Back to Languages

    Afrikaans - Chapter 6

    Translation by Imam M. A. Baker

    Verse 1

    Alle lof kom Allah toe wat die hemele en die aarde geskape het, en duisternis en lig gemaak het. Tog stel hulle wat nie glo nie, ander gelyk aan hulle Heer

    Verse 2

    Dit is Hy wat julle uit klei geskape het, waarna Hy ’n tydperk bepaal het. En daar ís ’n tydperk by Hom; tog twyfel julle

    Verse 3

    En Hy is Allah in die hemele en op die aarde. Hy ken julle ge- heime gedagtes en die woorde wat julle openlik uitspreek, en Hy weet wat julle verdien

    Verse 4

    En daar kom geen teken van die tekens van hulle Heer nie of hulle draai hulle rug daarop

    Verse 5

    So het hulle die waarheid verwerp toe dit na hulle gekom het, maar nuus omtrent dit waarmee hulle gespot het, sal weldra tot hulle kom

    Verse 6

    Merk hulle dan nie hoeveel geslagte Ons vóór hulle vernietig het nie, geslagte wat Ons op die aarde gevestig het net soos Ons julle hier gevestig het? En Ons het stortreën in oorvloed oor hulle neeer laat stort en Ons het riviere onder hulle laat vloei. Daarna het Ons hulle vanweë hulle sonde verdelg en ’n ander geslag ná hulle laat ontstaan

    Verse 7

    En al het Ons ’n geskrewe boodskap tot hulle gerig, sodat hulle dit met die hande kon aanraak, dan sou die ongelowiges tog maar gesê het: Dit is niks anders as duidelike towerkuns nie

    Verse 8

    En hulle sê: Hoekom is daar nie ’n engel na hom gestuur nie? En indien Ons ’n engel na hulle gestuur het, dan was die saak onmiddellik beslis en geen uitstel sou aan hulle verleen word nie

    Verse 9

    En indien Ons hom ’n engel gemaak het, sou Ons hom in die gedaante van ’n man laat verskyn het, en hul verwarring sou groter gewees het

    Verse 10

    En voorwaar, vóór u was die boodskappers ook bespot, maar die bespotters is met dieselfde bespotting omgord

    Verse 11

    Sê: Reis deur die land en kyk wat was die lot van die verwerpers

    Verse 12

    Sê: Aan wie behoort alles wat in die hemele en op die aarde is? Sê: Aan Allah. Hy het vir Homself barmhartigheid verorden. Voorwaar, Hy sal julle op die Dag van Herrysenis versamel ~ daaraan is geen twyfel nie. Maar hulle wat hulle siele verloor het, sal nie glo nie

    Verse 13

    En aan Hom behoort alles wat in die nag en in die dag bestaan. En Hy is die Alhorende, die Alwetende

    Verse 14

    Sê: Sal ek iemand anders as vriend neem as Allah, die Ontwerper van die hemele en die aarde; Hy wat voed en nie gevoed word nie? Sê: Ek is beveel om die eerste onderworpene te wees. En wees u nie ook een van die heidene nie

    Verse 15

    Sê: Sekerlik vrees ek, as ek my Heer nie gehoorsaam is nie, die straf van ’n smartlike dag

    Verse 16

    Aan hom, van wie die straf op daardie Dag afgewend sal word, het Allah voorwaar barmhartigheid bewys. En dit is ’n duidelike oorwinning

    Verse 17

    En as Allah u met kwellinge aanraak, is daar niemand buiten Hy wat dit kan verwyder nie. En indien Hy u met die goeie aanraak ~ Hy is instaat om enigiets te doen

    Verse 18

    Hy is die Oppermagtige, verhewe bo Sy dienaars. En Hy is vol Wysheid, die Allerbewuste

    Verse 19

    Sê: Wat weeg die swaarste as getuienis? Sê: Allah is getuie tussen julle en my. En hierdie Qur’ãn is aan my geopenbaar, sodat ek julle, en vir hulle wie dit mag bereik, kan waarsku. Getuig julle werklik dat daar ander gode buiten Allah is? Sê: Ek getuig nie. Sê: Hy is een God alleen, en ek is waarlik nie aandadig aan wat julle aan Hom gelykstel nie

    Verse 20

    Hulle aan wie Ons die Boek gegee het, herken hom soos hulle hul seuns herken. Maar dié wat hulle siele verloor het ~ hulle sal nie glo nie

    Verse 21

    En wie is onregverdiger as hy wat ’n leuen teen Allah en Sy boodskappers versin? Voorwaar, die kwaaddoeners sal nie suksesvol wees nie

    Verse 22

    En op die Dag wanneer Ons hulle almal bymekaar sal maak, sal Ons vir hulle wat afgodery gepleeg het, sê: Waar is julle valse gode waarvan julle gesê het dat julle hulle besit

    Verse 23

    Dan sal hulle antwoord niks anders wees nie as dat hulle sal sê: Allah, ons Heer! Ons was nie afgodedienaars nie

    Verse 24

    Kyk net hoe hulle hulself bedrieg, en hoe dít wat hulle versin het, hulle in die steek sal laat

