Die hemele mag byna uitmekaarbars bo-oor hulle, maar die engele verheerlik die lof van hulle Heer en vra vergifnis vir diegene wat op die aarde is. Waarlik, Allah is die Vergewensgesinde, die Genadige
En Ons het ’n Arabiese Qur’ãn aan u geopenbaar, sodat u die Moeder van Stede3 en wie in haar omstreke is, kan waarsku, en verdere waarskuwings kan uitreik omtrent die Dag van Versameling waaroor daar geen twyfel kan wees nie. Sommige sal in die Paradys wees en sommige sal in die Brandende Vuur wees
En as Allah wou, kon Hy van hulle een enkele volk gemaak het, maar Hy laat in Sy barmhartigheid toe wie Hy wil. En die kwaaddoeners sal nóg beskermer nóg helper hê
En waaroor julle ook al mag verskil, die beslissing daarvan berus by Allah. Daarom is Allah my Heer; in Hom stel ek my vertroue, en tot Hom bekeer ek my
Die Skepper van die hemele en die aarde. Hy het julle in pare geskape, net soos Hy die vee ook in pare geskape het, en Hy laat julle daardeur vermenigvuldig. Niks is soos Hy nie; en hy is die Alleshorende, die Allessiende
Aan Hom behoort die skatte van die hemele en die aarde; ~ Hy vergroot en verkort die voorsiening in vir wie Hy wil. Voorwaar, Hy het kennis van alle dinge
Hy het aan julle die godsdiens verduidelik wat Hy Noag opgelê het, en wat Ons aan u geopenbaar het, en wat Ons Abraham en Moses en Jesus opgelê het ~ om die godsdiens in ere te hou en nie verdeeld daaroor te wees nie. Vir die heidene is dit ’n moeilike weg waarnatoe u hulle roep. Allah kies vir Hom wie Hy wil en lei tot Hom wie in berou na Hom kom
En hulle was nie verdeeld nie behalwe nadat die kennis tot hulle gekom het, en slegs deur selfsugtige afguns onder mekaar. En was dit nie dat ’n woord van u Heer dit voorafgegaan het vir ’n vasgestelde tyd nie, dan was die saak tussen hulle sekerlik al beslis. En diegene wat die Boek ná hulle geërf het, verkeer seker- lik in ’n verontrustende twyfel daaroor
Nooi hulle dan hiernatoe uit, en wees standvastig soos u beveel is en volg nie hulle slegte begeertes na nie, en sê: Ek glo in dit wat Allah in die Boek geopenbaar het, en ek is beveel om regverdig tussen julle te oordeel. Allah is ons Heer en julle Heer. Vir ons ons werke; en vir julle julle werke. Daar bestaan geen argument tussen ons en julle nie. Allah sal ons bymekaar versamel en tot Hom is die terugkeer
En hulle wat oor Allah argumenteer nadat hulle Hom onderdanig was, hulle smekinge dra by hulle Heer geen krag nie; daar is toorn oor hulle en daar sal ’n streng straf vir hulle wees
Diegene wat nie daarin glo nie wil dit verhaas, en die gelowiges vrees dit, en hulle weet dat dit die Waarheid is. Waarlik, diegene wat redekawel oor die Uur, het reeds ver afgedwaal
Wie die oes van die Hiernamaals begeer, sy oes sal Ons vir hom laat toeneem; maar hy wat na die oes van hierdie wêreld verlang, vir hom gee Ons daarvan; maar in die Hiernamaals sal hy geen aandeel hê nie
Of het hulle dan afgode wat vir hulle ’n godsdiens voorgeskryf het waartoe Allah geen toestemming verleen het nie? En was dit nie dat die woord van oordeel reeds uitgevaardig is nie, dan sou daar sekerlik nou tussen hulle geoordeel word. En vir die kwaaddoeners is daar gewis ’n pynlike straf
U sal die onregverdiges sien vrees as gevolg van wat hulle verdien het, en dit sal hulle sekerlik tref. En hulle wat glo en goeddoen, sal in die Tuine van die Paradys wees. Hulle sal by hulle Heer vind alles wat hulle begeer . Dít is die groot goedertierenheid
Aangaande hierdie dinge bring Allah ’n blye tyding aan Sy dienaars wat glo en goeddoen. Sê: Ek vra julle geen beloning hiervoor nie, behalwe dat julle mekaar moet liefhê. En wie goeie dade doen, Ons sal dit vir hom laat toeneem. Waarlik, Allah is Vergewensgesind, Erkentlik
Of sê hulle: Hy het ’n leuen teen Allah versin? As Allah dit wou hê, kon Hy u hart teen hulle verseël het. En Allah wis die valsheid uit en bevestig die waarheid met Sy woorde. Voorwaar, Hy weet wat in die harte van mense is
En as Allah die voorsiening vir Sy dienaars vergroot het, sou hulle sekerlik op aarde in opstand gekom het; maar Hy stuur dit af met mate soos Hy dit goedvind. Waarlik, Hy is die Allerbewuste, die Siener van Sy dienaars
Een van Sy tekens is die skepping van die hemele en die aarde, en die lewende wesens wat Hy in hulle albei geplaas het. En Hy is Magtig genoeg om hulle bymekaar te versamel wanneer Hy wil
Wat aan julle gegee is, is slegs ’n voorsiening vir die lewe van hierdie wêreld, en wat by Allah is, is beter en van langer duur vir diegene wat glo en hulle vertroue in hul Heer stel
en diegene wat na hulle Heer luister en die gebed onderhou, en wie se sake deur wedersydse beraadslaging beslis word, en wat bestee van wat Ons aan hulle gegee het
En die kwaad sal met die gelyke daarvan vergeld word, maar wie vergewe en versoening begeer, sy beloning is by Allah. Voorwaar Hy het die kwaaddoeners nie lief nie
Hy vir wie Allah laat dwaal, sal geen beskermer hê buiten Hom nie. En u sal die kwaaddoeners sien wanneer hulle die straf aanskou, en wanneer hulle sal sê: Is daar dan geen uitkoms nie
En u sal hulle sien as hulle na die Vuur gebring word: veroot- moedig omdat hulle verneder is, terwyl hulle oë neergeslaan is. En die gelowiges sal sê: Die verloorders is húlle wat hul persoon en hul volgelinge op die Opstandingsdag sal verlooor. Kyk! die kwaaddoeners sal ’n blywende straf ontvang
Luister na julle Heer voordat die Dag van Allah kom wat niemand kan afweer nie. Julle sal geen toevlug op daardie Dag hê nie, nóg enige kans om te ontken
Maar as hulle weg draai, dan het Ons u nie as oppasser oor hulle aangestel nie. U plig is slegs om die boodskap af te lewer. En waarlik, wanneer Ons die mens Ons barmhartigheid laat smaak, dan verheug hy hom daarin; maar indien ’n kwaad hulle tref as gevolg van wat hulle eie hande vooruitgestuur het, dan is die mens waarlik ondankbaar
Dit is nie aan die mens toegestaan dat Allah met hom sal praat nie, behalwe deur openbaringe, of van agter ’n sluier, of deur ’n boodskapper te stuur om deur Sy gebod te openbaar wat Hy wil. Voorwaar, Hy is Verhewe, die Allerwyse
En Ons het aan u deur Ons gebod ’n besielende Boek geopenbaar. U het nie geweet wat die Boek was, of wat geloof was nie, maar Ons het dit tot ’n lig gemaak waardeur Ons leiding verleen aan diegene van Ons dienaars soos Ons wil. En voorwaar u lei na die regte pad