Dit is Allah wat die hemele sonder pilare laat verrys het sodat julle kan sien; en Hy is op die Troon van Mag gevestig. En Hy het die son en die maan vir julle in diens gestel; elkeen volg sy baan vir ’n vasgestelde tyd. Hy beheer alles en verduidelik die tekens sodat julle van ’n ontmoeting met jul Heer verseker kan wees
Dit is Hy wat die aarde oopsprei, wat magtige berge en riviere daaraan geskenk het. En van die vrugte daarvan het Hy pare gemaak, twee van elke soort. En Hy laat die nag die dag bedek. Waarlik, hierin is tekens vir ’n volk wat nadink
En op die aarde is daar streke wat aan mekaar grens, en tuine met wingerdstokke, en koring en dadelpalms, wat op een of baie wortels stoel ~ hulle word almal met dieselfde water besproei; en ons laat sommige vrugte daarvan uitmunt bo ander. Waarlik, ook daarin is ’n teken vir mense wat begryp
En as u u verwonder, verwonder u dan aan wat hulle sê: En wanneer ons stof is, sal ons weer in ’n nuwe skepping lewe? Dit is húlle wat nie in hul Heer glo nie, daarom sal hulle kettings om die nekke dra, en hulle sal die bewoners van die Vuur wees; daarin sal hul bly
En hulle vra dat u eerder tot die kwaad as tot die goeie moet aanspoor ~ as ’n voorbeeld is sulkes reeds voorheen gestraf. En voorwaar, u Heer is vol vegifnis vir die mensdom, ondanks hulle onregverdigheid. En waarlik, u Heer is Streng in die toekenning van straf
Vir hom is daar engele wat voor en agter hom waak oor die gevolge van sy dade; hulle waak oor hom deur die gebod van Allah. Voorwaar, Allah verander nie die toestand van ’n volk voordat hulle hul eie toestand verander nie. En wanneer Allah voornemens is om ’n volk te straf, kan niks dit wegkeer nie, nóg het hulle ’n helper buiten Hom
En die donder besing Sy lof, en die engele ook, uit vrees vir Hom. En Hy stuur die donderslae en tref daarmee wie Hy wil; nog steeds argumenteer hulle oor Allah, en Hy is Magtig, Dapper
En aan Hom kom die opregte gebede toe. En diegene wat hulle buiten Hom aanbid, verhoor hulle nie; hulle is soos iemand wat sy hande na water uitsteek wat sy mond nooit bereik nie. En die gebede van die ongelowiges is verspil
En alles wat in die hemele of op die aarde is, onderwerp hulle alleen aan Allah, hetsy gewillig of onwillig, en so ook hulle ska- duwees, soggens sowel as saans
Sê: Wie is die Heer van die hemele en die aarde? Sê: Allah. Sê: Neem julle dan buiten Hom bewakers wat vir julself geen voordeel of nadeel bewerk nie? Sê: Kan die blinde en die siende gelyk wees? Of kan die duisternis gelyk wees aan die lig? Of het hulle afgode naas Allah gestel wat ’n skepping gelyksoortig aan Syne geskape het, sodat wat hulle geskape het, hulle verwar het? Sê: Allah is die Skepper van alle dinge, en Hy is die Een, die Verhewene
Hy stuur water uit die wolke neer, sodat waterlope ooreen- komstig hul afmetings vloei en die vloed swellende skuim dra. En ook dít wat hulle in die vuur smelt om ornamente en oorlogstuig van te maak, bring ’n soortgelyke skuim voort. So vergelyk Allah die waarheid met die valsheid. Wat die skuim betref, dit gaan verby as waardeloos; en wat dít betref wat die mense tot nut strek, dit bly op die aarde agter. So verduidelik Allah Sy gelykenisse
Die goeie kom hulle toe wat aan hul Heer gehoor gee. Maar hulle wat nie na hul Heer luister nie, sal sekerlik ál hul besittings as ’n losprys wil aanbied, al besit hulle ook alles wat op aarde is, en nóg meer. Dit is húlle wat ’n afgryslike afrekening sal ontvang, en hulle tuiste is die Hel. En dit is ’n bose rusplek