    Verse 25

    En tussen hulle is diegene wat na u luister; maar Ons het sluiers oor hul harte gewerp, en in hulle ore is doofheid. En al sou hulle elke teken sien, sou hulle tog nie glo nie. Wanneer hulle na u kom, argumenteer hulle met u ~ die ongelowiges sê: Dit is niks anders as stories van die ou volkere nie

    Verse 26

    En hulle verbied ander dit en bly self ver daarvandaan. En hulle doen niemand anders as hulself skade aan nie, maar bemerk dit nie

    Verse 27

    En as u dit maar kan aanskou wanneer hulle tot voor die Vuur gebring word! Dan sal hulle sê: O, kon ons maar teruggestuur word, dan sou ons nie meer die tekens van ons Heer verwerp nie, maar ons by die gelowiges skaar

    Verse 28

    Nee, dít wat hulle voorheen weggesteek het, sal aan hulle bekend gemaak word. En al sou hulle teruggestuur word, sal hulle tog maar terugkeer na dít wat vir hulle verbode was; en hulle is gewisse leuenaars

    Verse 29

    En hulle sê: Ons lewe bloot in hierdie wêreld en kan nie weer opgewek word nie

    Verse 30

    En as u maar kon sien wanneer hulle voor hulle Heer gedaag word! Hy sal sê: Is dít nie die waarheid nie? Hulle sal antwoord: Ja, seker, by ons Heer! Hy sal sê: Proe dan die straf van julle ongeloof

    Verse 31

    Hulle is inderdaad verloorders wat die ontmoeting met Allah ontken totdat die Uur onverwags oor hulle kom, en hulle sal sê: Helaas! Hoe kon ons dit ontken het! En hulle sal hul laste op hul rûe dra. Wees seker dat dit kwaad is wat hulle dra

    Verse 32

    Die lewe van hierdie wêreld is niks anders as speel en ydelvermaak nie. En die tuiste van die Hiernamaals is voorwaar vir diegene wat God vrees. Sal julle dan nie verstaan nie

    Verse 33

    Ons weet goed dat wat hulle sê, u verdriet aandoen, tog verloën hulle u nie, maar dié kwaaddoeners verloën die tekens van Allah

    Verse 34

    Gewis, die boodskappers vóór u is ook verloën, en gekwel, maar hulle was nietemin geduldig toe hulle verloën en vervolg is; totdat Ons hulp na hulle gekom het. En daar is niemand wat die woorde van Allah kan verander nie. En u het reeds sekere inligting omtrent die boodskappers ontvang

    Verse 35

    En as hulle afkeer vir u onverdraagbaar is, soek dan, indien u kan, ’n tonnel in die aarde of ’n leer na die hemel, om vir hulle ’n teken te bring. En indien dit Allah behaag het, sou Hy hulle almal sekerlik onder u leiding laat skaar het. Wees dus nie een van die onkundiges nie

    Verse 36

    Slegs hulle wat luister, sal glo. En aangaande die gestorwenes, Allah sal hulle opwek, en hulle sal tot Hom teruggebring word

    Verse 37

    En hulle sê: Waarom is daar nie ’n teken van sy Heer tot hom afgestuur nie? Sê: Voorwaar, Allah het die mag om tekens te stuur. Maar die meeste van hulle besef dit nie

    Verse 38

    En daar is nie ’n dier op die aarde nie, nóg ’n voël wat met sy twee vlerke vlieg nie, of hulle is gemeentes, soos julle self ook is. Ons het niks uit die Boek weggelaat nie. Tot hulle Heer sal hulle bymekaar gebring word

    Verse 39

    Hulle wat Ons tekens verloën, is doof en stom, in die duisternis. Allah laat dwaal wie Hy wil, en Hy lei op die regte weg wie Hy wil

    Verse 40

    Sê: Kyk! As die straf van Allah julle oorval, of die Uur oor julle kom, sal julle iemand anders as Allah aanroep as julle opreg is

    Verse 41

    Nee, Hom alleen sal julle aanroep; dan verwyder Hy dít waarvoor julle Hom aangeroep het, as Hy wil, en julle sal jul heidense geloof vergeet

    Verse 42

    En Ons het waarlik boodskappers tot die volkere vóór u gestuur; daarna het Ons hulle met ellende en kwellings getref, sodat hulle hulself kan verootmoedig

    Verse 43

    Tog, waarom het hulle nie, toe Ons straf oor hulle gekom het, hulself verootmoedig nie? Maar hulle harte was verhard en die duiwel het alles wat hulle gedoen het, mooi laat skyn

    Verse 44

    Toe hulle dan die waarskuwings verontagsaam het, het Ons die poorte van alle dinge in die wêreld vir hulle oopgestel, totdat hulle hul verheug het in dít wat aan hulle gegee is. Toe het Ons hulle eensklaps gegryp; en kyk! hulle was uiters wanhopig

    Verse 45

    So is die lewensare van die volk wat boos gehandel het, afgesny. En alle lof kom Allah toe, die Heer van die Wêrelde

    Verse 46

    Sê: Wat dink julle? As Allah julle jul gehoor en gesig sou ontneem en julle harte verseël, wie is dan die God buiten Allah, en wie sal dit aan julle kan teruggee? Kyk net hoe Ons die tekens verklaar; tog draai hulle weg daarvan

    Verse 47

    Sê: Kyk! As die straf van Allah onverwags of openlik oor julle sou kom, sal iemand anders as die onregverdige volk vernietig word

