Ons het die hemele en die aarde, en wat daartussen is, nie anders nie as in waarheid geskape, en vir ’n vasgestelde termyn. En die ongelowiges draai weg van die dinge waarmee hulle gewaarsku word
Sê: Het julle oorweeg wat julle buiten Allah aanroep? Wys my watter deel hulle van die aarde geskape het. Of het hulle ’n aandeel in die hemele? Bring my ’n Boek vóór hierdie een, of enige oorblyfsels van kennis, indien julle opreg is
En wie is verder afgedwaal as hy wat buiten Allah sulkes aanroep wat hom tot die Dag van Opstanding nooit sal antwoord nie, en terwyl hulle onbewus is omtrent hulle aanroep
En wanneer Ons duidelike tekens aan hulle voorgedra word, sê die ongelowiges aangaande die waarheid wanneer dit tot hulle kom: dit is klaarblyklike towerkuns
Nee, hulle sê: Hy het dit versin. Sê: As ek dit versin het, dan beheer julle tog niks vir my van Allah nie. Hy weet goed wat julle daaromtrent sê. Hy is voldoende as Getuie tussen julle en my. En Hy is die Vergewensgesinde, die Genadige
Sê: Ek is nie die eerste van die boodskappers nie, en ek weet nie wat met my of met julle sal gebeur nie. Ek volg niks anders as wat aan my geopenbaar is nie, en ek is slegs ’n duidelike waarskuwer
Sê: Kyk, as dit van Allah is, en julle glo nie daarin nie, en ’n getuie onder die Kinders van Israel2 het getuienis afgelê van iemand gelyk aan hom, dus het hy geglo terwyl julle vol hoogmoed is; voorwaar, Allah lei nie die onregverdige volk nie
En hulle wat nie glo nie, sê van diegene wat glo: Indien dit iets goeds was, sou hulle dit nie vóór ons verkry het nie. Maar omdat hulle nie daardeur gelei word nie, sê hulle: Dit is ’n ou leuen
En vóór dit was die Boek van Moses ’n leiding en ’n genade. En hier is ’n Boek wat dit in die Arabiese taal bevestig, om die kwaaddoeners te waarsku, en om as goeie nuus te dien vir die weldoeners
En Ons het dit aan die mens opgedra om aan sy ouers goed te doen. Sy moeder dra hom met ongemak en sy baar hom met smart. En sy drag en sy soogtyd neem altesaam dertig maande in beslag; totdat hy, wanneer hy mondigheid bereik en veertig jaar word, sê: My Heer! Stel my in staat om dankbaar te wees vir die guns wat U aan my en aan my ouers bewys het, en dat ek kan doen wat U sal behaag; en wees my nakomelinge goed- gesind. Waarlik, ek bekeer my tot U, en waarlik, ek is een van die onderdaniges
En hy wat aan sy ouers sê: Foei, julle albei! Dreig julle my dat ek weer opgewek sal word, terwyl geslagte reeds vóór my heengegaan het? En hulle albei roep tot Allah om hulp: Wee u! Glo! Sekerlik is die belofte van Allah waar. Maar hy sê: Dit is niks anders as stories van die ou volke nie
Dit is teen hulle dat die woord bewaarheid word onder die volke van die djien, en die mense wat vóór hulle heengegaan het. Hulle sal sekerlik die verloorders wees
En op die Dag wanneer die ongelowiges voor die Vuur gebring sal word, sal daar aan hulle gesê word: Julle het julle goeie dinge in julle lewe op aarde uitgebuit en julle het dit geniet; daarom word julle Vandag met ’n vernederende straf beloon omdat julle uitermate arrogant op die aarde was, en omdat julle teen Allah se wette was
En dink aan die broer van Aad, toe hy sy volk in die sandduine gewaarsku het ~ en inderdaad het waarskuwers vóór hom en ná hom verskyn ~: Dien niemand buiten Allah nie. Voorwaar, ek vrees namens julle die straf van ’n griewende Dag
En toe hulle dit gesien het ~ ’n wolk wat na hulle valleie aangekom het ~ het hulle gesê: Dit is ’n wolk wat vir ons reën bring. Hy het gesê: Nee, dit is wat julle gewens het om te verhaas, ’n wind waarin ’n pynlike straf is
En voorwaar, Ons het aan hulle gesag verleen in sake wat Ons nie aan julle verleen het nie, en Ons het hulle ore en oë en harte gegee, maar nóg hulle ore, nóg hulle oë, nóg hulle harte het hulle enigsins gebaat, omdat hulle die tekens van Allah verloën het. En waarmee hulle gespot het, het hulle omring
Waarom dan het diegene wat hulle as gode buiten Allah geneem het om hulle naby Hom te bring, hulle nie gehelp nie? Nee, dié het hulle in die steek gelaat. En dit was net hulle leuens en hulle versinsels
En toe Ons ’n aantal van die djien na u laat kom het, wat die Qur’ãn aangeluister het; en toe hulle in u aanwesigheid was, het hulle gesê: Bly stil; en toe dit klaar was, het hulle na hul volk teruggekeer en hulle gewaarsku
Hulle het gesê: O ons volk! Ons het ’n Boek gehoor wat ná Moses geopenbaar is, wat alles bevestig wat dit voorafgegaan het, en dit lei na die Waarheid en na die regte weg
En wie nie die Uitnodiging tot Allah aanvaar nie, kan nie uit die aarde ontsnap nie, nóg sal hy beskermers buiten Hom hê. Om so te dink is klaarblyklike dwaling
Sien hulle nie dat Allah, wat die hemele en die aarde geskape het en nie moeg was as gevolg van hulle skepping nie, die mag het om die dooie te laat herlewe nie? Ja, inderdaad, Hy het mag oor alle dinge
En op die Dag wanneer die ongelowiges aan die Vuur blootgestel sal word, sal daar gesê word: Is dít nie waar nie? Hulle sal sê: Ja, seker, by ons Heer. Hy sal sê: Smaak dan die straf, omdat julle nie geglo het nie
Wees daarom geduldig, soos die manne van vasberadenheid ~ die boodskappers ~ geduld gehad het, en vra nie dat hulle verdoemenis verhaas word nie. Op die Dag wanneer hulle sien waarmee hulle bedreig word, sal dit wees asof hulle skaars ’n uur van die dag vertoef het. die aflewering is u taak. Sal iemand dan vernietig word behalwe die sondaars