En hulle wat glo en goeddoen, en glo in wat aan Moegammad geopenbaar is ~ en dit is tog die waarheid van hulle Heer ~ hulle bose dade sal Hy verwyder en hulle toestand verbeter
Wanneer julle die ongelowiges in die oorlog ontmoet, tref die nekke; as julle hulle dan baasraak, neem hulle gevange, en stel hulle daarna vry as ’n guns of vir ’n losprys totdat die oorlog haar laste neergelê het. So sal dit wees. Indien Allah wil, sal Hy hulle sekerlik met straf vergeld, maar Hy wou sommige van julle deur ander op die proef stel. En diegene wat op die weg van Allah sneuwel, hulle werke sal Hy nooit laat vergaan nie
Het hulle nie deur die land gereis en gesien wat die einde van diegene vóór hulle was nie? Allah het hulle vernietig. En vir die ongelowiges sal dieselfde geld
Voorwaar, Allah sal hulle wat glo en goeddoen, laat ingaan in die Paradys, waardeur riviere vloei. En die ongelowiges vermaak hulself en eet soos die vee, en die Vuur is hulle tuiste
Is hy wat ’n duidelike bewys van sy Heer het, dan niks beter as iemand vir wie die kwaad van sy gedrag skoonskynend is, en wat sy eie begeertes volg nie
’n Beeld van die Paradys wat aan die godvresendes belowe word: Daarin is strome van water wat nooit sleg word nie, en strome van melk waarvan die smaak nie verander nie, en strome van wyn, smaaklik vir die drinkers, en strome van gesuiwerde heuning; en daar is vir hulle allerlei vrugte, asook beskerming van hulle Heer. Is mense wat hierdie dinge geniet dan gelyk aan hulle wat in die Vuur woon en wat gedwing word om kokende water te drink sodat dit hulle ingewande kan verskeur
En daar is party van hulle wat na u wil luister, maar wanneer hulle van u af weggaan, sê hulle aan diegene aan wie kennis gegee is: Wat was dit wat hy netnou gesê het? Dit is húlle wie se harte Allah verseël het, en hulle volg hulle slegte neigings
Wag hulle slegs dat die Uur plotseling oor hulle moet kom? Maar nou het die tekens daarvan reeds gekom. Maar hoe sal hulle hul aanmaning kry, wanneer dit oor hulle kom
Weet dan dat daar geen God buiten Allah is nie, en vra om beskerming vir u sondes en vir die gelowige mans en die gelowige vroue. En Allah weet as julle rondgaan en as julle stilsit
En die gelowiges sê: Waarom is ’n Soera1 nie geopenbaar nie? Maar wanneer ’n beslissende Hoofstuk geopenbaar word, en die geveg word daarin vermeld, dan sien u diegene in wie se harte daar ’n siekte is, na u kyk soos iemand wat in die dood beswym. Wee hulle
Waarlik, diegene wat wegdraai nadat die leiding vir hulle duidelik geword het, die duiwel het dit vir hulle verfraai, en hy laat hulle valse hoop koester
En as Ons wou, kon Ons hulle aan u toon, sodat u hulle aan hul merktekens kan ken. En u sal hulle sekerlik herken aan hulle manier van praat. En Allah ken julle dade
En Ons sal julle sekerlik beproef totdat Ons diegene onder julle ken wat ywerig strewe en wat standvastig is; en Ons sal die nuus aan julle openbaar maak
Voorwaar, hulle wat nie glo nie en mense van die weg van Allah aflei, en wat die Boodskapper teenstaan nadat die leiding aan hulle duidelik gemaak is, kan Allah geensins skade berokken nie; en Hy sal hulle werke vrugteloos maak
En wees nie so lafhartig dat julle om vrede wil onderhandel nie, want julle sál die oorhand kry, en Allah is met julle, en Hy sal julle dade nie tevergeefs laat wees nie
Die lewe van hierdie wêreld is slegs ’n spel en ’n ydele vermaak, en as julle glo en godvresend is, sal Hy julle beloning vir julle gee; en Hy vra julle nie julle skatte nie
Want kyk, dit is vir júlle dat gevra sal word om in die weg van Allah te bestee. Maar onder julle is daar ook die suiniges. En wie suinig is, is suinig ten koste van sy eie siel. En Allah is Selfgenoegsaam, en julle is verlee. En as julle wegdraai, sal Hy ’n ander volk in julle plek voortbring wat nie soos julle sal wees nie