    Verse 48

    Ons het die boodskappers slegs as draers van blye tyding en as waarskuwers gestuur; en wie glo en reg handel, oor hulle sal geen vrees kom nie, ook sal hulle nie treur nie

    Verse 49

    En aangaande hulle wat Ons tekens verwerp, hulle sal gestraf word omdat hulle ongehoorsaam was

    Verse 50

    Sê: Ek sê nie aan julle dat ek die skatte van Allah besit nie, of dat ek die onsigbare ken nie, of dat ek ’n engel is nie; ek volg slegs wat aan my geopenbaar is. Sê: Kan die blinde en die die persoon met gesig eenders wees? Sal julle dan nie nadink nie

    Verse 51

    Waarsku diegene wat vrees, dat hulle tot hul Heer bymekaar gebring sal word, en dat hulle buiten Hom nóg ’n beskermer nóg ’n bemiddelaar het, sodat hulle Allah mag vrees

    Verse 52

    En hulle wat hul Heer soggens en saans aanroep en na Sy welbehae handel, moet hulle nie verdryf nie. U het geen verantwoordelikheid teenoor hulle nie, en hulle is geensins verantwoordelik teenoor u nie; en as u hulle sou verdryf, sal u soos die onregverdiges wees

    Verse 53

    En op hierdie wyse beproef Ons sommige van hulle deur andere, sodat hulle kan sê: Is dit húlle vir wie Allah begunstig het? Weet Allah dan nie die beste wie dankbaar is nie

    Verse 54

    Wanneer hulle wat in Ons tekens glo na u kom, sê dan: Vrede vir julle. Julle Heer het barmhartigheid vir Homself verorden; as enigeen van u dan in onwetendheid kwaad doen en daarná berou het en hom verbeter, dan is Hy Vergewensgesind, Genadevol

    Verse 55

    En op hierdie wyse verduidelik Ons die tekens sodat die weë van die skuldiges geopenbaar kan word

    Verse 56

    Sê: Dit is vir my verbode om diegene wat julle buiten Allah aanroep, te aanbid. Sê: Ek volg nie julle slegte neigings nie, want dan sou ek inderdaad afdwaal en nie wees van diegene wat die regte pad volg nie

    Verse 57

    Sê: Sekerlik wandel ek op die weg van my Heer, en julle verloën dit. Ek besit nie dít wat julle wil verhaas nie. Die beslissing berus slegs by Allah. Hy openbaar die waarheid en Hy is die Beste beoordelaar

    Verse 58

    Sê: As dít wat julle wou verhaas, in my besit was, sou die saak tussen julle en my sekerlik beslis gewees het. En Allah ken die onregverdiges die beste

    Verse 59

    En by Hom is die sleutels tot die Onsigbare ~ en niemand ken dit nie behalwe Hy. En Hy weet wat op die land en in die see is. En daar is nie ’n blaar wat val nie, of Hy weet daarvan, ook is daar nie ’n graankorrel in die duisternis van die aarde, of iets vars of droog, sonder dat dit in ’n duidelike boek vemeld is nie

    Verse 60

    En dit is Hy wat julle siel in die nag neem, en Hy weet wat julle bedags doen; daarna wek Hy julle weer op, sodat die vasgestelde termyn voltooi kan word. Daarna kon julle terugkeer tot Hom, en dan sal Hy julle inlig oor wat julle gedoen het

    Verse 61

    En Hy is Oppermagtig oor Sy dienaars, en Hy stuur bewakers oor u, totdat, wanneer die dood een van julle besoek, Ons boodskappers sy siel wegneem. En hulle faal nooit daarin nie

    Verse 62

    Dan word hulle na Allah, hulle Meester, die Waaragtige, terug- gestuur. Waarlik, die beslissing is Syne en Hy is vlugtig in die vereffening

    Verse 63

    Sê: Wie is dit wat julle van die rampe van die land en die see verlos wanneer julle Hom in nederigheid en in die geheim aanroep? Terwyl julle sê: As Hy ons hiervan red, sal ons sekerlik dankbaar wees

    Verse 64

    Sê: Allah verlos julle van hierdie en enige ander nood, tog vereenselwig julle andere met Hom

    Verse 65

    Sê: Hy het die mag om straf na julle toe te stuur, van bo julle of van onder julle voete, of om in groepe te verdeel en sommige van julle die geweld van ander te laat smaak. Kyk net hoe Ons die tekens herhaal sodat hulle kan verstaan

    Verse 66

    En u volk verloën dit, en tog is dit die waarheid. Sê: Ek is nie aangestel om julle op te pas nie

    Verse 67

    Vir elke profesie is daar ’n vasgestelde tyd, en julle sal dit weldra te wete kom

    Verse 68

    En wanneer u húlle teenkom wat Ons tekens bespot, keer die rug op hulle, totdat hulle die gesprek verander. En as die duiwel u laat vergeet, vertoef dan nie nadat dit u bygeval het nie

    Verse 69

    En diegene wat God vrees, is geensins verantwoordelik vir hulle nie, maar dit is alleen hul plig om te vermaan, sodat sulke gesprekke voorkóm kan word