en hulle wat standvastig is, en die guns van hul Heer soek, en die gebed onderhou, en van dít waarmee Ons hulle voorsien het heimlik en openlik skenk, en die kwaad met goed vergeld; vir hulle is die salige einde in ’n Tuiste
Tuine van Ewigheid, wat hulle sal binnegaan saam met diegene wat goeie dade verrig het: hulle vaders en hulle eggenote en hulle nageslagte; en engele sal van elke poort na hulle gaan
En hulle wat die verbond van Allah verbreek nadat dit bevestig was, en afsny wat Allah beveel het om verenig te wees, en wanorde op die aarde stig, die vloek sal hulle tref, en vir hulle is daar ’n ongelukkige blyplek
Allah vergroot en verminder die voorsiening vir wie Hy wil. En hulle verheug hul oor hierdie lewe, terwyl dit maar ’n kort- stondige vermaak is vergeleke met die Hiernamaals
En die ongelowiges sê: Waarom is geen teken van sy Heer aan hom gestuur nie? Sê: Allah laat dwaal wie Hy wil en lei tot Homself diegene wat hulle bekeer
En Ons het u na ’n volk gestuur waaraan talle nasies reeds voor- afgegaan het, sodat u aan hulle kan voorhou wat Ons openbaar; en tog verwerp hulle die barmhartiges. Sê: Hy is my Heer; daar is geen God buiten Hom nie; in Hom stel ek my vertroue en tot Hom is my terugkeer
En al was daar ’n Qur’ãn waarmee die berge verwyder of die aarde gekloof kon word, dan sou die saak nog by Allah alleen berus. Weet die ongelowiges dan nie dat as Allah dit wil, Hy die hele mensdom sal lei nie? En wat die ongelowiges betref, weens hul dade sal die ramp nie ophou om hulle te teister nie, en dit sal ná aan hulle drumpels wees totdat Allah se belofte vervul is. Voorwaar, Allah maak geen belofte wat Hy nie nakom nie
En voorwaar, boodskappers vóór u is ook bespot, maar Ek het aan die ongelowiges uitstel verleen, en daarna het Ek hulle oorweldig. Hoe vreeslik was My straf toe nie
Wie anders as Hy is dit wat aan elke siel toeken wat dit verdien het? En tog skryf hulle deelgenote aan Allah toe. Sê: Gee hulle name! Kan julle Hom iets vertel waarvan Hy nie weet nie? Of is julle gesprekke so sinloos dat dit aan Hom verduidelik moet word? Nee, maar die planne van die ongelowiges is vir hulle aanloklik gemaak, en van die ware weg word hulle teruggehou. En hy vir wie Allah laat dwaal, sal geen helper vind nie
Die Hemel, wat belowe word aan hulle wat bewus is van Allah, kan vergelyk word met ’n oord waardeur riviere vloei. Dit hou nooit op om vrugte voort te bring nie, en die oorvloed daarvan duur vir ewig; en die einde van die ongelowiges is die Vuur
En hulle aan wie Ons die Boek2 geskenk het, verheug hul in Ons openbaringe, maar sommige van hul bondgenote ontken ’n deel daarvan. Sê: Ek is beveel om Allah alleen te dien en niks met Hom te vereenselwig nie. Ek roep julle na Hom, en tot Hom is my terugkeer
En so het Ons dit geopenbaar, ’n ware oordeel, in Arabies. En as u, nadat u kennis ontvang het, hulle bose wense volg, sal u teen Allah geen bewaker of verdediger vind nie
En Ons het inderdaad boodskappers vóór u gestuur en aan hulle vroue en kinders gegee. En dit is vir ’n boodskapper nie moont- lik om ’n teken te bring nie, behalwe met die toestemming van Allah. Vir elke tydperk is daar ’n aanstelling
Sien hulle nie dat Ons die land besoek en die grense nouer maak nie? Allah besluit en niemand kan Sy besluit omverwerp nie. En Hy is vlugtig met die vergelding
En diegene vóór hulle het inderdaad komplotte gesmee, maar die goedkeuring van die komplotte berus by Allah. En die ongelowiges sal te wete kom vir wie die einde ’n goeie tuiste bied
En die ongelowiges sê: U is geen boodskapper nie. Sê: Allah is ’n voldoende getuie tussen my en julle; en wie ook al kennis het van die Boek, staan in vir die waarheid daarvan