekaar verskil, en ’n man wat uitsluitlik aan een man geheg is. Is beide in dieselfde toestand? Die lof behoort aan Allah! Nee, die meeste van hulle weet dit nie
Wie is onregverdiger as hy wat ’n leuen teen Allah versin en die waarheid verwerp wanneer dit tot hom kom? Is daar nie in die Hel ’n tuiste vir die ongelowiges nie
Is Allah nie toereikend vir Sy dienaar nie? En hulle probeer om u te verskrik met diegene buiten Hom. En vir wie Allah ook al laat dwaal, vir hom is daar geen gids nie
En as u hulle vra: Wie het die hemele en die aarde geskape? sal hulle antwoord: Allah. Sê: Dink julle dan dat diegene wat julle buiten Allah aanroep, Allah se skade kan afwend as Hy begeer om my te benadeel? Of as Hy barmhartigheid aan my wil betoon, sal hulle in staat wees om dit te verhinder? Sê: Allah is genoeg vir my. In Hom stel die vertrouendes hul vertroue
Voorwaar, Ons het die Boek met waarheid ten bate van die mense aan u geopenbaar. Wie ook al die regte weg volg, volg dit ter wille van sy eie siel, en wie ook al dwaal, dwaal slegs ten koste daarvan. En u is nie ’n voog oor hulle nie
As hulle sterwe, neem Allah die siele van mense, en ook die siele van dié wat nie sterwe nie, wanneer hulle slaap. Dan hou Hy diegene oor wie die dood verorden is, en stuur die ander terug vir ’n vasgestelde tyd. Hierin is waarlik tekens vir ’n volk wat wil nadink
En wanneer Allah genoem word as die Enige, dan krimp die harte van diegene wat nie in die Hiernamaals glo nie; en wan- neer diegene buiten Hom genoem word, kyk! dan is hulle bly
Sê: O Allah! Skepper van die hemele en die aarde! Kenner van die Onsigbare en die Sigbare! U gee uitspraak tussen U dienaars aangaande dít waaroor hulle verskil
As die kwaaddoeners alles wat op aarde is, en nóg soveel, gehad het, sou hulle dit op die Opstandingsdag as losprys vir die vreeslike straf wou aanbied. En waaraan hulle nooit gedink het nie, sal deur Allah vir hulle onthul word
Wanneer die mens deur teëspoed getref word, roep hy Ons aan; as Ons hom Ons guns bewys, sê hy: Dit is aan my geskenk vanweë my kennis. Nee, dit is slegs ’n beproewing; maar die meeste van hulle weet dit nie
Die kwaad wat hulle verdien het, het oor hulle gekom. En ook oor hierdie onregverdiges sal die kwaad kom wat hulle vedien het, en hulle sal nie daaraan kan ontsnap nie
Sê: O my dienaars wat jul siele onreg aangedoen het! Wanhoop nie aan die genade van Allah nie, want waarlik, Allah vergewe sonde geheel en al; Hy is die Vergewensgesinde, die Genadige
En op die Dag van Herrysenis sal julle hulle sien wat leuens teen Allah versin het; hulle gesigte sal swart gemaak word. Is daar dan nie ’n oord in die Hel vir die arrogantes nie
En voorwaar, dít is aan u, asook aan diegene vóór u, geopenbaar: As u deelgenote aan Allah toeskryf, sal u werk waarlik vrugteloos wees, en u sal sekerlik onder die verloorders wees
En hulle eer Allah nie met die eer wat Hom toekom nie; die hele aarde sal in Sy greep wees op die Opstandingsdag, en die hemele sal in Sy regterhand opgerol wees. Heilig is Hy! En hoog verhewe is Hy bo wat hulle met Hom vereenselwig
En die basuin sal geblaas word, en almal wat in die hemele is en almal wat op aarde is, sal in ’n beswyming verval, behalwe waar Allah dit anders wil. Dan sal daar nogmaals geblaas word, en kyk! hulle sal staande herrys en wag
En die aarde sal deur die lig van sy Heer skitter, en die Boek sal neergelê word, en die profete en die getuienisse sal ingeroep word, en daar sal tussen hulle met regverdigheid geoordeel word, en geen onreg sal hulle aangedoen word nie
En die ongelowiges sal in groepe na die Hel aangedryf word. Wanneer hulle daar aankom, sal die deure daarvan oopgemaak word, en die bewakers daarvan sal sê: Het daar uit jul midde nie boodskappers opgestaan, wat die tekens van julle Heer aan julle voorgedra en julle gewaarsku het teen die koms van hierdie Dag van julle nie? Hulle sal antwoord: Ja, seker! Maar die woord van straf het teen die ongelowiges bewaarheid geword
Maar diegene wat hulle plig teenoor hul Heer nagekom het, sal in groepe na die Tuin gelei word; en wanneer hulle daar aankom, sal die deure daarvan vir hulle oopgemaak word en die wagters daarvan sal aan hulle sê: Vrede vir julle! Julle het goed gelewe; gaan daarom binne en bly daarin
En hulle sal sê: Alle lof kom Allah toe, wat Sy beloftes aan ons vervul het en ons die land laat erwe het; ons bly in die Tuin net waar ons wil. Groot is die beloning vir die werkers
En u sal die engele om die Troon van Mag sien gaan terwyl hulle die lof van hul Heer besing. En daar sal tussen hulle in waarheid geoordeel word, en daar sal gesê word: Alle lof kom Allah toe, die Heer van die Wêrelde