    Verse 70

    En laat diegene met rus wat hulle godsdiens vir ’n speletjie en ydele sport neem, en vir wie die lewe van hierdie wêreld bedrog is, en waarsku die mense hiermee sodat ’n siel nie vernietig sal word omdat hy dit verdien het nie. En hy sal, buiten Allah, nóg vriend nóg bemiddelaar hê, en al sou hy alles as losprys aanbied, sou dit nie aanvaar word nie. Dit is húlle wat vernietig sal word omdat hulle dit verdien het. Vir hulle wag daar ’n drank van kokende water en ’n smartlike straf, omdat hulle ongelowig was

    Verse 71

    Sê: Sal ons, buiten Allah, húlle aanroep wat ons nóg kan bevoordeel nóg kan benadeel, en sal ons op die plek omdraai nadat Allah ons reg gelei het, soos iemand wat weens die inblasing van duiwels sy slegte neigings gehoorsaam en verbys- terd op die aarde dwaal terwyl hy metgeselle het wat hom tot die regte pad roep en sê: Kom na ons? Sê: Sekerlik, die leiding van Allah, dít is die ware leiding. En ons word beveel om ons aan die Heer van die Wêrelde te onderwerp

    Verse 72

    En: Onderhou die gebed, en vrees Hom tot wie julle teruggebring sal word

    Verse 73

    En dit is Hy wat die hemele en die aarde geskape het. En wanneer Hy sê: Wees, dan ís dit.Sý woord is die waarheid en Syne is die koninkryk op die Dag wanneer die trompet geblaas sal word. Die Kenner van die onsigbare en die sigbare; en Hy is die Allerwyse, en Hy is die Allerbewuste

    Verse 74

    En toe Abraham aan sy vader, Azar, gesê het: Aanbid u tog nie afgode nie? Waarlik, ek merk dat u en u volk dwaal

    Verse 75

    En Ons het aan Abraham die koninkryk van die hemele en die aarde getoon, sodat hy sekerheid kon hê

    Verse 76

    En toe nag hom oorval het, het hy ’n ster gesien. Hy het gesê: Is dít my Heer? Maar toe dit ondergaan, het hy gesê: Ek het die dinge wat ondergaan nie lief nie

    Verse 77

    En toe hy die maan sien opstyg, het hy gesê: Is dít my Heer? Maar toe dit ondergaan, het hy gesê: As my Heer my nie reg gelei het nie, sou ek gewis een van die dwalendes gewees het

    Verse 78

    En toe hy die son sien opkom, het hy gesê: Is dít my Heer? Is dít die grootste? Maar toe dit sak, het hy gesê: O my volk! Ek is sekerlik onskuldig aan die afgode wat julle met Hom ver- eenselwig

    Verse 79

    Waarlik, ek het myself opreg tot Hom gewend, Hy wat die hemele en die aarde laat ontstaan het; en ek is nie een van die heidene nie

    Verse 80

    Ensyvolkhetmethomgeargumenteer. Hyhetgesê: Argumenteer julle met my omtrent Allah, terwyl Hy my reg gelei het? En ek vrees geensins dít wat julle met Hom vereenselwig nie, tensy dit my Heer behaag. My Heer omvat alle dinge in Sy kennis. Sal julle dan nie daaruit leer nie

    Verse 81

    En hoe kan julle afgode vrees, terwyl julle self nie bevrees is om afgode te aanbid terwyl Hy julle dit verbied het nie? Wie van ons word die beste beskerm? Sê, as julle dit weet

    Verse 82

    Hulle wat glo en die geloof nie met onregverdigheid vermeng nie ~ hulle sal in vrede en geregtigheid gelei word

    Verse 83

    En dít was Ons bewyse wat Ons aan Abraham gegee het om teen sy volk te gebruik. Ons verhef in grade wie Ons wil. Waarlik, u Heer is Allerwys, Alleswetend

    Verse 84

    En Ons het hom Isak en Jakob gegee. Ons het hulle elkeen gelei, en Ons het Noag voorheen gelei, en ook sy afstammelinge: Dawid en Salomo en Job en Josef en Moses en Aäron. En so beloon Ons diegene wat aan ander goed doen

    Verse 85

    En Sagaria en Johannes en Jesus en Elias; elkeen van hulle het tot die opregtes behoort

    Verse 86

    En Ismael en Elisa en Jona en Lot; en elkeen van hulle het Ons bo die volkere verhef

    Verse 87

    En sommige van hulle vaders en hulle afstammelinge en hulle broers is deur Ons verkies, en Ons het hulle op die regte pad gelei

    Verse 88

    Dít is die leiding van Allah waarmee Hy wie Hy wil tussen Sy dienaars lei. En indien hulle iets anders naas Hom aanbid het, dan sou alles wat hulle gedoen het, tevergeefs gewees het

    Verse 89

    Aan hulle het Ons die Boek en heerskappy en die profesie gegee. Maar as hulle nie daarin glo nie, sal Ons dit inderdaad toevertrou aan ’n ander volk, wat nie ondankbaar sal wees nie

    Verse 90

    Dit is húlle vir wie Allah reg gelei het; volg dus hulle leiding. Sê: Ek vra julle geen beloning daarvoor nie. Dit is niks anders as ’n vermaning vir die volkere nie

    Verse 91

    En hulle eer Allah nie met die eer wat Hom toekom nie, wan- neer hulle sê: Allah het aan geen sterfling iets geopenbaar nie. Sê: Wie het die Boek geopenbaar wat Moses as ’n lig en ’n leiding vir die mense gebring het ~ wat julle op perkamente skryf en bekend maak, en tog veel daarvan verberg, en waardeur julle onderrig is in wat nóg julle nóg julle vaders geweet het? Sê: Allah. Laat hulle daarna met rus om hulself te vermaak met hulle ydele speletjies

    Verse 92

    En dit is ’n Geseënde Boek wat Ons geopenbaar het, wat bevestig wat daarvan voorafgegaan het, sodat u die moeder van stede1 en wat in haar omgewing is, kan waarsku. En hulle wat in die Hiernamaals glo, glo daarin, en hulle waak oor hulle gebede

    Verse 93

    En wie is onregverdiger as hy wat ’n leuen teen Allah versin, of sê: Openbaring is aan my veleen, terwyl niks aan hom geopenbaar is nie; en hy wat sê: Ek kan die gelyke openbaar van wat Allah geopenbaar het. En kon julle dit maar sien wanneer die kwaaddoeners in die doodstryd verkeer en die engele hulle hande uitstrek en sê: Gee julle siele oor! Dié dag sal die straf van skande aan julle toegeken word omdat julle ten onregte teen Allah gepraat het, en omdat julle Sy tekens geminag het

    Verse 94

    En julle het een vir een na Ons gekom soos Ons julle eer geskape het, en julle het agtergelaat wat Ons julle geskenk het. En Ons merk nie by julle die bemiddelaars van wie julle beweer het dat hulle deelgenote van Allah is om julle ontwil nie. Die bande tussen julle is nou afgesny, en dít waarop julle jul verlaat het, het julle mislukking gebring

    Verse 95

    Voorwaar, dit is Allah wat die graankorrel en die dadelpit laat ontkiem. Hy bring die lewende uit die dode voort en Hy is die Voortbringer van die dode uit die lewende. Dít is Allah. Waarom het julle dan weggedraai

    Verse 96

    Hy is die Heer van die Daeraad; en Hy het die nag gemaak vir rus en die son en die maan vir die berekening van tyd. Dít is die maatstaf van die Almagtige, die Alwetende

    Verse 97

    En dit is Hy wat die sterre vir julle gemaak het, sodat julle daardeur die regte weg in die duister van die land en die see mag volg. Waarlik, Ons het die tekens verduidelik vir ’n volk wat weet

    Verse 98

    En dit is Hy wat julle uit ’n enkele siel geskape het, en daar is vir julle ’n rusplek en ’n bewaarplek. Inderdaad het Ons die tekens verduidelik vir ’n volk wat verstaan

    Verse 99

    En dit is Hy wat die water uit die wolke afstuur en daardeur die plante laat ontkiem. En Ons bring groen lower en gerwe graan voort; en aangaande die dadelpalm, uit die skede daarvan kom laaghangende trosse dadels voort; en Ons skenk ook wingerde en laat die olyf- en die granaatbome dra. Kyk na die vrugte daarvan wanneer dit ryp word. Hierin is sekerlik tekens vir ’n volk wat glo

    Verse 100

    En hulle beskou die djien as deelgenote van Allah, ofskoon Hy hulle geskape het, en valslik skryf hulle dogters en seuns aan Hom toe sonder dat hulle behoorlik ingelig is. Heilig is Hy! En hoog verhewe is Hy bo dít wat hulle aan Hom toeskryf

    Verse 101

    Wonderlike Ontwerper van die hemele en die aarde! Hoe kan Hy ’n seun hê wanneer Hy geen gemalin het nie? En Hy het alles geskape, en Hy is die Kenner van alle dinge

    Verse 102

    So is Allah, julle Heer. Daar is geen God behalwe Hy nie, die Skepper van alle dinge. Daarom moet julle Hom dien, want Hy bestier alles

    Verse 103

    Die oog bereik Hom nie; maar Hy bereik die oë, en Hy is Sagmoedig, Allerbewus

    Verse 104

    Duidelike bewyse het inderdaad van julle Heer tot julle gekom; wie dus sien, dit is tot sy eie voordeel; en wie blind is, dit is tot sy eie nadeel. En ek2 is nie ’n bewaker oor julle nie

    Verse 105

    Daarom herhaal Ons die verse dat hulle sou sê: U het dit bestudeer; en sodat Ons dit kan verduidelik aan ’n volk wat kennis het

    Verse 106

    Volg dít wat u Heer aan u geopenbaar het ~ daar is geen God behalwe Hy nie; en draai weg van die heidene af

    Verse 107

    En indien dit Allah behaag het, sou hulle nie ander gode naas Hom gestel het nie. En Ons het u nie as bewaker oor hulle aangestel nie, en ook nie as voog oor hulle geplaas nie

    Verse 108

    En beledig nie diegene wat hulle, buiten Allah, aanroep nie, anders, as u die perke oorskry, mag hulle deur onwetendheid Allah beledig. En Ons het vir elke volk hulle dade mooi laat lyk. En hulle sal tot hulle Heer terugkeer, en Hy sal hulle inlig oor wat hulle gedoen het

    Verse 109

    En hulle sweer hulle sterkste eed by Allah, dat as ’n teken tot hulle kom, hulle sekerlik daarin sal glo. Sê: Tekens is van Allah. Maar wat sal julle laat besef dat hulle, as die tekens kom, nie sou glo nie

    Verse 110

    En Ons verander hulle harte en hulle oë, net soos toe hulle die eerste maal nie daarin geglo het nie; en Ons laat hulle blindelings in hulle oortredinge dwaal

    Verse 111

    En selfs al sou Ons die engele na hulle afstuur, en die dooies met hulle laat praat, en alle dinge voor hulle bymekaarbring, sou hulle nog nie glo nie, tensy dit Allah behaag. Maar die meeste van hulle is onkundig

    Verse 112

    En so het Ons vir elke profeet ’n vyand gemaak, die duiwels tussen die mens en die djien, die een met bemoediging, die ander met vergulde woorde van bedrog. En indien u Heer wou, sou hulle dit nie gedoen het nie; laat hulle dus met rus met wat hulle versin

    Verse 113

    sodat die harte van hulle wat nie in die Hiernamaals glo nie, hulle daarnatoe kan neig, en dat hulle daarmee tevrede mag wees, en dat hulle kan verdien wat hulle toekom

    Verse 114

    Sal ek dan iemand anders as regter buiten Allah soek, terwyl dit Hy is wat die Boek, ’n volledige verklaring, vir julle gestuur het? En hulle aan wie Ons die Boek gegee het, weet dat dit van u Heer kom; wees u dan nie ook een van die twyfelaars nie

    Verse 115

    En die woord van u Heer is met waarheid en regverdigheid voltooi. Niemand kan Sy woorde verander nie; en Hy is die Allerhorende, die Alleswetende

    Verse 116

    En indien u die meerderheid van hulle wat op die aarde is, gehoorsaam, sal hulle u van die weg van Allah laat afdwaal. En hulle volg niks anders as ’n vergissing nie, en hulle lieg net

    Verse 117

    Waarlik, u Heer weet wie van Sy weg afdwaal, en Hy weet wie deur die waarheid gelei word

    Verse 118

    Eet daarom van dít waaroor die Naam van Allah uitgespreek is, as julle in Sy tekens glo

    Verse 119

    En watter rede het julle om nie te eet van dít waaroor die Naam van Allah uitgespreek is nie, terwyl Hy reeds uitgelê het wat Hy julle verbied het ~ met uitsondering van dít waartoe julle gedwonge is? En sekerlik, vele mislei andere deur hulle slegte neigings en onkunde

    Verse 120

    En vermy openlike en geheime sondes. Gewis, hulle wat sondig, sal bestraf word met wat hulle verdien het

    Verse 121

    En eet nie iets waaroor die Naam van Allah nie uitgespreek is nie, want dit is sekerlik ’n oortreding. En die duiwels moedig hulle vriende aan om met julle te argumenteer; en as julle hulle gehoorsaam, sal julle gewis van die heidene wees

    Verse 122

    Kan iemand wat dood was, maar aan wie Ons weer die lewe geskenk het en vir hom ’n lig gemaak het waardeur hy onder die volk wandel, op gelyke voet gestel word met iemand wat in duisternis verkeer waaruit hy nie kan wegkom nie? So word hulle doen en late vir die ongelowiges aantreklik gemaak

    Verse 123

    En in elke stad het Ons belhamels tussen die skuldiges opgestel, sodat hulle planne kan beraam. Maar hulle beraam slegs teen hulself, maar hulle besef dit nie

    Verse 124

    En wanneer daar ’n teken na hulle kom, sê hulle: Ons sal nie daarin glo voordat ook aan ons gegee is wat aan die boodskappers van Allah gegee is nie. Allah weet waarheen om Sy Boodskap te stuur. Vernedering van Allah en ’n streng straf sal die skuldiges gewis tref, vanweë dít wat hulle beraam het

    Verse 125

    Vir wie Allah ook wil lei, Hy verruim vir hom sy boesem ten gunste van Islam, en wie Hy wil laat dwaal, sy boesem maak Hy dig, soos dié van iemand wat opstyg. So lê Allah onreinheid op hulle wat nie glo nie

    Verse 126

    En dít is die pad van u Heer, die regte pad. Voorwaar, Ons het die tekens verduidelik vir ’n volk wat daaruit wil leer

    Verse 127

    Vir hulle is die Huis van Vrede by hul Heer, en Hy is hulle Vriend omdat hulle werke welgevallig is

    Verse 128

    En op die Dag waarop Hy hulle almal bymekaar sal bring, sal Hy sê: O gemeenskap van Djien! Julle het ’n groot aantal mense tot julle getrek. En hulle vriende tussen die mense sal sê: Ons Heer! Ons het uit mekaar wins gemaak, maar nou het ons die einde van die tydperk bereik wat U vir ons vasgestel het. Hy sal sê: Die Vuur is julle tuiste; daarin sal julle bly, behalwe waar dit Allah anders mag behaag. Waarlik, julle Heer is Allerwys, Alleswetend

    Verse 129

    En op dieselfde wyse maak Ons sommige van die onregverdiges tot vriende van ander, omdat hulle dit verdien

    Verse 130

    O gemeenskap van Djien en mense! Het daar nie boodskappers uit julle midde tot julle gekom wat My tekens aan julle oorgedra het, en julle téén die ontmoeting van hierdie Dag van julle gewaarsku het nie? Hulle sal sê: Ons getuig teen onsself. En die lewe van hierdie wêreld het hulle bedrieg en hulle sal teen hulself getuig dat hulle ongelowiges was

    Verse 131

    Dit is omdat u Heer nooit die stede onregverdiglik wou vernietig, terwyl hulle bewoners nog onbewus van hulle sonde is nie

    Verse 132

    En daar is vir almal grade ooreenkomstig hulle doen en late. En u Heer is nie onbewus van hulle dade nie

    Verse 133

    En u Heer is die Selfgenoegsame, die Heer van Barmhartigheid. En as Hy wil, kan Hy julle wegneem en julle laat opvolg deur wie Hy wil, net soos Hy julle uit die nageslag van ander laat ontstaan het

    Verse 134

    Dit wat julle belowe is, sal sekerlik geskied, en julle sal dit nie kan verhoed nie

    Verse 135

    Sê: O my volk! Handel volgens julle vermoë; ek handel ook. Julle sal weldra weet vir wie die uiteindelike beloning van die Tuiste sal wees. Waarlik, die onregverdiges slaag nooit nie

    Verse 136

    En hulle sit ’n deel opsy vir Allah van wat Hy voortgebring het uit die gesaaides en grootvee, en sê: Dít is vir Allah ~ so beweer hulle ~ en dít is vir ons afgode. Maar dít wat vir hulle afgode is, bereik Allah nie, en dít wat vir Allah is, bereik hulle afgode. Boos is die dinge wat hulle doen

    Verse 137

    En op dié manier het hulle afgode vir baie van die heidene die doodmaak van hulle kinders aantreklik gemaak, sodat hulle hul verderf kan veroorsaak en hul godsdiens vir hulle in die war kan stuur. En as Allah dit wou, sou hulle dit nie gedoen het nie; laat hulle dus met rus met wat hulle versin

    Verse 138

    En hulle sê: Hierdie en daardie grootvee en gesaaides is verbode; niemand sal daarvan eet nie, behalwe diegene wat deur ons toegelaat word ~ so beweer hulle ~ en grootvee waarvan die rûe verbode is, en grootvee waaroor hulle nie die naam van Allah wou uitspreek nie. En hulle versin ’n leuen teen Hom. Hy sal hulle vergeld vir wat hulle versin

    Verse 139

    En hulle sê: Dít wat in die baarmoeders van hierdie en daardie grootvee is, is uitsluitlik vir ons mans en is vir ons vroue verbode, maar as dit dood gebore word, is hulle deelgenote daarin. Hy sal hulle vir hulle valse beweringe vergeld. Voorwaar, Hy is Allerwys, Alleswetend

    Verse 140

    Húlle is die verloorders wat hulle kinders in onkundigheid en onwetendheid vermoor, en die dinge verbied waarvan Allah die mens voorsien, en ’n leuen teen Allah versin. Hulle is inderdaad verdwaald en word nie reg gelei nie

    Verse 141

    En dit is Hy wat tuine met priële of sonder priële laat ontstaan, en dadelpalms en graan waarvan die korrels verskillend is, en olywe en granate van gelyke en ongelyke soorte. Eet die vrugte daarvan wanneer dit ryp is, en betaal die prys daarvan op die dag van die oes, en verkwis dit nie. Voorwaar, Allah het die verkwisters nie lief nie

    Verse 142

    En van die grootvee het Hy sommige as slagvee geskape. Eet wat Allah julle gegee het, en volg nie in die voetstappe van die duiwel nie. Waarlik, hy is julle openlike vyand

    Verse 143

    Agt pare, ~ twee van die skape en twee van die bokke. Sê: Het Hy die twee manlikes of die twee vroulikes verbied, of dít wat die baarmoeders van die twee vroulikes bevat? Onderrig my met sekerheid, indien julle opreg is

    Verse 144

    En twee van die kamele en twee van die koeie. Sê: Het Hy die twee manlikes of die twee vroulikes verbied, of dít wat die baarmoeders van die twee vroulikes bevat? Of was julle getuies toe Allah julle dit opgelê het? Wie is dan onregverdiger as hy wat ’n leuen teen Allah versin omdat hy sonder kennis die mense verlei? Waarlik, Allah lei nie die onregverdige volk nie

    Verse 145

    Sê: Ek vind nie in dít wat aan my geopenbaar is enigiets wat verbode is om te eet nie, met die uitsondering van dooie diere of lopende bloed, of varkvleis ~ want dit is waarlik onrein ~ of dít wat sondig is omdat ’n ander naam as dié van Allah daaroor uitgeroep is. Maar wie deur noodsaak gedryf word en nie begeer om die perke te oorskry nie, hy sal u Heer gewis Vergewensgesind, Genadevol vind

    Verse 146

    En vir die Jode het Ons verbied: elke dier wat kloue het, en ook die vet van die osse en skape het Ons hulle verbied, behalwe wat hulle rûe of ingewande dra of wat met bene gemeng is. Dít was ’n straf wat Ons hulle opgelê het weens hulle opstandigheid, en Ons is sekerlik Opreg

    Verse 147

    Maar indien hulle u verloën, sê dan: Julle Heer is die Heer van alomvattende Barmhartigheid, en Sy straf sal van die skuldige volk nie weggehou word nie

    Verse 148

    Hulle wat heidene is, sê: As Allah dit wou, sou nóg ons nóg ons vaders iets anders naas Allah aanbid het, nóg sou ons enigiets onwettig verklaar het. Op dieselfde manier het diegene vóór hulle die waarheid verwerp, totdat hulle Ons straf gesmaak het. Sê: Het julle enige kennis sodat julle dit vir ons kan meedeel? Julle volg niks anders nie as vermoedens, en julle vertel net leuens

    Verse 149

    Sê: Dan is die afdoende bewys Allah s’n; as Hy dit wou, sou Hy julle almal reg gelei het

    Verse 150

    Sê: Bring julle getuies wat kan getuig dat Allah dit verbied het. Indien hulle getuig, getuig dan nie saam met hulle nie. En volg nie die slegte neigings van hulle wat Ons tekens verwerp, en nie in die Hiernamaals glo nie, en wat afgode naas hulle Heer aanbid

    Verse 151

    Sê: Kom, ek sal aan julle verkondig wat julle Heer julle verbied het: Vereenselwig niemand met Hom nie, en doen goed aan die ouers, en vermoor nie jul kinders vanweë jul armoede nie ~ Ons versorg julle en hulle ~ weerhou julle van openlike sowel as heimlike onbetaamlikhede, en maak niemand dood nie ~ want Allah heilig die lewe ~ behalwe geregtigheidsonthalwe. Dít is wat Hy julle gelas, sodat julle kan verstaan

    Verse 152

    En palm nie die eiendom van die weeskind in voordat hy mondig is nie, tensy dit op ’n billike wyse geskied. En gee die volle maat en die volle gewig met regverdigheid ~ Ons belas geen siel bo sy vermoë nie. En wees regverdig wanneer julle praat, selfs wanneer dit ’n bloedverwant betref. En vervul die verbond van Allah. Dít is wat Hy gelas, sodat julle oplettend kan wees

    Verse 153

    En weet dat dit My weg is ~ die regte weg; en volg dít, en volg nie ander weë nie, want hulle sal julle van My weg aflei. Hiertoe vermaan Hy julle sodat julle opreg en heilig mag wees

    Verse 154

    En Ons het die Boek aan Moses gegee om Ons seëninge aan hom wat goed doen te voltooi, ’n Boek wat alle dinge verduidelik en ’n leiding en ’n genade is, sodat hulle in die ontmoeting met hulle Heer kan glo

    Verse 155

    En dit is ’n Boek vol van seëninge wat Ons geopenbaar het; volg dit daarom en wees bewus van Allah, sodat genade aan julle betoon mag word

    Verse 156

    Sodat julle nie kan sê nie: Die Boek was alleen aan twee partye vóór ons tyd geopenbaar, en ons was heeltemal onbekend met wat hulle gelees het

    Verse 157

    Of ingeval julle sou sê: As die Boek aan ons geopenbaar was, sou ons beter as hulle gelei gewees het. So het daar inderdaad ’n duidelike bewys van julle Heer tot julle gekom, ’n leiding en ’n genade. Wie is dan onregverdiger as hy wat die tekens van Allah verwerp en hom daarvan wegdraai? Ons sal diegene wat Ons tekens verwerp, met ’n smartlike straf vergeld, omdat hulle afwysend was

    Verse 158

    Verwag hulle niks anders nie as dat die engele na hulle moet kom, of dat u Here na hulle moet kom, of dat u Heer tekens moet toon? Op die Dag wanneer daar tekens van u Heer sal verskyn, sal die geloof geen siel baat wat voorheen nie geglo het nie, ook sal hy niks goeds met sy skielike geloof kan verdien nie. Sê: Wag; ons wag ook

    Verse 159

    Hulle wat ’n skeiding in hul godsdiens teweegbring en hulself in sektes verdeel ~ u het niks met hulle te doen nie. Hulle saak berus slegs by Allah, Hy sal hulle inlig omtrent hulle dade

    Verse 160

    Wie ’n goeie daad verrig, sal tien maal soveel ontvang; maar wie ’n slegte daad verrig, sal alleen die gelyke vergelding daarvoor ontvang, en hulle sal geen onreg aangedoen word nie

    Verse 161

    Sê: Wat my betref, my Heer het my op die regte pad gelei ~ ’n regte geloof, die godsdiens van Abraham die opregte, en hy was nie van die heidene nie

    Verse 162

    Sê: My gebed en my offerhande en my lewe en my dood is sekerlik vir Allah, die Heer van die Wêrelde

    Verse 163

    Geen deelgenoot het Hy nie. En dít word ek beveel, en ek is die eerste om my onderdanig te stel

    Verse 164

    Sê: Sal ek ’n ander Heer as Allah soek, terwyl Hy die Heer van alle dinge is? En geen siel verdien iets kwaads of dit is teen homself; nóg dra ’n lasdraer die las van ander. Julle terugkeer sal tot jul Heer wees, en Hy sal julle meedeel waaroor julle getwis het

    Verse 165

    En dit is Hy wat julle erfgename van die land gemaak het, en Hy het sommige van julle in rang bo andere verhef sodat Hy julle kan beproef met dít wat Hy julle gegee het. Voorwaar, julle Heer is vlug in die straf, en waarlik Hy is Vergewensgesind, Genadevol